Oom Herrie se kerrie: Woordglipse in die kerk

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Kyk, ’n kind kan vreeslik baie oor sy opvoeding kwytraak, al het hy nou eintlik iets anders gesê. Dikwels gebeur dit in die kerk.

Die Saterdag was daar ’n troue in die kerk met van die blommerangskikkings wat agtergebly het, en die Sondag sit Kleinman met sy borselkop voor in die kerk, want sy ousus laat doop. Die blomme trek bye, en een klits Kleinman bo-op sy kop.

“Eina! Hoe byt so ’n f*&^% mot my!” gil hy.

Die Lugmag se eertydse Kanaries tree in ’n kerk in die Oos-Vrystaat op. Soos gebruiklik sit die plaaslike kinderhuis se kinders heel voor. So halfpad deur die verrigtinge laat enetjie se maag hom in die steek en dit knal deur die kerk. Sy maatjie langsaan vlieg op en betig hom: “Hoe durf jy p*&p in die allerheiligste van die Heer?”

Mev. Dominee sit ook met haar kroos heel voor in ’n kerk. Die een mannetjie is erg woelig en steur hom nie aan sy ma se dreigemente nie. Toe is dit sulke tyd, en ma vat die knaap onder die arm en begin aanstryk deur toe. Die knaap sien hier kom nou groot kommer, en hy gryp die naaste kerkbank vas. Verwoed ruk mev. Dominee hom los, maar hy het die volgende kerkbank beet. So gaan dit tot sy ma, toe al briesend kwaad, hom van die laaste bank losruk en begin aanstap vir die deur. Met geen ander genade meer nie, gil die mannetjie terug in die kerk in: “Bid vir my!”

Soms is dit ’n ander verleentheidplek. Die kannetjie begin krieket speel en ma en seun is met ’n lang lys in ’n groot sportwinkel. Ma een kant van die winkel, en die kannetjie aan die oorkant.

Dis toe dat die mannetjie luidkeels laat blyk hy weet waar die prioriteite met krieket lê. Oor die breedte van die winkel roep hy: “Het ma al my *&^% se boks gekry?” Die kopskerm kan maar eers wag.

Ma verdamp uit die winkel en ken die kind glad nie.

Die Bostonse koerant, die Christian Science Monitor, het pas verskoning gevra vir ’n fout in ’n berig wat 65 jaar gelede geplaas is. Weliswaar tong in die kies.

Die koerant het destyds berig die gaste by ’n dinee van die eksklusiewe Explorers’ Club in New York het elkeen ’n versnapering mammoetvleis van ’n kwartmiljoen jaar oud gekry.

Die verslaggewer het dit egter mis gehad, en dit was eintlik die vleis van die uitgestorwe reuse-luidier (Sid van Ice Age-faam) wat voorgesit was, en so ook deur ander koerante berig is. Een gas kon die verrigtinge egter nie bywoon nie, en het gevra dat sy proeseltjie vir hom aangestuur word. Dis egter nooit geëet nie, en is pas deur die Yale Universiteit ontleed. Dit het geblyk die vleis van ’n waterskilpad te wees.

En nou vra die koerant plegtig om verskoning vir enige ongerief wat die plasing van die fout kon veroorsaak het.

Oom Herrie vra dus ook verskoning, mét benadeling van regte, vir enige verleentheid wat enige fout, doelbewus of aspris, wat die afgelope twee dekades in hierdie rubriek gemaak is, vir enige persoon ingehou het wat dit nie verdien het nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.