Oom Herrie se kerrie: Ween oor ‘Cophsees’

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Voor daar ’n misverstand kom, laat oom Herrie dadelik sê hy het niks teen Engels nie. Om die waarheid te sê, oom Herrie ken die verskil tussen “yes” en “not yes”.

Trouens, oom Herrie dink sy Engels is dalk beter as ’n hele lot van dié Afrikaanssprekendes wat nou gestem het om Kovsies te verengels. Af en toe moet die oom egter iets opkyk, soos toe sy Amerikaanse stiefsus laat weet het haar kankerbiopsies was “benign”. Dit blyk toe “goedgeaard” te wees.

Wat oom Herrie se deksel is oor die besluit by sy gewese alma mater is dat, soos dit was, enige student sy hele studie in Engels kon aflê. Die besluit is dus polities van aard, fienies en klaar. Nie ’n “benign”-besluit nie.

Ja, oom Herrie neem kennis van die wolle van “meertalige omgewing” wat getrek word, maar die angel lê in die dikskrif

Presies hoe slim dit was om oudstudente met aftrekorders die harnas in te jaag weet oom Herrie nie, veral nie noudat dit ’n gawe plan is om aftrekorders vir Solidariteit se private Afrikaanse universiteit, Akademia, uit te maak nie.

Oom Herrie sê mos gereeld dit het eers betaal om Afrikaans te wees, nou betaal jy om elke hoek en draai om Afrikaans te wees.

Hoede af vir Maties se raad wat gewys het hulle hét nog die woema, integriteit, kennis van die Grondwet, gesonde verstand, woema, durf en dikvelligheid om die eietydse Wênderbaails se tjank af te trap. En kan dié lotjie vir jou tjank! Hulle kort net ’n dirigent, dan kan hulle noot insit vir die tweede bedryf van die Weense koor uit Traneboom van Smartena.

Maar nou is dit oom Herrie se beurt om te ween. Ai, maar daar was goeie tye, soos om ’n dosent, nou reeds saliger, se siel te versondig deur die destydse fiktiewe karakter, Sorsie, ook op die presensielys in te teken. Nie dat Sorsie eintlik klas bygewoon het nie – volgens die verskonings waar sy handtekening moes kom, was hy onder meer afwesig weens babelas, verslaping, moeilikheid met die gereg en vele ander. Die dosent was so boos toe hy dit agterkom, hy het die hele reël op die presensielys met ’n inkuitveër uitgevee, maar die volgende klas was al die inskrywings terug.

Daar was hartseer ook. Soos toe oom Herrie moes swot toe die ander Potch toe ry vir die intervarsity, en oom Herrie by Karee se kamervenster uit sien hoe die blou Volla by die dameskoshuis langsaan intrek en twee dames oplaai. Onderweg Potch toe ry ’n dronk *&^% van voor af teen hulle vas, en stamp die petroltenk tussen die vier studente in. Hulle het al skreeuend doodgebrand, terwyl ander intervarsitygangers magteloos moes toekyk. Die polisie moes die woedende studente van die dronkie afhaal.

Maar eintlik bestaan daardie Kovsies al ’n hele ruk nie meer nie …

Pa Jan was stigtingsprofessor van Anatomie by die destydse nuwe mediese skool. Drie geslagte van oom Herrie se mense het grade by Kovsies gekry – ma Johanna ’n honneurs in Kunsgeskiedenis, oom Herrie twee grade en ’n sertifikaat (met lof) en die Herries se oudste, ’n landbougraad en ’n honneurs. Almal het begin onder In Deo Sapientiae Lux, maar oudste was nie gegun om sy studies daaronder te voltooi nie.

Maar daai Kovsies op die Bult bestaan nie meer nie, net “Cophsees over the hill”.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.