5 finansiële wenke vir nuwe vaders  

Vaderskap stel ‘n hele nuwe lys eise aan jou beursie. (Foto: Verskaf.)

Vandag is Vadersdag en as jy ʼn nuwe ouer is, is daar nie net doeke en bottels om in te pak nie, maar ook ʼn hele nuwe lys eise wat aan jou beursie gestel word. In jou lewe vóór die baba het jy moontlik na advertensies vir ʼn nuwe bergfiets gesoek, maar nou kyk jy ewe skielik net so belangstellend na babastoeltjies en -waentjies.

Wat is die beste vir jou nuwe bondeltjie vreugde en waarop moet jy fokus as jy jou finansiële prioriteite as ʼn nuwe pa heroorweeg?

“Baie liefde en sorg sal altyd die belangrikste bly,” sê Sarah Nicholson, wat self die ma van twee seuns en kommersiële bestuurder van die webwerf JustMoney is.

“As jy onlangs ʼn nuwe lid van die klub vir slapelose nagte geword het, voel jy waarskynlik uitgeput en gedisoriënteerd van al die nuwe verantwoordelikhede en eise wat aan jou gestel word. Jy wil natuurlik net doen wat die beste vir jou baba is, maar dit is moeilik om te kies wat regtig noodsaaklik is as jy met soveel produkte en dienste gebombardeer word.”

ʼn Vinnige soektog na advertensies wat met babaprodukte en -dienste te doen het op ʼn gewilde webwerf, het soveel as 144 reisbykomstighede vir dié klein mensies gebied. Geen wonder ouers vol so verward nie!

“Dit is belangrik om nou nuwe gewoontes aan te kweek sodat jy voorbereid is op toekomstige uitgawes soos onderwys vir jou kind. Toepaslike versekering sal ook verseker dat as jy of jou maat nie in die toekoms ʼn inkomste kan verdien nie, dat julle minstens steeds in sommige behoeftes van jou kind kan voorsien,” sê Nicholson.

Sy gee nog ʼn paar finansiële prioriteite waarna ʼn nuwe pappa moet kyk:

  1. Pak die skuldbul by die horings: As jy skuld gebruik – soos ʼn kredietkaart met ʼn hoë rentekoers – om ʼn lewenstyl te bied wat jy nie regtig kan bekostig nie, is dit tyd om daarvan ontslae te raak en jouself van skuld te bevry. Aan die ander kant kan ʼn strategiese belegging soos ʼn huislening as ʼn positiewe stap beskou word. Lees op oor die verskil tussen goeie en slegte skuld.
  2. Stel doelwitte wat jou sal help om ʼn gesonde finansiële toekoms vir jou gesin te verseker: Stel ʼn maandelikse begroting op en bepaal waar julle kan bespaar. Sodra jou skuld gedelg is en jy genoeg gespaar het om jou huisgesin se uitgawes vir minstens drie maande te dek, kan jy na beleggings begin kyk.
  3. Verseker jouself: Versekeringspolisse wat lewensveranderende gebeure soos om ongeskiktheid, dood of aftrede te dek, bied sekuriteit deur ʼn enkelbedrag of ʼn inkomste oor ʼn langer termyn te verskaf as jy ongeskik vir werk verklaar word en nie meer ʼn salaris kan verdien nie. Voorbeelde van langermynversekeringspolisse is lewensversekering, begrafnispolisse en uittreeannuïteite.
  4. Maak die beste van die voordele van jou mediese fonds: As jy ʼn lid is van ʼn geregistreerde mediese fonds moet jou nuwe baba onmiddellik dekking kry. Kyk na jou plan om te sien of daar ekstra voordele vir ʼn baba is, soos ʼn toegewyde program vir pasgeborenes. Die beste mediese plan vir jou en jou baba sal afhang van jou baba se behoeftes en jou begroting.
  5. ʼn Plan vir onderwys: Baie ouers kies om in ʼn toegewyde spaarplan vir hoërskool- en tersiêre opleiding te belê. Onthou dat onderwys gewoonlik veel meer as net skoolgeld is – jy moet ook dink aan sportuitstappies, geskenke vir skoolvriende se verjaardagpartytjies, nasorg en vervoer. Doen navorsing oor belastingvrye spaarrekeninge en effektetrusts hiervoor.

Nicholson sê JustMoney is meer as tien jaar gelede begin om besige en digitaalvaardige Suid-Afrikaners maklike aanlyn toegang te gee tot finansiële inligting, geldbestuurinstrumente, produkte en dienste.

“Dit is die moeite werd om op ons webwerf te gaan loer vir spesiale aanbieding wat ook boeke, speelgoed en versorgingsprodukte insluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.