’n Mens verstom jou soms hoe gou ’n nuwe brakkie in die huis weet dat as ’n klokkie iewers in die huis lui, hy verwoed voordeur toe moet skannier want dis waar die klokkieluier is.
Nala het iets soortgelyks geleer. As die papier raas van die houer waarin ’n sekere kraakbeskuitjie kom, hardloop sy nie na die geluid toe nie maar reguit na oom Herrie toe. Want sy weet Mev. Herrie gaan dit tussen die gesinslede (hond en wolf uitgesluit) verdeel en oom Herrie is die mededeelsaamste. Wolf het geen erg aan daai beskuitjies nie, maar hy vrek darem oor tannie Sonja se tuisgebakte beskuit. Hy moet gereeld daarmee van die voordeur weggelok word om gaste te kan laat inkom. Nie oor hy so kwaai is nie; hy is oorvriendelik en spring teen almal op, en Nala sit entoesiasties poot by.
Laat weet ’n goeie bakkiesbladvriend van die Kaap hy voer gereeld poue broodkrummels, maar soms het hy nie brood nie, dan voer hy hulle worsbroodjiekrummels. Hieroor is sy 11 jaar oue labrador baie ongelukkig, want dis eintlik sy lekkernye daai. Dan val hy saam met die poue in en wei onder die krummels.
Sy baas kan maar broodkrummels vir die raserige geveerdes voer, maar broodrolletjies vir hulle voer soek hy net niks.
Die afgelope week het oom Herrie weer chemo gekry, en dié keer ’n draai deur noodgevalle gaan maak. Nie van die chemo nie, maar ’n teenreaksie op ’n biologiese middel. ’n Hele ruk daar in ongevalle gelê en suurstof kry nadat oom Herrie omgeval het. Die res het sonder insident verloop.
Op pad huis toe sê Mev. Herrie oom Herrie moet darem nie dink hy was ál ongeval in die gesin dié dag nie. Die oggend toe sy tuis kom kan Wolf nie op sy een poot trap nie, en is veearts toe. Onder narkose ’n vreeslike lang doring uitgehaal. Maar daai selfde aand speel Nala en Wolf reeds weer ’n hond en ’n wolf uit ’n bos uit. Dit storm deur die erf en die gange af. Oom Herrie moet net wakker skuifel om uit die pad te kom om nie nóg ’n omgeval te hê nie.