Oom Herrie se kerrie: Wolf word ’n Kypie

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Groot Herrie het ’n pos anderkant die wingerdgordyn by ’n vrugteboer naby die Paarl gekry. En al was dit ’n groot oorweging om naby sy hart se punt te kan kom, ken oom Herrie ook sy oudste – daai boer het met Groot Herrie goud raakgeboor.

En Wolf gaan saam. Wolf het die afgelope drie jaar by oom Herrie en mev. Herrie gebly, en is vreeslik bederf. Ja, hy en sy destydse maatjie, Sheba, is een naweek van Bothaville af gebring nadat hulle een keer te veel gaan rondloop het. By die Herries is hulle soos kleinkinders bederf, maar al het Groot Herrie maar min kon kom kuier, het hy hul baas gebly.

Nou is Wolf weer by sy eie baas. Sheba is al ’n hele ruk terug langs die appelkoosboom weggelê. Toe ons ou hond, Pumba, ook toe dood is, het Wolf ook opgehou vreet, en ons moes die klein weggooihondjie, Nala, as maatjie kry. Die twee het regtig groot maats geword.

Wolf het vreeslik daarvan gehou dat Nala hom jaag. Nala het afgesien van dingo, ook iewers ’n klompie beeshond in. Dus vang sy vir Wolf aan ’n agterpoot, sodat die arme Wolf soos ’n skippie in groot golwe spook.

Maar Nala was ook ’n alleen-hond. Vreeslik jaloers oor aandag, en kon nooit genoeg mense-aandag kry nie.

Nala slaap ook, veral in die winter, kaplaks op die Herries se bed. Wolf verkies die koue teëlvloer – hy is immers ’n poolhond met ’n hele klompie Arktiese wolf bygeklits. Maar as Groot Herrie kom kuier het, het hy by hom op die kooi gaan slaap.

Wolf is in die sewende hondehemel, want hy is weer by sy baas. Die drie jaar se bederf tussenin het soos mis voor die son verdwyn. Nou het oom Herrie net vir Nala om mee te gaan stap. Dis nogal op ’n manier ’n verligting, want om met Wolf te gaan stap, is soos om met ’n ongeleide missiel te gaan stap. Hy storm al wat hond agter ’n heining, en raak so kwaad dat hy soms die arme Nala byloop. Byna elke boom word gemerk, en as hy klaar is, skrop hy iets ysliks.

Ja, oom Herrie gaan Wolf vreeslik mis, maar om daai geluk op die hond se bakkies te sien maak dit darem baie makliker.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.