10 wenke vir ouers van begaafde kinders

Argieffoto (Foto: nightowl, Pixabay)

Dit gebeur dat ouers êrens langs die pad besef hulle kind is besonders begaafd in ʼn spesifieke aktiwiteit. Enige ouer se wens sal dan wees om hierdie kind te help om hulle potensiaal te bereik. Dit word soms problematies omdat ʼn kind nie noodwendig al reg is vir die spesialisering nie. Of meestal nog net nie volkome ontwikkel het in ander areas van hulle lewe nie. Om so ʼn kind ʼn regverdige kans te gee op sukses, geluk en gesondheid, is daar ʼn paar goed wat mens in ag kan neem.

  1. Eerstens, onthou dat die kind nie moet presteer ten koste van hulle eie emosionele ontwikkeling nie. Maak seker dat hulle nog steeds gepaste ervarings het vir iemand van hulle ouderdom. Vriende speel veral hier ʼn belangrike rol. Hulle moet êrens die kans hê om net kind te wees. Veral as hulle op ʼn ander plek baie druk ervaar. Moet hulle nie oorbeskerm nie.
  2. Dus, dieselfde reëls en waardes geld vir hulle as vir die ander kinders in die huishouding. Spesiale toegewings gaan natuurlik hier en daar gemaak word, maar meestal is dit belangrik om hulle voor te berei vir die wêreld daarbuite waar hulle nie gaan kan aandring op spesiale behandeling nie.
  3. Ondersteun hulle passie en belangstelling. Dis belangrik vir hulle. Moet nie afkeurend daarna verwys nie; hierdie is iets wat hulle na aan die hart lê en jou houding teenoor dit kan ervaar word as ʼn algemene houding teenoor hulle as mense.
  4. Ongeag wat hulle eendag gaan doen is dit belangrik dat hulle moet leer hoe om teleurstellings en mislukking te hanteer. Berei hulle voor vir wanneer dit dalk gebeur. Help hulle daardeur as dit wel gebeur. Dis deel van die gegewe en nodig as hulle nog meer wil presteer. Hul reaksie daarop is rigtinggewend.
  5. Kweek ʼn gesonde selfvertroue by hulle wat nie net gekoppel is aan prestasie en erkenning nie. Hul identiteit moet nie opgevang wees in hierdie spesifieke aktiwiteit nie. ʼn Volronde mens gaan ander invloede hê wat hulle selfbeeld beïnvloed. Dit sal veral help met bogenoemde teleurstellings.
  6. Hier is balans nodig. Hulle moet nie gevrywaar word van huishoudelike pligte of gesinsrituele nie. Dit moet hulle voorsien van vaardighede en insigte wat hulle gaan help om begaafd te wees in ʼn wêreld wat nie noodwendig ingerig is vir hulle nie.
  7. Druk en spanning is normaal. Maar sonder voldoende ontspanning raak dit gevaarlik. Maak seker daar is tyd en ruimte daarvoor om soms net niks te doen nie of net lekker tye te hê. Hierdie kinders is soms obsessief oor iets spesifiek en kan nog nie die groter prentjie sien nie. Tot hulle dit kan doen, moet mens goed vir hulle inbou waar hulle soms net kan ontspan.
  8. Dis ongelooflik as iemand wel begaafd is en baie belangstel in iets. Gee hulle soveel as moontlik blootstelling. Maak hulle wêreld vir hulle oop. Die internet help natuurlik baie daarmee, maar stel hulle bekend aan materiaal of mense wat verwant is aan hulle belangstelling.
  9. Dis soms so dat ʼn kind uiters begaafd is, maar dit nie hulle belangstelling is nie. Ons moet kan onderskei tussen wat hulle kan doen en wil doen. Asook wat ons wil hê hulle moet doen. Dis ʼn deurlopende gesprek. Soms verander belangstellings. Soms verander passies. Wees oop daarvoor dat dit nie noodwendig hulle loopbaan gaan word nie.
  10. Ondersteuning bly dus ʼn wonderlike riglyn. As hulle omdraai, moet hulle weet jy gaan daar wees vir hulle.

 

*Gielie Hoffmann werk as geestesbreier met atlete, spelers en spanne. Sy boek, The Tough Athlete, is op Amazon beskikbaar. Hy help gereeld afrigters en ouers om hierdie balans te vind.

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gertryda ·

Alle ma ‘s dink hul kinders is geniaal
Hoe weet n mens watter kind is begaafd

T ·

Hi, jy kan jou kind laat toets.
Gaan kyk bietjie op MENSA se webtuiste, hulle sal jou met iemand in verbinding kan bring. Sterkte

Breytie ·

Op watter manier is enige iets in hierdie artikel anders as vir enige kind? Ouers moet intiem etrokke wees by al hulle kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.