Maak ’n geldslim kind groot

 spaarvarkie_geld.jpg

Foto: xlboomshop.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Stop jou kind ’n geldjie in die hand en die kans is goed dat hy of sy dit op speelgoed, lekkergoed, of ander onnodige goed gaan uitgee. Daar skort natuurlik niks daarmee as hulle die geld wil uitgee nie, maar hulle moet wel geleer word dat dit nie ál is wat hulle met daardie geld kan doen nie.

Inteendeel, daar is drie finansiële beginsels wat jy van kleins af by jou kind moet vaslê:

  • Bestee: Hy kan sy geld bestee aan iets wat hy nou wil hê.
  • Spaar: Hy kan sy geld wegsit vir iets wat hy moontlik in die toekoms wil aankoop of doen.
  • Gee: Hy kan sy geld deel met mense of organisasies wat na ander mense, diere of selfs die omgewing omsien.

Insig van al drie is noodsaaklik om gesonde finansiële gewoontes te kweek.

Die moeilikste beginsel om aan kinders oor te dra is hoe om te spaar, veral omdat Suid-Afrika so ’n swak spaarkultuur het. Om jou kind aan te moedig om te spaar kan julle saam besluit om enige geld wat ontvang word in bepaalde persentasies aan die drie groepe toe te ken, bv. 50% van sy verjaardaggeld of sakgeld gaan hy spaar, 40% gaan hy aan iets bestee en 10% gaan hy weggee.

’n Gewilde opsie om aanvanklik hierdie konsepte vas te lê, is die gebruik van drie flesse (of spaarvarkies vir jonger kinders). Enige geld wat jou kind ontvang, word volgens die voorafbepaalde persentasies tussen drie flesse of varkies – een gemerk spaar, een gemerk gee en een gemerk bestee – verdeel. Dit werk goed omdat dit ’n meer tasbare ervaring is as om geld in die bank te sit, want jou kind kan die geld sigbaar en tasbaar verdeel en insit. Hy kan ook sien hoe elke bedrag groei (of krimp).

Namate jou kind ouer word en sy behoeftes begin verander, is dit belangrik om hom toe te laat om sy eie besluite te neem as dit by sy geld kom. Moet hom nie finansieel uithelp as hy swak besluite neem en sy geld mors nie (dis ’n waardevolle les) – lei hom eerder deur hom van verskillende uitgawes, soos verjaardaggeskenke en vermaak, bewus te maak en hom te leer hoe om behoorlik te begroot vir dit wat hy beplan.

Jy kan hom ook aanmoedig om te spaar deur ’n bankrekening in sy naam te open waarin hy gereeld ’n gedeelte van sy geld (bv. sakgeld of verjaardaggeld) kan deponeer. ’n Bykomende aansporing kan wees dat jy ’n gelykstaande bedrag aan wat hy self gespaar het, sal bydra.

Leer jou kind nóú om slim te bestee, te spaar en te gee, sodat hy in die toekoms finansieel gesond kan leef.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.