8 maniere om eksamenstres hok te slaan

Argieffoto (Foto: JESHOOTScom/Pixabay)

Hierdie tyd van die jaar is die meeste mense afgemat, moeg en onder baie druk om alles klaar te kry voor die Kersfees-geskarrel begin. Leerlinge ervaar selfs meer druk, weens eksamenstres wat hulle in die gesig staar.

Een van die groot nadele van stres, is dat dit breinselle laat doodgaan. Hoe meer spanning ’n leerling dus ervaar, hoe minder inligting neem hulle in. Stres veroorsaak boonop dat jou immuunsisteem nie so doeltreffend is soos gewoonlik nie, met die gevolg dat leerlinge meer gereeld siek word tydens die eksamen.

Hoewel stres ’n natuurlike reaksie is en selfs tot voordeel kan wees tydens die eksamen, is dit belangrik om nie abnormale stresvlakke die oorhand te gee nie. Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het agt maniere identifiseer om onnodige stres tydens die eksamen hok te slaan:

  1. Luister na klassieke musiek

Klassieke musiek het ’n fisiologiese effek op die liggaam, deurdat dit bloeddruk laat daal en onmiddellik ’n gevoel van welbehae in die leerling veroorsaak.

  1. Gaan stap ’n kort entjie

Jy mag dalk voel dat jy nie tyd het om vir twintig minute op te hou leer nie, maar die voordele aan ’n vinnige stappie weeg swaarder as die tyd wat jy dink jy mors. Breinskanderings van leerlinge wat 20 minute aktief was, wys dat hul breine meer aktief en helderder is, teenoor dié wat heeldag by hul lessenaar sit.

  1. Slaap genoeg

Dis dalk makliker gesê as gedaan, maar tydens die eksamen is dit beter om goed te slaap as deurnag te wil leer. Dit is omdat die brein slaap nodig het om nuwe inligting (wat jy gedurende die dag ingeprop het) om te skakel sodat en in jou langtermyngeheue te bêre.

  1. Omring jouself met positiewe mense

Wanneer jy die oggend by die skool opdaag, maak seker jy vermy vriende wat self baie stres en jou moontlik nog meer kan laat stres. Dit is ook nie nodig om ná die eksamen agter te bly om met vriende te redekawel oor die vraestel nie. Dit veroorsaak bloot onnodige spanning oor ’n vraestel wat reeds verby is en waaraan jy niks meer kan doen nie.

  1. Wees voorbereid

Deur betyds voor te berei, help jy jouself om kalm te bly. Stel ’n rooster op sodat jy jou tyd oordeelkundig kan gebruik en hou by jou skedule. Gee jouself genoeg tyd om tussendeur te ontspan en vroeg in die bed te klim.

  1. Eet gesond

’n Belangrike manier om spanning en stres te verminder is om jou liggaam gesond te hou. Fluktuerende bloedsuikervlakke beïnvloed jou energievlakke en kan bydra tot onnodige stres. Vermy items met te veel suiker en koolhidrate. Jy doen jouself nie ’n guns om ’n sjokolade net voor jou eksamen te eet nie. Maak ook seker jy kry genoeg proteïene in, deur laevet suiwel, vleis en neute te eet.

  1. Drink genoeg water

Onlangse studies wys dat water help om senuweeagtigheid te beperk en inligting tussen breinselle te laat vloei. Leerlinge wat water met hulle saamneem in die eksamenlokaal in, kan tot 10% beter vaar as leerlinge wat nié water drink tydens die vraestel nie.

  1. Leer in ’n netjiese area

’n Netjiese studeerkamer sal nie net jou ouers se hart bly maak nie, maar jou ook bevoordeel. Te veel items op ’n lessenaar trek jou aandag af en maak dit moeiliker om te konsenteer, wat om die beurt stres kan veroorsaak. ’n Mens se brein word vinnig moeg en verward wanneer dit gebombardeer word deur ’n magdom stimulerende items.

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!.

 

*Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die Skoleondersteuningsentrum (SOS) 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.