Op soek na die legendariese Don Robin

pierre-massyn-inka-staproete

Pierre Massyn by Machu Picchu, die antieke Verlore Stad van die Inkas, wat hy bereik het na vier dae op die Inka-voetslaanpad. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Met sy asblonde hare en bleek voorkoms kon jy hom maklik aansien vir die Britse popsanger Sting[1]. Ek het Peter van Shakespearestraat in Londen die eerste keer leer ken toe Orlando James van Guyana, my kollega by Excel College (waar ons saam vir die Peruviane Engels gegee het), voorgestel het dat ons by die The Cross Keys English Pub in Peru moet gaan gesig wys.

The Cross Keys is so ’n halwe blok van die Plaza de Armas in Cusco, die misterieuse antieke hoofstad van die Inkas waar hul oervader, Manco Cápac, volgens oorlewering sy staf in die naeltjie van die aarde kon laat ingly. Cusco se naam in Quechua beteken dan ook “naeltjie, oftewel die middel van die wêreld.” The Cross Keys Pub se eienaar is Richard Walker en is die kuierplek van ons gringos.

Ek ontdek gou Orlando is krieketmal. Ons spelers is egter self nie te versmaai nie. Orlando lê baie klem op sy landgenoot, ene Carl Hooper[2]. “Hou die outjie dop. Hy gaan ver kom.”

Dis sokkertyd, 1986. Die kroeg is volgepak met Peruviane en bleekgesigte wat aanskou hoe Argentinië dit teen Engeland uitspook in wat plaaslik beskryf word as die Falklands 2[3]. En Maradona met sy “Hand van God” kelder Engeland in hul Wêreldbekerwedstryd. Engeland soek wraak… En nou is ek en Peter in ’n verbete stryd gewikkel. Hy en ’n landgenoot verteenwoordig Engeland, en ek en ’n eenbeen Suid-Afrikaner, Andy March[4] van Greyton in Natal speel vir Suid-Afrika in ’n epiese veerpyltjietoets.

Op die telbord staan dit in hoofletters: SOUTH AFRICA VS ENGLAND. Ons eer is op die spel. Peter met sy kunstenaarshande kon ’n pyl vernuftig gooi. Maar ek het my pyle leer slyp in die Stadhuis se Gezellie op die Kovsies se kampus. Die toets hang in die weegskaal en al wat leef en beef hou asem op. Dis my beurt om te gooi. Kan ek die knoop vir my land deurhak? Ja! Ek tref die middelkol en maak die mense stil.  Ons voel trots. Ons moet dit vier. “Dos cervezas por favor”

Cuzco lê hoog in die voetheuwels van die Andesgebergte, en twee dae ná my aankoms met die Buffalo[5] van Puerto Maldonado, tref die gevreesde hoogtesiekte my. Maar dit berei my voor vir die Inka[6] wat ek enkele dae later met Serge, ’n rateltaaie Parysenaar, aanpak.

Ek het Don Robin se naam die eerste keer in The Cross Keys gehoor. Robin, die legendariese witman wat soos ’n Indiaan in die woude leef, vlot Spaans praat en soos ’n skim deur die oerwoud kan sweef. Ek en Peter raak bevriend.

“Julle moet Robin Clark gaan soek. Hy het net weggeraak”, moedig Richard Walker ons aan. Die inligting oor waar hy laas gesien is, is skraps, maar ek en Peter vat Don Robin se spoor.

Per trein reis ons deur die Altiplano van Peru tot by Puno langs die hoogste navigeerbare meer ter wêreld; dan vaar ons tot by die eiland Amantani in die Titicacameer – hy is ook die koudste, soos ek hom eerstehands ervaar het.

Daarvandaan van Copacabana, op die oewer, met ’n lendelam, oorlaaide bus tot by La Paz in Bolivië se hooglande. Ek maak kennis met ’n operateur van die DEA – die Amerikaanse federale dwelmpolisie. Hul teenwoordigheid hier word verafsku. Op die ambassademuur staan in rooi spuitverf: Americanos, fuero! Voertsek!

“Pas op, dis gevaarlik hier,” waarsku sy my. Ja, sy’s ’n vrou. Ja, ek is heilig oortuig sy is suiwer CIA.[7] Op haar beurt kan sy nie glo ek het uit Afrika op ’n 36 voet-bootjie op hierdie wilde kontinent, wat ek van oseaan tot oseaan deurkruis het, beland nie.

Ons besoek die berugte San Pedro-tronk waar die Nazi Klaus Barbie aangehou is. Die halfnaakte gevangenes lewe in die haglikste toestande denkbaar. Dit lyk of alle handel om kokaïne wentel. Nou beweeg ons per bus uit die voetheuwels van die Andesgebergtes suidooswaarts, tot in Cochabamba. Ek en Peter slaap net waar ons kom, speel skaak en werk aan ons Spaans. Ons vriendskap groei. Ons vra uit, pols die plaaslikes in die cantinas. Ja, hulle het al van die vreemde witman gehoor. Die spoor raak warmer. Ons moet gaan tot in Santa Cruz, moontlik sal ons daar geholpe raak.

Santa Cruz is nie ’n plek waar jy wil gaan vakansie hou nie. Dis ’n dwelmhool wat beheer word deur bendebase wat met die polisie speel soos ’n kat met ’n muis. Die myndorp is in seksies verdeel, afhangend van watter kartel watter deel beheer. Snags is dit ’n oorlogsone. Ons hoor skote klap. Op die bushalte probeer hulle Peter se rugsak steel, maar hy is wakker en weer die aanval af. Die diewe verdwyn in die skare. Die Indiaanse vrouens hou ons stoïes dop in hul kleurvolle poncho’s en swart boulerhoede.

Die bus laai ons op die rand van die oerwoud af. Ons is twee wit mans. Alleen. Ons stap. En stáp. Die versengende hitte dreig om ons te oorweldig. Uiteindelik gewaar ons ’n houthut in ’n ooptetjie.

Is dit hy? Sowaar! Dit ís Don Robin Clark! Sy lengte is gemiddeld en hy is lenig en bruingebrand. Nie ’n greintjie vet aan hom nie. Hy is oorstelp om bleekgesigte hier in die uithoek van die aarde raak te loop. Vir die eerste keer in maande kan hy Engels praat. Sy mujer (vrou) lyk of sy volbloed Indiaans kan wees. Haar hare is raafswart en sy het hoë wangbene.

Die volgende dag trek ons die Cerro Amboró binne. Diep in die ongerepte woud neem Don Robin ons na plekke waar byna geen mens nog sy voetspoor gelos het nie. Die oerwoud is ’n kakofonie van voëlgekwetter. Daar is baie toekans (reënboogvoëls), brulape, tapirs (perdagtige soogdiere), luidiere en kapibaras (watervarke).

Ons kampeer langs ’n waterval. Ons kon netsowel die enigste mense op hierdie aarde gewees het. Die pumahuacachi vreet ons byna op, maar Don Robin is skynbaar bestand teen die pynlike aanvalle van hierdie swart sandvlieg – sy naam beteken nie verniet “die een wat die poema laat huil” nie.

Om die kampvuur vra Robin my uit. Hy is ’n Britse soöloog met ’n passie vir natuurbewaring. Dis grootliks te danke aan sy werk agter die skerms dat die Cerro Amboró in 1984 tot nasionale park verklaar word.

En toe trek Don Robin los: “So met jou Franse name en al kom jy eintlik van Suid-Afrika, nè? Sê my, ken jy enige Van der Merwe-grappe?”

Dis ’n klein wêreld, dié van ons.

  •  Pierre Francois Massyn is ’n skrywer, navorser en avonturier.

Voetnote:

[1] Gordon Matthew Thomas Sumner.

[2] Carl Hooper van Guyana speel uiteindelik 102 toetse vir Wes-Indië.

[3] ’n Verwysing na die Falkland-oorlog tussen Engeland en Argentinië, wat Los Malvina’s as hul eiendom

beskou en wat deur Engeland beset word.

[4] Andy het sy been as kind verloor, maar dit het hom nie gekeer om saam met ’n Amerikaner, Charles van

de Water, met motorfietse van die VSA deur Guatemala tot in Peru te ry nie.

[5] Militêre vliegtuig waarmee burgerlikes vervoer is.

[6] Die Inka-voetslaanpad van 42 km tot Machu Picchu

[7] Central Intelligence Bureau, oftewel die Die Amerikaanse Spioenasiediens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dorothy ·

Pierre, dit was nou ‘n goeie skrywe. Nooit geweet daar bestaan inligting van die verlore stad nie. Ek het verder op internet na gevolg. Wens net ons het geweet hoe het die mensdom daardie rotsagtige klippe op mekaar gekry. Dis so perfek. Pierre jy het regtig baie deursettingsvermoë om sulke plekke te besoek. Is daar van jou boeke wat jy al geskryf het van vreemde plekke wat jy besoek het? Baie Dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.