Oom Herrie se kerrie: Was rofstoei ’n klug?

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Met die pas-afgelope Engelse Bloem Show moes die Herrie’s op pad na ons diensbeurte by ’n ou bekende baken verbystap, die bekende Bulsaal. Ook die saal het nou net ’n fênsie Engelse naam, maar dit kon nie die nostalgie oor rofstoei verdryf nie.

Hier het bekende name hul ding kom doen – Jan Wilkens, Percy Hall, Vrystaat van die Transvaal, Kalahari en vele meer. Hier is Amerikaners, Duitsers, Kanadese en ander wat heelwat groter as ons manne was, op hul baadjie gegee. Ja, dit het nogal lyf gekos om groter as Jan Wilkens te wees, want hy het die skaal net onder die destydse driehonderd pond getrek, sonder ’n onsie vet daarby.

So interessant soos die stoei kon wees, dit was gewoonlik nog interessanter om na die toeskouers te kyk. Wie sal die gesig ooit vergeet – ma met die baba in die een arm, en sigaret in die ander, wat luidrugtig skree: “D*nder hom Jan, bl*ksem hom Jan!”

Pa Jan het net gelag oor die jonge Herrie se verknogtheid aan rofstoei. Hy het dit vertoonstoei genoem.

Maar, so verseker die aanhangers van ’n tyd toe die spulletjie nog meer professioneel was, in die dae van legendes soos Johannes van der Walt (wat die volstruisskop die lig laat sien het) en Manie Maritz was dit ernstige sake. Maar nie almal het destyds toe ook so gereken nie.

Pa Jan het, as oom Herrie reg onthou, vertel van ’n geleentheid toe Manie Maritz in Mosselbaai gaan stoei het. Die toustanery vir kaartjies was dikwels amper erger as die stoei wat sou volg. ’n Wysneus in die tou vertel toe vir almal wat wou hoor en nie wou hoor nie die stoei is net ’n klug. Ongelukkig is Manie Maritz, op pad na die kleedkamer, een van die wat hom hoor.

Pa Jan het vertel dat na Manie sy teenstander die derde keer op die grootbek se skoot gegooi het, het hy hinkende na ’n sitplek agtertoe verkas.

Verslaggewers by die perstafel teen die toue het dit ook soms ontgeld, want dit was of die stoeiers ekstra behae daarin geskep het om hul teenstanders op dié tafel te smyt. Goed soos brille en kameras het in die slag gebly tot ’n verslaggewer wat sy bril kwyt was, met ’n volgende geleentheid ’n klomp skerpgemaakte potlode in ’n glas voor sy skryfgoed gesit het. Die uitsmytery het toe oral behalwe die perstafel plaasgevind.

Teen die tyd wat oom Herrie ’n verslaggewertjie (van byna 90 Kg) geword het, was rofstoei lank nie meer as sport gereken nie. Oom Herrie het wel met die hulp van die jarelange promotor, Willie Grové, ’n lekker nostalgiese storie oor rofstoei geskryf na die sportsoort sy laaste asem uitgeblaas het. Vir dit wat nou so gewild in die VSA is, die dabbeljoe, dabbeljoe-goed, had oom Willie net geen trek nie.

Maar oom Herrie was darem by geleentheid as verslaggewer teen die arena – die sirkusarena. Twee hansworse bemors mekaar vreeslik met water. Skielik vererg die een hom vreeslik vir die ander, wat sien h.k.g.k. (Hier kom groot kommer). Die kwaai hanswors gryp ’n vol emmer, die benoude een hol reg op oom Herrie af. By die krytrand, swenk hy soos oom Herrie lanklaas ’n senter op die rugbyveld ’n aftrap sien doen het. Die kwaai hanswors was egter reeds besig om die emmer om te keer, en die hele spul is oor oom Herrie. Oom Herrie ruk agtertoe in die stoel, en begin al opstaan om daai hanswors te gaan afransel, en toe tref die papiersnipsels hom. En daar staan die twee hansworse langs mekaar en lag te lekker vir oom Herrie, g’n niks meer kwaad vir mekaar nie.

Maar as oom Herrie Jan Wilkens se broer was, het dit daai twee hansworse ’n week lank geneem om hulle uit die knoop te ontrafel waarin hulle opgefrommel sou wees. Dié broer is by geleentheid by ’n padblokkade in die destydse Bophuthatswana voorgekeer. Die soldate is al te nukkerig vir hul eie welstand, en nie lank nie is daar ʼn internasionale insident met een man wat ’n hele weermageenheid op hul baadjie gegee het. Na bewering.

En hy het nie eens gerofstoei nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.