Oudisies vir Fiela se kinders

Stefan Vermaak

Stefan Vermaak

Lefra Produksies beplan om in 2017 weer ʼn verhoogproduksie van Dalene Matthee se trefferproduksie, Fiela se kind, op te voer.  Dit sal die derde produksie van Fiela se kind wees wat Lefra Produksies aanbied.

Die vorige kere teaterproduksies was baie gewild en vir weke lank uitverkoop.  Frans Swart, regisseur en vervaardiger van Fiela se kind sê hy is baie opgewonde om weer bos toe te gaan en hierdie wonderlike storie van Fiela te vertel. “As mens ʼn goeie storie het, is dit soveel makliker om ʼn sukses daarvan te maak op die verhoog. Ons is veral opgewonde om hierdie Fiela die eerste keer bekend te stel by vanjaar se Woordfees in Stellenbosch.  Daarna vertrek Fiela see toe en speel op die baie suksesvolle Oppiwater Kunstefees,” sê Swart.

Oudisies word nou gehou vir die kinders wat in Fiela se kind sal speel. Swart sê die kinderrolle in Fiela is van kardinale belang. “Die hele storie draai natuurlik om Benjamin/Lukas en ons maak gebruik van ʼn groot en klein Benjamin/Lukas, sowel as ʼn klein en groot Nina.  Hierdie rolle is baie belangrik, want dit gaan ook bepaal watter akteurs die volwasse Benjamin/Lukas en Nina gaan speel. Ons is ook op soek na Fiela en Selling se ander kinders.”

Rolle waarvoor oudisies gehou gaan word, is:

KARAKTERKARAKTERBESKRYWING
Benjamin (Kind)Wit seun, 10 tot 14 jaar.  Fiela se vondelingkind.  Seun van Barta en Elias
Nina (Kind)Wit meisie, 10 tot 14 jaar.  Dogter van Barta en Elias.
Lukas (Volwasse)Wit man, 20 tot 30 jaar.  Fiela se vondelingkind.  Seun van Barta en Elias
Nina (Volwasse)Wit vrou, 20 tot 30 jaar
Lange / Magistraat / Skoonmaker by Hof / Boswagter / MartiensLang, skralerige man, 40 tot 50 jaar
Dikke / Magistraat / Konstabel / VeldkornetEffens gesette man, 40 tot 50 jaar
Willem (Kristoffel)Wit seun, 12 tot 16 jaar.  Seun van Barta en Elias.
Dawid (Tollie)Bruin seun, 12 tot 16 jaar.  Seun van Fiela en Selling.
Emma (Kitty)Bruin dogter, 14 tot 18 jaar.  Dogter van Fiela se Selling.
Tant Gertjie (Malie)Wit vrou, 40 tot 50 jaar.

Swart sê hy is onder andere baie trots op Stefan Vermaak (Villa Rosa) wat agt jaar gelede vir Lefra gespeel het as die klein Benjamin (foto) en sy eerste tree in die vermaaklikheidswese gegee het onder regie van Sandra Prinsloo.  “Dit is so ʼn lekker rol vir enige seun wat ʼn belangstelling in die teaterwese het,” sê hy. “Dit sal help as die kinders reeds drama opleiding gehad het, maar dit is beslis nie ʼn vereiste nie.”

Belangstellendes kan CV’s en ʼn onlangse foto epos aan [email protected] Die sluitingsdatum vir oudisies is 2 Desember 2016 om 13:00.  Vir meer inligting, skakel gerus vir Charl Senekal by 011 815 3000 of epos aan [email protected]

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

BOLANDER ·

Ek is baie op gewonder om dit te lees. Ek het jare gelede na die opvoering gaan kyk en kan nie wag om hierdie een te sien nie. Sterkte julle .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.