20 belangrike feite oor disleksie

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash/Josh Applegate)

Disleksie is ʼn leerstoornis waar letters omgeruil en die volgorde van letters in ʼn woord vergeet word. Vir disleksielyers kan dié leerstoornis ʼn frustrerende en vernederende uitdaging wees in ons wêreld van tegnologies gevorderde kommunikasie.

Oktober is Internasionale Disleksie-bewusmakingsmaand en fokus daarop om eensgesinde organisasies te verenig en sodoende kennis en hulpbronne met ouers, onderwysers en die algemene publiek te deel.

Die leeskliniek Edublox het ter ondersteuning van die bewusmakingsveldtog ʼn lys van 20 feite oor hierdie leerstoornis saamgestel:

  1. Die term is in 1884 deur die Duitse oftalmoloog Rudolf Berlin geskep en in gebruik geneem. Dit kom van die Griekse woorde dys, wat “swak” beteken, en lexis, wat “woord” beteken.
  2. Disleksie is algemeen. Volgens ʼn Yale-studie sukkel een uit vyf mense met disleksie.
  3. Soos hipertensie kan disleksie wissel in graad. Die terme lig, matig en erg word gebruik om die graad te beskryf.
  4. Daar is baie en uiteenlopende simptome. Dit sluit onder meer in: letteromkering (verwarring tussen b en d); spieëlskrif (lees “kas” as “sak”); plaas letters in die verkeerde volgorde (lees “ketel” as “tekel”); klankweglating (lees “bak” vir “balk”); lees baie stadig en huiwerig; lees met swak begrip.
  5. Mense met disleksie het dikwels ʼn uitdaging om te spel. Spelvaardigheid hou verband met visuele geheuevermoë.
  6. Die algemene beskouing dat mense met disleksie letters en woorde agterstevoor sien, is nie waar nie. Letteromkering en spieëlskrif is bloot ʼn prosesseringsprobleem.
  7. Daar is twee hooftipes. Disleksie wat met swak visuele prosessering verband hou, word diseidetiese of visuele disleksie genoem, terwyl ʼn leesgestremdheid wat met ouditiewe prosesseringsprobleme verband hou, disfonetiese of ouditiewe disleksie genoem word.
  8. Daar is twee afsonderlike gebiede in die brein betrokke by die proses om te leer lees: een gebied klank woorde uit en die ander sien woorde as prentjies. By disfonetiese disleksie werk die klankgebied nie goed nie, en by diseidetiese disleksie die visuele gebied.
  9. Disleksie word met stadige prosesseringspoed verbind. Bestuurders met disleksie reageer 20 persent stadiger op verkeerstekens wanneer hulle in die platteland bestuur en 30 persent stadiger op stadspaaie as bestuurders wat nie disleksie het nie.
  10. Baie mense met disleksie vind volgorde problematies, dit wil sê dit is moeilik om iets in ʼn spesifieke volgorde waar te neem en ook om volgorde te onthou.
  11. Hulle het dikwels ʼn swak ouditiewe geheue. Toe disleksiese musikante met hul nie-disleksiese eweknieë in ouditiewe persepsietoetse vergelyk is, het albei groepe ewe goed presteer, maar die disleksiese musikante het heelwat swakker gevaar in toetse wat ouditiewe korttermyngeheue meet. Die disleksiese musikante met die swakste ouditiewe geheue het gewoonlik ook die swakste gelees.
  12. Mense met disleksie het swak langtermyngeheue. Altesaam 60 disleksiese kinders is vergelyk met 65 normale lesers van dieselfde ouderdom op ʼn verskeidenheid van take. Resultate het getoon dat disleksiese kinders se langtermyngeheue beperk is.
  13. Disleksie hou nie met IK verband nie. Navorsers van die Massachusetts Instituut vir Tegnologie het swak lesers van alle IK-vlakke waargeneem en kon geen verskil vind tussen die manier waarop swak lesers met of sonder disleksie dink terwyl hulle lees nie.
  14. ʼn Gebrek aan bewustheid lei daartoe dat die kind as “lui” bestempel word. Die waarheid is dat baie kinders met disleksie gemotiveerd is en soms ure aan huiswerkopdragte afstaan.
  15. Disleksie kom in gesinne voor. Kinders met disleksie het dikwels ouers met disleksie.
  16. Disleksie kan dit soms moeilik maak vir mense om op tradisionele wyses te leer. Maar dit is nie ʼn “siekte” wat “genees” moet word nie. Mense met disleksie kan met toepaslike onderrigmetodes suksesvol leer.
  17. Vergunnings is nie dieselfde as onderrig nie. Sodra ʼn kind met disleksie gediagnoseer is, kom hulle in aanmerking vir vergunnings, soos om meer tyd vir toetse te kry. Alhoewel hierdie toegewings hul punte kan verbeter, is dit geen plaasvervanger vir onderrig nie. Om slegs ʼn kind se disleksie te akkommodeer sal hulle nie leer lees of spel nie.
  18. Om vir 20 minute per dag hardop te lees, sal nie ʼn kind se leesvermoë verbeter nie. Luidlees help nie ʼn kind om onbekende woorde uit te klank nie.
  19. Gryp betyds in om akademiese en emosionele probleme te voorkom. Mense sê dikwels dit is makliker om ʼn tweede taal aan te leer as jy jonk is. Dieselfde geld vir lees!
  20. Jou kind kan dit regkry! ʼn Paar verkeerde draaie dikteer nie ʼn kind se lewenspad nie. Mense met disleksie behaal sukses in omtrent elke beroep waaraan jy kan dink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Phillip

Hierdie gesprek is 44jaar telaat gekom ek is disleksie en nie net woorde nie letters ook .

Adam Adriaan

My seun het aan erge disleksie gely. Na sowat twee besoeke aan ‘n Homopaat in Bloemfontein, in die begin 1990’s is hy genees van die probleem. Vandag weet hy van geen disleksie nie. Hy is 38 jaar oud. So doen jou self die guns en besoek so ‘n Dr. Die Dr het ook vele ander kwale van my en my huisgesin genees. Dankie Dr!!