Oom Herrie se kerrie: Wolweval

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Kyk, toe Sheba, Wolf se maatjie, nog geleef het en op hitte was, kon oom Herrie dit nog half en half verstaan. Dis nou dat Wolf, toe nog nie mooi uitgegroei nie, knaend sy kop deur die tralies van ’n hek sou steek om by Sheba uit te kom en dat sy kop dan vassit. So vas soos ‘n reunhond se verstand met ’n teef op hitte in die omgewing.

Oom Herrie het ’n slag gehad om Wolf op sy sy te draai en dan die kop by die tralies uit te trek. Soms in die reën en soms was dit moeilik om die hande weg te hou van Wolf se skerp kant.

Maar Sheba rus al lankal onder die appelkoosboom nadat sy en Wolf saam onder ’n bus beland het. Wolf se wit pels was pikswart getrap, maar hy het min of meer ongedeerd daarvan afgekom. Toe het Nala gekom, maar is verkeerd gemaak, lank voor sy groot genoeg was om Wolf sy Houdini-truuks te laat uithaal. Of dan, halwe Houdini-truuks.

Mev. Herrie ontvang ’n klant wat haar klein dogtertjie saambring. Wolf en Nala word aan die anderkant van die binne-veiligheidshek toegemaak om te keer dat hulle die dogtertjie omspring en dalk seermaak. Die twee staan regop teen die hek met die dogtertjie aan die anderkant – wil net speel.

En jou werklik, daar kry Wolf sy kop weer deur die hek gedruk. Sy kop is baie groter as Nala s’n en Nala se kop gaan nie eens amper deur die hek nie. Dwars draai en trek help nie, want Wolf trek sy kop regop. Dan is daar nog die skerp kant.

Nala wil dood van die jaloesie oor die aandag wat Wolf kry en moet kort-kort verwilder word. By geleentheid gaan maak Klein Herrie vir Nala buite toe, maar sy is voor hom terug op die toneel. Iewers anders lê ’n hek en deur oop.

Die hoeksnyer blyk die laaste opsie te wees, maar dis toe ’n goeie tyd om uit te vind die hoeksnyer het na 25 jaar getroue diens die wit vlag gehys. ’n Buurman met ’n ystersaag, klein hoeksnyer en reuse bobbejaan (die gereedskap, nie die dier nie, want dan was daar konsternasie) kom tot die redding, en Wolf se kop word bevry.

Die honde en die dogtertjie is toe bymekaar en speel te lekker…

Wolf-in-die-hek

Wolf druk steeds knaend sy kop deur die tralies van die hek. Foto: Verskaf.

Die huismense is ver meer getraumatiseer as Wolf en die volgende dag, nadat die tralie netjies teruggebuig is, gaan stel Wolf weer ondersoek op die toneel in. Mev. Herrie gewaar dit en verwilder hom.

Oom Herrie wil vir Wolf leer van ’n donkie wat sy kop net een keer stamp, maar het nie eintlik raad nie. Wolf is nie dom nie. Hy het immers ’n reuse “woordeskat” van wolwegeluide waarmee hy Mev. Herrie haarfyn sal beduie hoe en wanneer om sy kos voorberei te kry. Oom Herrie lees juis dat dié wolwegeluide vir elke wolf so uniek soos vingerafdrukke is.

Oom Herrie is taamlik oortuig daarvan dat Wolf en veral Nala, geweet het wat oom Herrie makeer voordat die dokters die kankers opgespoor het. ’n Ruk later lees oom Herrie dat navorsers ’n groot groep honde gaan oplei om veral prostaatkanker vroegtydig by mans op te spoor – iets wat hulle veel akkurater as vandag se masjiene kan doen.

Maar of dr. Wolf daarvoor sou deug wonder oom Herrie nou maar effe.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bruno Stef ·

Herman ek kan jou miskien raad gee my “Staffies ” het ook dieselfde triek gehad en as iets beweeg in die straat het hulle koppe deur die tralies gedruk en kon dit nie terugtrek vanwee hulle groot koppe en befoeterdheid.Ek was ten einde genoodsaak om stukke”mesh wire” met sterk “cable ties” aan die tralies aan te bring wat die probleem opgelos het.Dit lyk ook darem glad nie te onaardig nie en spaar jou baie moeite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.