5 wenke vir ouers van kinders wat met hul gewig sukkel

Argieffoto (Foto: NamasteNomad/Pixabay)

Die wêreld is dikwels ʼn eensame plek vir kinders wat oorgewig is. Hierdie kinders word dikwels deur hul maats uit die groep verstoot, gespot en dikwels geboelie.

Die sielkundiges Gray, Kahhan & Janicke bevestig hierdie tendens en is van mening dat kinders wat oorgewig is, se maats hul op ʼn negatiewe manier beskou en hulle beskryf as: “lazy, unattractive, less intelligent, and less socially skilled”.

Ouers is dikwels raadop en weet nie hoe om die situasie te hanteer nie. Hulle reageer gewoonlik op twee uiterste maniere: óf hulle ignoreer die situasie totaal óf hulle oorreageer en laat die kind nog slegter voel, wat net verdere skade en letsels by die kind laat.

Navorsing bevestig ook dat literatuur en die hantering van oorgewig by kinders, meestal op die fisieke gevolge van oorgewig by kinders fokus. Die nie-fisieke gevolge (emosionele en psigososiale) soos depressie, sosiale isolering, stigmatisering, diskriminasie, swak selfbeeld, selfveragting en swak akademiese prestasies word minder in ag geneem. Hoe dan nou gemaak?

Hier is vyf wenke vir ouers met kinders wat oorgewig is:

Argieffoto (Foto: ThorstenF/Pixabay)

1. Sien die tekens raak

Moenie die tekens van oorgewig of vetsug ignoreer nie. Baie ouers redeneer dat die probleem sal verdwyn. Mens hoor dikwels ouers sê dat my kind daaruit sal groei, al die Van den Merwes lyk maar so. Ja, genetiese faktore speel ʼn groot rol by oorgewig, maar die kind moet, soos hy leer om te lees en skryf en wiskunde doen, leer watter uitwerking sekere voedsel op sy liggaam het en dat hy sekere voedsel nodig het om te dink en te konsentreer.

Die kind moet dus op ʼn positiewe manier sekere beginsels van voedsel leer, dit gebeur nie vanself nie. Behalwe al die emosionele en psigososiale gevolge van oorgewig, kan die kind ook slaapapnee ontwikkel, wat tot chroniese moegheid kan lei, wat verskeie negatiewe gevolge het.

Hou ook tekens dop soos onttrekking van die portuurgroep, depressie, aggressie of tekens van te min of te groot eetlus. Kinders wys gewoonlik hoe hulle voel en ouers moet die tekens in hulle eie besige lewens raaksien.

Argieffoto (Foto: Pezibear/Pixabay)

2. Moenie onvanpaste opmerkings maak nie

Nie net maats nie, maar selfs ouers en onderwysers maak onvanpaste opmerkings. Maats sal dikwels blatante opmerkings maak soos “Jou vetsak” of “as jy op iemand val, staan hulle nooit weer op nie”. Die onvanpaste, onskuldige opmerkings kom soms van onderwysers af soos, “Jy moet stut speel, jy is die grootste”. Die liggaamsopvoeding-onderwyser kan soms onbewustelik die oorgewig kind ʼn bietjie harder dryf – want die kind het dit immers nodig.

Ma en Pa kan natuurlik ook ʼn skewe opmerking maak wat sussie of boetie se selfbeeld kan skaad met, “Ag sussie, moet jy so baie eet?”, terwyl die ander kind nog ʼn sny koek eet (want gelukkig is sy nie so mollig nie).

Argieffoto (Foto; rudyanderson/Pixabay)

3. Oefeninge moet nie ʼn straf word nie

Die ouers besef dat die kind se gewig aangespreek moet word en besluit dat die kind meer oefeninge moet doen.

Die ouers besluit die kind moet gaan draf en forseer die kind tot aksie. Ma en Pa laai die kind by die baan af en sien toe dat hy vyf keer om die baan draf, terwyl hy aangemoedig word om dit vinniger te doen.

Die kind besef dadelik hy word nou gestraf vir sy ronde lyfie en raak net meer negatief oor oefeninge en sy liggaam. Oefeninge moet eerder ʼn gesinsaktiwiteit word, waar die hele gesin saam fietsry, staproetes aanpak of selfs net elke dag in die huis op die maat van musiek hul liggame rondswaai en laf is en só die nodige oefeninge inkry.

Argieffoto (Foto: NadineDoerle/Pixabay)

4. Stel vir jou kind grense

Ouers vermy dit dikwels om grense te stel omdat hulle nie die kind wil ontstel nie en soms bloot omdat dit moeiliker is om die grens te handhaaf.

Grense word egter gestel om die kind te beskerm, omdat hy nog nie die ervaring (van oorsaak en gevolg) en intellektuele vermoë het om sekere besluite te neem nie.

Grense moet dus ouderdomspesifiek wees. Daar is egter sekere grense wat vir alle mense geld. Te veel televisie kyk, te veel lekkernye, te min slaap en te veel gemorskos is vir alle ouderdomme sleg.

Vir kinders is dit net meer skadelik, omdat hul nog klein lyfies het. Stel maar die grense, soos net ʼn uur se skermtyd per dag, want anders gaan die kind nie buite speel nie. Of geen aandete voor die televisie nie, want gesamentlike gesinsetes bevorder verhoudinge. En natuurlik, beperk die lekkernye anders gaan die kinders nie honger wees vir die groente nie.

Argieffoto (Foto: socialmamag/Pixabay)

5. Kry die nodige hulp

Ouers is dikwels tereg versigtig om hulp te vra as dit by die oorgewig kind kom.

Ouers voel dalk die probleem is nie so erg nie, hulle kan self die probleem aanspreek. Of “Ag nee, ek was ook maar so op skool”. Statistiek bewys egter dat oorgewig kinders, in die meeste gevalle, oorgewig volwassenes word.

Hulp moet egter op ʼn holistiese wyse aan die kind gebied word. Net ʼn dieet of net oefeninge is dikwels nie die antwoord nie. Kinders moet in elke geval nie op ʼn lae-kilojoule dieet gaan nie, hulle moet gesond eet.

Die totale kind moet raakgesien en behandel word en daarvoor moet ʼn dieetkundige, kinderkinetikus, dokter en spelterapeut/sielkundige ingespan word. Kry die nodige ondersteuning en sorg dat jou kind weer lag en sy volle potensiaal kan bereik.

Moenie wag nie, maak vandag ʼn verandering in die kind wat leef met oorgewig se lewe.

Bronne:

  • Cornette, R. 2008. The emotional impact of obesity on children. Worldviews on evidence-base nursing, 5(3):136-141.
  • Gray, W.N., Kahhan, N.A. & Janicke, D.M. 2009. Peer victimization and pediatric obesity: A review of the literature. Psychology in the schools, 46(8):720-727.
  • Hermann, E.C. 2016. ʼn Holistiese maatskaplikewerk-ondersteuningsprogram vir die kind in die middelkinderjare wat leef met oorgewig of vetsug. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.

Dr Elsha Hermann is ʼn spelterapeut en spesialiseer in haar praktyk op oorgewig kinders. Besoek www.ekterapie.co.za vir meer inligting of stuur vir dr Hermann ʼn e-pos by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jay ·

Hou op lui en sleg wees en begin oefen, vet wees is net so erg n siekte soos wat “verslawing” is. Bog. Jy wou vet word, deal with it.

Humbug ·

Jay, nie net maer mense het n reg op aarde nie. Jy weet nie en soveel daar buite weet nie hoekom mense oorgewig is nie. Ja jy kry die klomp wat hul so eet maar wie is sie mensdom om mense so te veroordeel. Hul weet nie wat die werklike rede is nie. Siekte of wat. Ek werk id mediese veld en sien hoe mense dood gaan van honger agv kanker en siekte MAAR STEEDS voel en glo maergatte dis net hulreg op aarde. Siek man!!! Hulle het ook gevoelens

honruable member ·

Vandag se kinders le net voor die tv en eet of op selfone speel. Begin sport te doen en aktief te wees dan sal die goed nie gebeur nie. Ouers moet sorg dat hulle kinders gesonde kos eet. Gaan kyk maar as die kinders oorgewig is dan lyk die ouers nie veel beter nie.

Anoniem ·

Daar is soveel van vandag se ouers wat nie weet wat is gesonde voeding nie. Of hulle het nie die tyd of lus om (gesonde) kos te maak vir die gesin nie.

Die persoon wat sorg vir etes (gewoonlik die ma) speel ‘n baie groot rol in die eetgewoontes en gesondheid van haar gesin.

Jozi ·

Ek stem saam Hon Member.
Die probleem begin by die ouers. Geen kind word oorgewig, of kom ons noem dit by die naam , vet gebore nie.
‘n Baba is hoofsaaklik van die ma afhanklik vir voeding en ander behoeftes.
Die kleuter kan ook nie vir hom/haarself sorg nie. So wat se dit vir ons?
Ek staan verstom as ek om my kyk en dis net oorgewig mense waar jy kyk.
Van spekvet babas in hul stootwaentjies tot jong, ronde tieners, ou boepens omies tot waggelende tannies met hobbels op die bo-bene en ‘n paar rolletjies waar daar ‘n middeltjie behoort te wees.
Ek weet, ek weet… ek gaan gekruisig word want ek is nou baie onsensitief, maar ek staan by wat ek se.
Ek besef daar is sommige mense met ‘n mediese kondisie wat sukkel met die gewig saam, maar vir die res wat so hyg-hyg deur die lewe gaan het ek nie veel simpatie nie.
As ouers is dit ons plig om seker te maak ons kinders handhaaf ‘n gesonde lewensstyl.
Stel ‘n goeie voorbeeld deur baie minder tyd voor die TV deur te bring en gaan kry ‘n bietjie vars lug daar buite.
En hou verby met die gemorskos. ‘n Stukkie vleis met ‘n groentetjie en ‘n lekker slaai is baie gesonder.

anoniem ·

Jul as ouers is vinnig om te oordeel oor die van ons wat wel kinders het wat oorgewig is. Dis juis ouers soos julle wat die lewe vir die oorgwig kinders hel maak, want julle sal nie skruim om te se oe kyk daai vet kind en dan hoor jul eie kinders dit en se dit dan vir hulle. Maar voor jul vingers wys, het jul al gedink dat daar moontlik fout is met die kinders, soos medies fout? My dogtertjie is 8jr oud, sy weeg 34 kg en is maar 1.2m lank, sy is oorgewig asgewolg van haar sklidklier, sy is meer aktief as meeste van julle, sy doen netbal, sy is betrokke by alle kultuur, sy doen gymnastiek en selfs bootcamp 2 keer per week, maar sy bly oorgewig. Die beste van als is sy eet nie lekkers nie nog nooit daarvan gehou nie, sy gril vir dit as iemand lekkers om haar eet. Dis ‘n daaglikste stryd vir haar om in te pas, sy is die liefdevolste mensie wat ek ken, maar kinders en groot mense kyk eerste na haar gewig vooor hul na haar as persoon kyk.

Jozi ·

@anoniem. Soos ek gese het, ek het begrip vir mense wat oorgewig is agv mediese redes.
‘n Onderaktiewe skildklier kan behandel word met die nodige medikasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.