Op die Anglo-Boereoorlogspad: 120 jaar later

‘n Groep weeskinders van die Anglo-Boereoorlog. Foto: Verskaf.

Die Anglo-Boereoorlog, wat vandag 120 jaar gelede tussen Brittanje en die twee Boererepublieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat verklaar is, bly die verskriklikste en mees vernietigende moderne gewapende stryd wat Suid-Afrika belewe het. Die skokgolwe daarvan is nog lank na die vredesluiting in Mei 1902 gevoel. Die konsentrasiekampe veral was ʼn traumatiese ervaring wat blywende letsels gelaat het.

Die aanloop tot oorlog

Herman Giliomee en Bernard Mbenga skryf in hul boek Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika dat die politiek in Suid-Afrika in die dekade voor die Anglo-Boereoorlog (ABO) toenemend gepolariseer was. Hierdie tendens het stukrag gekry toe die Salisbury-regering in 1895 die bewind in Brittanje oorgeneem en Joseph Chamberlain die koloniale sekretaris geword het.

Maar die oorlog was veel dieper gewortel. Die begin daarvan kan na die ontdekking van diamante en die snelle uitbreiding van Kimberley in die laat 1860’s teruggevoer word. Die diamantvelde van Kimberley en die goudvelde van die Witwatersrand en die industriële mynekonomie het soos magnete op Britse beleggings ingewerk.

Tog was Brittanje se doel nie goud as sodanig nie, maar om sy gesag op die Boere af te dwing en ʼn Suid-Afrika te kry wat lojaal aan die Britse kroon was. In 1906 het Jan Smuts gesê dat die Jameson-inval die werklike oorlogsverklaring tussen Boer en Brit was. Dit het die republikeinse leiers op die oorlog voorberei.

Die Boere het aanvanklik die hef in die hand gehad en ʼn paar veldslae vanuit hul loopgrawe gewen. Hul voordeel het later, tydens die guerrillastryd, in hul skitterende ruiterkuns gelê, wat beweeglikheid en vaart verseker het, asook die kommando’s se ruim voorraad moderne vuurwapens, uitmuntende skietvaardighede en taktiese beweeglikheid. Om die guerrillas se taktiek te ondermyn, het lord Roberts die verskroeide aarde-beleid van stapel gestuur.

‘n Plaas wat deurgeloop het onder die Engelse se verskroeide aarde beleid in die Anglo-Boereoorlog. Foto: Verskaf.

Verskroeide aarde, veragtelike kampe

In sy grootse boek Die Afrikaner skryf Hermann Giliomee dat die omvang van die beleid van verskroeide aarde met Roberts as opperbevelvoerder nog beperk was, maar Kitchener het dit uitgebrei. Van die einde van 1900 het Britse troepe voor die voet opstalle afgebrand en vee uitgewis. Kitchener wou hiermee die Boere in die veld se kosvoorraad en ander vorme van steun heeltemal afsny. Die Britse troepe het verwoesting en chaos oor feitlik die hele Vrystaat en groot dele van Transvaal gesaai.

Fransjohan Pretorius skryf in die boek Geskiedenis van Suid-Afrika dat Roberts teen September 1900 begin het om Boere wat die wapen neergelê het en hul gesinne in kampe byeen te bring om hulle teen die Boere se heropkommandering te beskerm. Maar ʼn groeiende getal Boerevroue wie se plaashuise afgebrand is, is naderhand ook saam met hul kinders na die kampe geneem.

Die verskriklikheid van die konsentrasiekampstelsel is dat mense nie in kampe geplaas is oor wat hulle gedoen het nie, maar oor wie en wat hulle was. Die Britse vooroorlogse propaganda teen die Boere het die Britse politieke en militêre bevelvoerders so gekondisioneer dat hulle bereid was om onskuldige vroue en kinders onmenslik te behandel.

Die toestand van die kampbewoners het vinnig verswak weens swak voeding en die gebrek aan sanitasie. Baie het gesterf, veral van buiktifus en masels. Die publiek, plaaslik en in Engeland, het eers bewus geraak van wat in die kampe gebeur toe Emily Hobhouse in Engeland verlof kry om die kampe te besoek.

Maria Fischer gee ʼn blik van die traumatiese gebeure nadat Britse soldate by ʼn plaas opgedaag het met die doel om soveel verwoesting moontlik te saai voordat hulle die vrou en kinders na die kamp wegvoer. “Dit was of daar soveel duiwels losgelaat is . . . alles word verwoes. Uit die stal en woonhuis word balke, kappe, deure en rame gesaag en bome afgekap. Ek het nog ʼn hen en kuikens in ʼn kamer gehad; die ander was almal doodgeslaan.”

Nog ʼn Boerevrou vertel van uiterste lyding wat sy in ʼn kamp aanskou het: “Onder ons was daar ʼn mev. Coetzee; sy het agt kinders gehad, en nou was daar vier dood. Eendag gaan ek verby haar tent en daar op die grond op kakiekomberse sien ek drie seuntjies lê, en die miere wemel oor hulle. Die moeder het kraamkoors gehad; haar pasgebore seuntjie was al dood. Om hul ellende te verhoog, was die tent vol kakieluise.”

Die krisis in die kampe het katastrofale afmetings aangeneem. Teen Oktober 1901 het die sterftekoers tot 344 per duisend opgeskiet. Kinders onder vyf jaar het feitlik geen kans gehad om te oorleef nie.

In die laaste maande van 1901 het ʼn kommissie van Engelse vroue, wat oorlogsondersteuners was, ook die kampe besoek. Hulle was geskok en het aanbeveel dat die rantsoene verbeter en groente ingesluit word, dat geriewe verskaf word om water te kook en dat meer verpleegsters uit Engeland ingevoer word. Nadat die voorstelle uitgevoer is, het die sterftesyfer skerp gedaal. Nietemin het 4 177 Boerevroue en 22 074 kinders gesterf.

Ná die oorlog het die verbittering van die Afrikaners jeens Brittanje hoofsaaklik om die hoë sterftesyfer in die konsentrasiekampe gedraai.

Ten spyte van dié hoë sterftesyfer, was die onblusbare verset van die Boerevroue ʼn beslissende faktor in die oorlog. Die mans, sowel Britte as Boere, was verstom dat die vroue bereid was om so baie te verduur vir die Boere se stryd.

Fotografiese versameling van die Anglo-boereoorlogsmuseum, Bloemfontein.

Verliese op die lange duur

Die verpletterende nederlaag wat die Boere gely het, het die vroue aan hul taal en kultuur laat vasklou. Maar kultuurgoedere was juis een van die groot verliese wat onvermydelik met die verskroeide aarde-beleid gepaard gegaan het. Brigadier-generaal Albert Jansen, lid van die Anglo-Boereoorlog Studiegroep, verduidelik dat die Voortrekkers tydens hul trek na die binneland waardevolle Kaapse meubels en ander huisraad saamgebring het.

“Sowat 90% van die Kaapse meubels is met die verskroeide aarde-beleid verbrand. Dinge soos kombuisware, boeke, familiebybels met geslagsregisters daarin, besondere skilderye, vroue se mooi handwerk en musiekinstrumente soos traporrels het in vlamme opgegaan. Dit was ʼn groot verlies aan tasbare kulturele identiteit vir die Boere.”

Selfs wanneer die Britte toegelaat het dat hul gevangenes ʼn paar meubelstukke saam konsentrasiekamp toe neem, is dit dikwels uit desperaatheid deur die eienaars daarvan self as brandhout gebruik om die bittere koue in die kamp te verdryf.

Die konsentrasiekampe het gebroke gesinne en weeskinders agtergelaat, want bitter min gesinne is die hartseer gespaar om minstens een geliefde aan die dood af te staan.

Sir Thomas Pakenham verklaar in sy boek The Boer War dat geen Engelse oorlog sedert 1815 lewens en geld kwistiger verspil het nie.

“Daardie ‘teetyd-oorlog’, Milner se klein ‘Armageddon’, wat teen Kersfees 1899 verby sou wees, het die Engelse belastingbetaler meer as £200 miljoen uit die sak gejaag,” skryf hy.

In bloed gemeet, was die prys veel hoër. Daarom bly die Anglo-Boereoorlog ongetwyfeld ʼn kragtige gebeurtenis in die vorming van die geskiedenis van Suid-Afrika in die 20ste eeu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Vintcent ·

Steeds kerm die Britte oor die Duitsers wat hul bietjie hardhandig hanteer het tydens WO1 en WO2. Dit, terwyl hul geen woord uiter nie, oor hul lafhartige aanslag teen die Boere se vrouens en kinders. Mag ons dit nooit vergeet nie!

Tienie ·

Die Britte laat my aan “sekere ander” bevolkings groepe dink wat ook altyd hul “swaar verlede” ophaal.

Hulle kan nie Apartheid begrawe kry nie…..

Uitkyk ·

Klaar besig om te gebeur. Afrikaners is geneig om knie te buig met Engelse deur oor te slaan na hul taal in enige omstandighede. ‘soos die Engelsman se’ word selfs in die kerk gebruik.

J ·

Die Britte , en al die ander lande wie se soldate wat saam met hulle onder die Britse vlag teen ons voorouers baklei het, moet ons vergoed: Vir elke persoon wat in ‘n konsentrasiekamp dood is, moet hulle 10 sukkelende gesinne uit SA inneem en in hulle lande huisves en ophef. Vir elke plaas wat afgebrand is moet hulle in SA landbou belê en ons plase verbeter. Oral waar SA regering ons tans faal, moet hulle positief kom omdraai.

Boeretannie ·

Daar word so baie geskryf en gepraat oor die Nazie kampe tydens die Tweede Wereldoorlog. Is dit nie dalk moonlik dat die Britte die kampe begin het in Suid Africa? Party kampe in Europa was gebruik om n nasie uit te roei. Ander was om sekere mense van sekere groep opgesluit te hou. Daar was geen agting gewees vir welsyn van die arme mense. Dit klink baie wat die Britte gedoen met die soldate se families op die plase. Hulle huise vernietig, diere doodgemaak en velde afgebrand. Hulle in kampe gesit sonder voldoende kos, medies en sanitasie. Maar ons hoor of lees nooit daaroor nie. Ek leef my altyd in so n situasie. Veral die kinders. Mense was en is nog wreed 1800, 1900,2019. Ons leer niks van die verlede.

jaco ·

as paul kruger wel stemreg aan die uitlanders gegee het, sou die meeste van hulle waarskynlik vir Piet Joubert gestem het. Transvaal sou dus, sonder kruger, NIE Brits geword het nie.

Kat ·

Moenie die Franse weg gooi as jy engels praat kry hulle klontjies

Aussie geskiedenis ·

Elke land sien die geskiedenis anders. Hier in Australië by ten minste 2 plekke in my omgewing is daar standbeelde en herhinnering mure wat hul soldate vereer wat hul lewens verloor het in o.a die ABO. Soldate wat “hard geveg het vir die Queen”. Maar in Suid-Afrika weet ons het veral die Aussies die verskroeide aarde beleid baie ernstig opgeneem

Stephan de S ·

Dankie vir die pragtige gevoelvolle “huldeblyk”.
@ Jaco….waar kom jy aan hierdie absurde gedagte? Daar is n paar mense wat hd stories glo wat op geen feite berus nie. Kruger het talle toegewings gemaak maar dit wat Milner geëis het,sou geen selfrespekterende mens hom laat welgeval het nie.

Karlahari ·

Ek het nogal gewonder of die hertog en sy geselin n konsentrasie kamp museum sou besoek.
Maar dit is seker nie polities korrek nie.

Maria ·

sjoe my hart breek gee ons land weg waarvoor die Afrikaner boere,vroue, kinders en soldate verniet baklei het. Sak my kop vergewe asb julle is Hero!

Flemming ·

“………………maar ons mag internasionaal rugby speel……………” ASB

Weeskinders ·

Daai kindertjies was seker baie soet, wat die tannies lyk baie kwaai.

Fanie Kemp ·

Jy is reg Stephan de S — Pres Paul Kruger het op ‘n stadium tydens die onderhandelinge oor stemreg vir uitlanders ten regte verklaar “Dit is nie die stemreg wat julle soek nie, dis my land wat julle soek”.
Die President was reg en die prys wat betaal is vir die kom vat deur die Britse Imperialiste van die twee onafhanklike Boere Republieke was hoog — onmenslik hoog!
Ons moet vergewe – dit vereis ons Christelike Oortuigings van ons: maar vergeet mag ons nooit.
Terwyl geweld teen vroue en kinders nou ten regte baie aandag kry en veroordeel word: Op watter dag van die jaar moet ons en veral ons kinders, stil word, ons hoofde in eerbied en herinnering buig in medelye aan die Vroue en Kinders wat met vernietigde huis-en haard so onmenslik moes ly en sterf in die Britse Konsentrasiekampe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.