Oudlede van die valskermeenheid gesels saam

Oudlede van die valskermeenheid kuier nog gereeld saam om oor die goeie ou dae te gesels. (Foto: Verskaf.)

Daar is min ouer mans wat nie ’n staaltjie het om te vertel oor hul verpligte diensjaar in die destydse militêre mag nie.  Sommige van hulle praat makliker oor hul ervarings as ander. Dan is daar die parabats, of sogenaamde valskermsoldate – hulle was in ’n ander klas. Die groep het bestaan uit soldate wat streng gekeur en opgelei was om in die voorste linies tydens die Grensoorlog te veg.  Hulle het in ’n onstuimige tyd in die land se geskiedenis na  ’n uitdagende opleidingsprogram deel geword  van dié alombekende weermageenheid, waaroor daar al talle boeke geskryf is.

Destyds het niemand met só ’n man skoorgesoek nie.  As jy die bekende maroen baret en die vlerkies met die valskerm op jou bors gedra het, het die ander geweet – jy is uitsonderlik. Dit was omdat min soldate die opleidingsprogram suksesvol kon voltooi weens die moeilikheidsgraad daarvan.  Dit het aan die manne ’n onderskeibare identiteit en status verleen wat steeds vandag vir hulle van waarde is.

Die meeste van die soldate is te Rooiplaas, die opleidingsterrein in Bloemfontein, opgelei.  Die eerste valskermeenheid is in 1961 in die lewe geroep, waarna die valskermsoldate ’n beduidende rol in die Grensoorlog gespeel het.  Die soldate was later alombekend as lede van ’n spogeenheid omdat hulle verskeie operasies suksesvol voltooi het, en in die meeste gevalle eerste op die toneel was.  Die opleiding wat hulle ontvang het, was uniek en uitsonderlik, dié dat lede van die eenheid steeds gereeld saam kuier om mekaar te ondersteun.

Foto ter illustrasie. (Foto: Caracal Rooikat/nil/Commons.wikimedia.org)

Een van die geleentheid het onlangs buite Pretoria by Gecko Ridge plaasgevind. Die eienaar, Riaan van den Berg, was ook ’n lid van die eenheid en stel sy fasiliteite beskikbaar vir hulle kuiers. “Een van die stigterlede van die eenheid, Ronnie Claasen (83), bly tans in Centurion,” sê Lood Pepler. Hy is self ’n veteraanlid van die eenheid wat dertig jaar in die staande weermag gedien het. “My droom was om ’n parabat te wees, nog voor ek by die weermag aangesluit het. Ek het opgekyk na my broer en wou soos hy in die weermag dien.”  Lood is in 1975 geskiet, waarna hy twee jaar in 1 Militêre Hospitaal aangesterk het. “Ek kon nie wegbly nie, ek is weer terug en het in verskeie dorpe op die grens saam met my vrou gebly.”

Assie de Lange, een van die stigterlede van die kuiergroep, sê die stigterlede het mekaar toevallig raakgeloop en sommer lekker aan die gesels geraak oor die goeie ou dae. “Vandaar het ons besluit om meer gereeld, so een keer in ses weke, bymekaar te kom.  Dit was ’n geval van, ek ken dié oudlid en jy ken ʼn ander een, so het ons vinnig ’n groot groep oudlede opgespoor wat saam met ons wou kuier.  Die kuiers is informeel; ons kom bymekaar, braai, lag en gesels.”  Assie het in sy dae die Honoris Crux ontvang, een van die hoogste toekennings in die weermag vir soldate wat in gevaarlike omstandighede uitermatig dapper was.  Assie meen die broederskap tussen die oudsoldate speel ’n besonderse rol in sy lewe. “Dit is net my broers hier om my wat werklik verstaan waardeur ons was, en om met hulle gereeld op te vang, beteken vir my baie.”

Die groep hou ook elke jaar ’n groot byeenkoms, gewoonlik naby Hartbeespoortdam. Dan trek die manne van reg oor die land bymekaar. As die weer saam speel en hulle kry die nodige toestemming van die lugmag dan spring hulle weer uit ’n weermagvliegtuig net soos in hul jonger dae.  “Ons moet steeds ’n sertifikaat toon om te wys ons kan nog spring. Dit beteken ons moet weer opleiding ontvang en ’n mediese ondersoek slaag,” sê Pieter Schlechter.  Hy het ’n knievervanging gehad, maar sal enige tyd weer spring as die geleentheid opduik. Pieter glo sy opleiding en ervaring destyds het van hom ’n beter mens gemaak. “Die toegewydheid, dissipline en deursettingsvermoë wat ek geleer het, is van onskatbare waarde. Ons moes net vasbyt al was ons fisiek heeltemal uitgeput. Dis dan wanneer jy met als in jou opstaan en jouself nog verder druk.”  Hy hoop hy kan iets van wat hy ervaar het, aan sy kinders oordra. “Hierdie is eienskappe wat vandag maar min in mense aangetref word. Dit is eintlik ’n voorreg om in die diep kant ingegooi te word en dan te leer swem. Só ’n ervaring maak jou vinnig groot.”

Lourens Rademeyer was ’n valskerminstrukteur. “Na só ’n ervaring keer ʼn mens nie weer terug na normaal nie.  Dit is moeilik om aan te pas. As jy eers so gedruk is, die vasberadenheid en toegewydheid van die manne ervaar het, is dit moeilik om iemand wat nie daardeur was nie, te vertrou. Ons het geweet ons kan op mekaar staatmaak omdat ons saam deur die opleiding was. Ek het net geweet my medesoldaat sal my nooit in die steek laat nie.  Waar kry ʼn mens weer so ’n band, sulke ’n vertroue in iemand as jy eers dit ervaar het?”

Dit is hoekom die byeenkomste vir Lourens, Pieter, Assie en Lood so ’n hoogtepunt is. “Ons nooi al ons oudlede uit om asseblief by ons aan te sluit. Ons wil graag die broederskap wat daar tussen ons is, bewaar.”  Die manne raak ouer en stories soos dié sal ook mettertyd uitsterf, maar gelukkig hou dié groep manne dit nog lewendig.

  • Oudlede wat meer oor die byeenkomste wil uitvind kan vir Assie de Lange bel by 082 453 0096.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tino ·

Rambo om elke draai!

Die hele Verkennings kommando is mos ook parabats gewees vir oomblikke van hul loopbane? Hulle hou ook hulle bymekaar komste.

Anoniem ·

Dit maak ‘n mens nog so trots voel!!! So erg Suid Afrikaans. My dierbare man was een van daardie
“papabats” hier in die begin ’70 tot “80’s toe. Vandag nog op 66 n baie trotse Parabat soldaat!

Leon ·

Nasionale diensplig het oor die algemeen dissipline geleer. Dit het beter mense gemaak van almal. Iets wat vandag totaal in ons samelewing kortkom. Ek dink dat hulle moet diensplig terug bring. Dan sal die slap lelle wat so raondlê begin ruggraat kry en ophou om ‘n probleem te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.