Oom Herrie se kerrie: Wat is ’n moeder nie alles nie?

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Sondagoggend, Moedersdag, meen oom Herrie dit sal baie gepas wees om vroulief met die Orde van Florence Nightingale te vereer. Nie alleen neem mev. Herrie een tot twee keer per dag oom Herrie se bloeddruk nie, maar sy dokter sulke periodieke swere wat met oom Herrie se verswakte gestel verband hou. Oom Herrie gebruik al jare lank bloeddrukmedikasie, maar sedert die bestraling bly die bloeddruk nog te laag om weer pille te begin gebruik.

Ons verneem daar is gevalle waar mense nooit weer hoëbloeddrukpille ná bestraling hoef te gebruik het nie.

Ja, vroulief verdien die Orde van Florence Nightingale ten volle.

Maar, besef oom Herrie, dit gaan ’n dik pak ordes wees as alles waarvoor vroulief ordes verdien, as sertifikate gedruk word.

Vroulief is ’n sakevrou wat nie net haar eie onderneming bedryf nie, maar ook soggens vroeg die Maroela Media-nuuskommentaar wat oom Herrie skryf, proeflees, en Vrydagoggende ook die nuuskommentaar vir ’n radiostasie. Mev. Herrie hanteer al oom Herrie se fakture.

Mev. Herrie is ook die moeder van ’n 23-jarige outistiese jong man met kunstalent. Dis ’n aanryery na klasse en ook judoklasse. Sy hanteer ook die boeke van ons jongste se trust.

Wanneer enigsins moontlik, is vroulief ook by wanneer oom Herrie die spesialiteite, soos ouma altoos gesê het, moet gaan spreek. Wanneer moontlik, tree vroulief ook as chauffeur op as oom Herrie se bene nie eintlik wil saamwerk nie. Voor oom Herrie siek geword het, het oom Herrie gewoonlik vir aandetes gesorg. Nou is dit al ’n hele ruk dat mev. Herrie dit noodgedwonge moes oorneem. Die gehalte van die aandetes het drasties verbeter sedert die sjefs gewissel is.

Enige tyd ná twaalf die middag sal Wolf met wolwegeluide begin beduie hy (en Nala) is nou honger. Waarskynlik het lus ook baie daarmee te make, want mev. Herrie sorg altoos vir ’n sousie, of selfs niertjies en hoederpensies, saam met die blokkies. Te lekker (vir die honde).

En glo dit as julle wil of nie, mev. Herrie is nog die skouer waarop ’n hele aantal mense hul omstandighede kom uitween – pragtige Christenmense vir wie die wiel nog nie wou draai nie.

Vroulief is die mees ongelooflike geskenk van die Here, tesame met twee seuns met die mooiste geaardhede.

Dis so heerlik om vroulief vrolik te hoor lag – iets wat gelukkig baie gebeur.

Natuurlik dink oom Herrie ook aan sy eie moeder, wat al jare met demensie in ’n rolstoel gekluister in ’n inrigting in Hermanus sit. Soms weet sy nog iets wat aangaan, maar dikwels nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.