10 wenke om my kind te help met teleurstellings

Argieffoto (Foto: Tumisu, Pixabay)

Elke ouer wil graag hul kind beskerm teen teleurstelling. Maar dit is nie altyd moontlik nie. Hier is ‘n paar wenke om in gedagte te hou volgende keer as dit nodig is:

1. Teleurstelling word direk gekoppel aan verwagtinge wat nie bereik is nie. Dit is baie belangrik vir u kind om te leer dat verwagtinge gekoppel moet wees aan aksie. Bedoelende, ‘n verantwoordelikheid. Ook, verwagtinge wat nie gekommunikeer word nie, loop baie keer verkeerd. En maak nie saak hoe mens beplan nie, daar is ‘n altyd ʼn kans dat iets anders kan uitdraai. Dit als beïnvloed hoe mens teleurstelling interpreteer en ervaar.

2. In ʼn era van onmiddellike bevrediging en ontelbare veranderlikes is daar altyd ‘n kreatiewe spanning tussen wanneer iets gebeur en hoe dit gebeur. As die hele verwagting op die uitkoms gerig is maar glad nie die proses in ag neem nie, is die kanse goed vir teleurstelling êrens langs die pad.

3. Onthou altyd jou rol: bied ondersteuning en gesonde perspektief. Jy kan nie altyd die regmaker wees wat als oplos en uitsorteer nie.

4. In hierdie verband is dit belangrik om te onthou: al kry jou kind hoe seer, dit help nie jy “versag” die teleurstelling deur verskonings vir hul aan te bied of om die blaam te skuif na iemand anders nie. Uiteindelik ontneem jy hulle van die groei-geleentheid.

5. Teleurstelling bly ʼn baie subjektiewe, persoonlike ervaring. Dit beteken mens kan dit anders ervaar deur jou ingesteldheid aan te pas.

6. Goeie riglyne direk ná ʼn teleurstelling sluit in: laat die persoon toe om te voel wat hulle voel; dit is nie nodig vir hulle om dadelik te reageer op die emosie nie; help hulle om ʼn objektiewe afstand te kry sodat hulle ʼn gesonder perspektief het op die ervaring as geheel; begin te gesels oor wat gebeur het en wat hulle dalk anders kon gedoen het sonder om te verval in slagofferskap of beperkte denkwyses; help hulle om te besef dat hulle ʼn keuse het en kry ʼn onmiddellike korttermyn-fokus wat hulle sal help om aan te beweeg. Dit als dra by tot aanvaarding en ʼn gesonde narratief rondom sukses/teleurstelling; hernu die toewyding en beweeg aan. Hierdie stappe kan minute vat of maande; met die tyd word mens beter daarmee.

7. Ons wil verhoed dat teleurstelling ʼn kind ontneem van hulle selfvertroue, waagmoed of drome. Daarom is dit belangrik dat ons hulle ondersteun.

8. Teleurstelling word baie keer makliker om te hanteer as ʼn kind ander bronne van vreugde, erkenning en betekenis het wat nie gekoppel is aan die spesifieke teleurstelling nie.

9. Teleurstelling kan baie betekenis bied as dit jou leer om in die toekoms goed beter te hanteer – van verwagtinge aan te pas, tot die neem van verantwoordelikheid en die kweek van geestelike veerkragtigheid.

10. Bemagtig jou kind om met die tyd die denkproses ná teleurstelling self deur te gaan. Kinders wat hierdie vaardigheid ontwikkel sal die onafwendbare aanslae van die grootwordjare beter kan hanteer.

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet ·

In vandag se tyd dat elke kind n “deelname” sertifikaat en medalje kry is ook belaglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.