Orania vereer sy stadsbouers

Chantelle van Staden (middel) is as die 2019-stadsbouer van Orania aangewys. Simon Bezuidenhout en Wiets Botes het onderskeidelik die tweede en derde plek ontvang. Foto: Verskaf.

Chantelle van Staden is ʼn suster wat haar alles vir die gemeenskap van Orania gee. Sy werk tans by die staatsklinieke, die dokter (Oramed) en dan doen sy ook nog tuisversorging as daar nood is. Sy is regtig 24 uur, sewe dae per week aan diens.

Dit is dan ook gʼn wonder dat Van Staden as vanjaar se voorste stadsbouer van dié dorp aangewys is met Orania se Helpmekaarweek wat van 21 tot 27 Oktober plaasgevind het.

“Sy gee veel meer as wat van haar verwag word. Sy het ʼn onfeilbare liefde vir mense en ander se nood is eerste op haar agenda. Ek dink die gemeenskap het regtig haar waarde as ‘stadsbouer’ reg opgesom,” het Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, gesê.

Simon Bezuidenhout is met ʼn tweede plek op dié prystoekenningsgeleentheid vereer vir die hulp en ondersteuning wat hy aan enkellopende mans van die dorp bied. Wiets Botes het die derde prys ontvang vir sy ontwikkeling van die ovaalbaan in Orania wat gesonde ontspanning in die dorp bevorder. Bedrywighede by die baan is ʼn hoogtepunt op Orania se gemeenskapkalender waar die motors teenmekaar kompeteer.

Die Orania Helpmekaarweek het op die Solidariteit Beweging se toekomsberaad gevolg waartydens 30 ankerdorpe geïdentifiseer is. Helpende Hand het ook sy planne tot en met 2030 bekendgemak by dié beraad.

“Op die Toekomsberaad het ons gepraat en nou moet ons doen,” het Noëth gesê.

Volgens hom is die doel van die week om die welstand van die gemeenskap van Orania, wat een van die grootste ankerdorpe is, op verskeie vlakke te bevorder. Gedurende die week is 21 verskillende aktiwiteite vir die dorp se gemeenskap aangebied.

Getrou aan die gemeenskap se beginsels van selfwerksaamheid is daar aan die bouers van dorp dankie gesê vir hul volgehoue harde werk onder moeilike omstandighede. Die vroue het met die vroueoggend juweelhangertjies gemaak, wat hulle dan weer aan ʼn ander vrou in dié gemeenskap as ʼn geskenk oorhandig het.

Koffie is saam met die bejaardes van Karoosig-ouetehuis gedrink om ook liefde en omgee aan dié burgers te bewys. Die senior burgers het op hul beurt weer gewys daar is nog woema in hul pype en het die gemeenskap met ʼn paar volkspelepassies vermaak.

Die inwoners van Orania het gemeenskapslede genomineer wat die hardwerkenste, talentvolste, positiefste, vriendelikste, liefdevolste en koelste Oraniër is, waarvoor hulle dankie wil sê vir hul werk in die gemeenskap. Foto: Verskaf.

Van die ander aktiwiteite in die week het ʼn inleidende gesprek tot kardiopulmonêre resussitasie (CPR), hoe om trauma te identifiseer, finansiële bemagtiging, hantering van werkkwessies en die veranderende werkswêreld ingesluit. Sowat 222 mediese toetse vir, onder meer, bloeddruk, bloedsuiker, oogtoetse en liggaamsmassa-indekstoetse is ook afgelê. Die 65 leerders van die twee skole in die dorp het ook beroepsleiding van Solidariteit Jeug ontvang.

“Ons het in die week die krag van ʼn gemeenskap gesien. Die kerke, dokter, suster, werkgewers, werknemers, skole en talle ander instellings het deelgeneem en gehelp. ʼn Geïntegreerde gemeenskapsmodel is ʼn kragtige idee wat ons in verskeie gemeenskappe implementeer,” het Noëth gesê.

Hy het die Helpmekaarweek op Orania as ʼn reusesukses beskryf.

“Ons daag met hierdie projek alle gemeenskappe uit om strukture te vestig om mekaar te help. Ons beplan om nou landwye programme van stapel te stuur om volhoubare gemeenskapstrukture te vestig,” het hy bygevoeg.

Helpende Hand het op die Toekomsberaad aangekondig dat 30 maatskaplike werkers voor 2030 aangestel gaan word wat kan help met gemeenskapontwikkeling. Besoek Helpende Hand se webwerf vir meer inligting oor dié soort ontwikkeling.

  • Kyk hier hoe tannie Johanna Pohle, wat met ondersteuning loop, die besoekers laat volkspele doen. “Sy het ons behoorlik onder die tafel in gedans,” vertel van die gaste.

Na tee en verversings is daar lekker musiek gemaak en gedans.

Posted by Orania karoosig aftreeoord on Friday, October 25, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

koos ·

Baie geluk Chantelle, wonderlike werk.
Ek sou net graag ‘n ander foto van jou wou gesien het, want die agtergrond lyk soos ore van Shrek?

wet ·

So ek is nie die enigste een met my gesig amper teen die screen wat probeer uitmaak wat ‘ore’ is nie.

Marisa ·

Vir my lyk dit soos in hand wat haar kop regop hou – neitemin baie geluk en doen so voort

Maria ·

Ek vra mooooooi asb…..asb….om ook vir Dowes gemeente gebruik en voorsien . Dowes is baie goed met hande werk Dowes nie dom . Baie dowes sit sonder werk asb.

Andile ·

Ja, die helpende hand op die banier agter haar is presies so opgelyn soos jy dit beskryf. Is dit nie oulik nie.

Daan Botes ·

Soek Wiets Botes se inligting om in te sluit in die BOTES familieregister van SA

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.