Oor geestelike fiksheid en pretlope

drawwer-hardloop-pretdraf-fiksheid

Foto: Skeeze/Pixabay.com

1 Tim. 4:7: “Moenie tyd verkwis met redenasies oor goddelose idees en ouvroustories nie. Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid.”

Waar Suid-Afrikaners (en Afrikaners in die besonder) deesdae sosiaal bymekaarkom, is die inhoud van die gesprekke taamlik voorspelbaar. Grondonteiening, onbevoegde staatsamptenary, korrupsie, misdaad – én rugby is gewoonlik op die agenda – en om verstaanbare redes. Dis allermins “ouvroustories”! Dié dinge kan egter ‘n mens se lewe, denke en gemoed só vul, besoedel en beswaar dat ons geestelike lewens daaronder kan ly.

Paulus maan ons in hierdie Skrifgedeelte dat sommige gesprekke nie heilsaam is nie en dat ons eerder moet let op ons geestelike fiksheid – ʼn begrip wat vir baie miskien ietwat vreemd op die oor val.

In die antieke tyd – veral tydens die Griekse en Romeinse era – was sport een van die belangrikste aktiwiteite van die samelewing – amper soos in ons eie sportmalwêreld. Atlete het tot die uiterste gegaan om as oorwinnaars uit die stryd te tree. Feitlik elke stad onder Romeinse beheer het ook groot sportstadiums, oftewel teaters gehad.

Dit is opmerklik dat die skrywers van die Nuwe Testament dikwels sportmetafore, beelde uit die sportwêreld gebruik om sekere belangrike geestelike waarhede te verduidelik en te beklemtoon.

Daarom behoort hierdie Bybelse sportbeelde vir ons groot sin te maak. Hierdie sport-metafore in die Bybel beklemtoon ‘n hele paar belangrike beginsels – dinge soos selfdissipline, fiksheid, persoonlike opoffering, doelstellings, selfbeheersing, persoonlike motivering en uithouvermoë.

Terwyl sommige van ons land se mense onfiks (en oorgewig) is, is daar ‘n toenemende getal wat die belangrikheid van liggaamlike oefening en fiksheid besef en daarom verskillende sportaktiwiteite beoefen.

Ek is egter van mening dat die meeste mense meer vertroud is met die gedagte van fisieke fiksheid as geestelike fiksheid. Terwyl baie in ons tyd fokus op fisieke oefening, kom die kwessie van geestelike oefening kwalik ter sprake.

Daar ís iets soos geestelike fiksheid. In hierdie Skrifvers moedig Paulus ons aan om méér tyd te spandeer aan ons geestelike fiksheid.

‘n Algemene sosiale aktiwiteit deesdae, is die sogenaamde pretloop of pretdraf. Dit het gewoonlik een of ander positiewe sosiale doelwit en baie mense neem daaraan deel. Hier gaan dit nie soseer oor wie wen nie, maar oor ‘n sosiale geleentheid waar ook die ongeoefendes en onfikses saam kan draf of stap. Dit gaan oor pret en dien gewoonlik ‘n goeie doel.

Veel van die Westerse Christendom vandag kan in sportterme vergelyk word met ‘n pretloop. Dit is deel van mense se sosiale lewe en kultuur. ‘n Pretloop vra nie veel nie en jy hoef nie danig toegewyd en passievol daaroor te wees nie. Fiksheid is nie regtig ter sprake nie.

Paulus is egter duidelik hieroor – die geestelike wedloop is nie ‘n pretloop nie. Dit vereis geestelike fiksheid en deursettingsvermoë. Sy woorde in 1 Kor. 9:24-27 spreek vanself: “Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ’n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ’n ewige prys. Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ’n bokser wat met elke hou tref. Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie.”

Jesus het ook nie doekies omgedraai oor die eise van volgelingskap nie. Hy het dit vergelyk met ‘n landbouer wat sy hand aan die ploeg slaan en nie weer omkyk nie en om jou kruis op te neem en Hom te volg.

Gebed:

“Here, help my om te besef dat Christenskap veel meer as ‘n geestelike pretdraf is. Amen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Wonderlik boodskap vanmore wat wil graag deel. Hierdie die stuk is WAAR!
Sport het my lewe gered deur geeslikeverstand,geeslikehart geeslikekrag en geeslikliggaam deur hulp van my Heilig Gees. Deur my ouderdom49,2kinders,ou besering laerug besig om verkalk,oogsiektes,hartsiektes ,beseering van die knee en doof GEEN verskoning nie!!
Dankie U my U skoene “tekkies” gee om te draf sodat U skoonheidnatuur”teenwoordigheid” kon wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.