Ouers blý veg ná talle terugslae

Logan Dyssel (Foto: Facebook)

Logan Dyssel (Foto: Facebook)

Nadat die driejarige Logan Dyssel in 2013 tydens ʼn noodkeisersnee gebore is, het die gesin se lewe “byna in duie gestort”. Logan is kort daarna met ʼn gaatjie in sy hartklep, ʼn gewas op sy brein, breinskade en algehele doofheid gediagnoseer.

Sammy Dyssel, Logan se ma, het aan Maroela Media vertel dat niks haar kon voorberei op die moeilike pad wat vir die gesin voorgelê het nie.

Logan is in Oktober 2013 met behulp van ʼn noodoperasie gebore nadat die naelstring om sy nek vasgetrek het, en hy heelwat suurstof ontbeer het.

Die driejarige moes op sewe maande ʼn hartoperasie ondergaan om die gaatjie in sy hartklep te herstel. Sammy vertel dié gaatjie het in werklikheid hul seun se lewe gered.

“Hulle het toe ook agtergekom dat die hoofare van die hart omgeruil is en nie in die regte hartkamers is nie. Hulle moes die are rek en in die regte hartkamers sit. Die gaatjie in sy hartklep het toe eindelik sy lewe gered omdat dit die bloed daardeur kon pomp,” het Sammy gesê.

Hoewel dokters gesê het die operasie was ʼn sukses, het sake vir die gesin net begin versleg.

Logan het in 2015 ʼn beroerte gehad en moes terug hospitaal toe.

Logan saam met Mej. Doof Wêreld, Janie Erasmus (Foto: Facebook)

Logan saam met Mej. Doof Wêreld, Janie Erasmus (Foto: Facebook)

“Die dokters het vir ons gesê hy het permanente breinskade opgedoen. Ons weet nog nie of dit van die naelstring om sy nek is tydens geboorte nie, en of dit was as gevolg van die operasie nie. Ons het nie antwoorde nie.”

In dié tyd het die gesin ook die nuus gekry dat algehele doofheid by Logan gediagnoseer is.

“Ons het in die dokter se spreekkamer gesit en my man se selfoon het gelui. Die dokter het gesien Logan reageer nie op die klank nie, en het gesê hy kan dalk doof wees. Dié diagnose is later deur ʼn spesialis bevestig.”

Benewens die feit dat Logan nog glad nie kan loop nie en ʼn gewas op die brein het, sê Sammy dat dokters nou fokus op kogleêre inplantings.

“Die dokters sê hulle is nog nie bekommerd oor die gewas op sy brein nie omdat dit nie kwaadaardig is nie. Ons wil egter nou vir hom kogleêre inplantings gee, omdat ons glo dit sy lewe drasties gaan verander. Die dokters glo ook hy loop nog glad nie as gevolg van die doofheid. Dit het baie te doen met balans,” het sy bygevoeg.

“As hulle in staat is om sy gehoor terug te kry voor vierjarige ouderdom, kan hy dalk nog normaal ontwikkel. Daarom veg ons so hard.”

Die gesin was in ʼn maande lange stryd met hulle mediese fonds.

“Die dokters het net gesê dis kosmeties, en dit was die einde van die verhaal. Ons moes aanhou baklei. Eindelik het een van ons dokters ingestem om te help en die mediese fonds oortuig om die operasie vir een van die ore en twee dokters te betaal.”

Logan Dyssel (Foto: Facebook)

Logan Dyssel (Foto: Facebook)

Dr. Elmarie Burden, die dokter wat die beplande operasie op hom gaan uitvoer, het intussen ook ingestem om die geld vir een buite-gehoorapparaat vir die oor te verskaf.

Logan benodig egter nog geld vir die operasie aan die ander oor, en nog ʼn buite-gehoorapparaat.

“Ons veg al drie jaar lank vir die kind, en gaan nie nou ophou nie. Ons het tot op hede R27 000 ingesamel, maar dit is nog ver van ons teiken van R125 000. Ek gun my kind ʼn fraksie van ʼn normale lewe. Ek smeek mense om hulle harte oop te maak.”

Sammy sê herhaalde poging om by projekte soos Good Morning Angels betrokke te raak, het geen vrugte afgewerp nie.

“As jy net iets kan gee. As my kind net weer kan hoor, kan ons hom help loop. Later kan ons kyk of ons hom nog verder kan help,” het sy gesê.

Die beplande operasie gaan in die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria plaasvind.

Vir meer inligting, kontak Sammy by 071 485 3585 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Kontak ook vir Pippa by 073 689 8896.

Besoek Logan se Facebook-blad vir meer inligting oor skenkings.

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is baie grafies en kan sensitiewe lesers of kinders ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lelani ·

Ag nee kom GOOD MORNING ANGELS kan julle nie hulle help nie???

ekke ·

Good morning angels.. kom nou, julle verrig wondere vir soveel kinders, hier is nog ene asb…

Candice ·

Ai weet jy ek sal se die ou kleintjie het die geld meer nodig as iemand se club fooie om n atleet te wees. Hulle het vir ou Jayvon gehelp! Kom Good Morning Angels asb.

KOEKIES ·

Nog n vraag ,hoekom kan GOOD MORNING ANGELS nie die kleintjie ook help, ek glo hy sal so bly wees as hy ook n bal kan skop kan hardloop en loop. Wys ons julle goedhartigheid.soos CARING DAIZY’S altyd HELP.

Karma ·

Ek wonder soms (let wel: ek WONDER soms) of dit regverdig is om kinders en mense wat sulke erge breinskade en ander mediese problem soos dié outjie het, te “red” en aan die lewe te hou – kunsmatig deur ‘n spul operasies en handevol medisynes ens. Kom ons sê dit was 120 jaar gelede; sou die outjie dit gemaak het nadat sy naelstringetjie om sy nekkie gedraai het en hy letterlik verwurg het in die baarmoeder? Nee, die arme ma sou ‘n miskraam of stilgeboorte gehad het. Ek weet dat ek nie aan die lewe gehou wil word met masjiene die dag as ek nie meer “by” is nie – dit is genoeg dat ek nou handevol pille moet afsluk vir allerhande kwale. Ek kry die ou seuntjie baie jammer en wens ek was die Towerfee wat net ‘n staffie kon swaai en alles sou reg wees. Die arme ouers het al seker deur dubbele hel gegaan elke keer as hy ‘n operasie moet kry of hospitaal toe moet gaan. Ai, mens sal ook nooit die lewe verstaan nie ………..

Louise ·

Dis baie hartseer, baie sterkte aan die gesin julle is in my gebede en hoop regtig hierdie geld word so spoedig moontlik ingesamel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.