Aan my seuntjies oor Kersfees

Alexander en Sebastian. (Foto: Verskaf)

Liefste Alexander en Sebastian,

Dis amper Kersfees, die tyd wanneer ons Jesus se geboorte vier, dus sy verjaardag.

Verjaardae is wonderlik en is ‘n ekstra spesiale tyd om vir mense te wys hoe bly jy is dat hulle deel van jou lewe is.

Daar is baie geskryf oor Jesus se lewe, maar Mamma weet nie baie van Hom as seuntjie nie. Sy ma was Maria en sy pa was Josef en hy het ‘n paar boeties en sussies gehad.

Nou wonder Mamma soms… het Maria ook sommige dae lus gehad om in die spens weg te kruip waar niemand haar kon kry nie?

Het Maria party middae ‘n groot glas wyn vir haarself ingegooi en vlugtig gewonder watter tempo ‘n sosiaal aanvaarbare een is om dit weg te werk sodat sy met die volgende een kon begin? (Iemand in die huis moes wyn waardeer het; daai eerste wonderwerk kon seker nie blote toeval gewees het nie.) Sou Maria soms gewag het tot haar kinders slaap sodat sy in vrede en alleen haar Fruit Pastilles kon eet?

Het Jesus elke dag stroopsoet met sy klippies en stokkies (lees: lego en legkaarte en opvoedkundige boeke) in die sand gespeel, of het hy ook die vloermoer op ‘n jong ouderdom bemeester? Sou hy vir Maria skree dat sy stupid is? Het hy sy boetie met ‘n houtblokkie probeer gooi en geweier om enigiets te deel?

Sou Jesus elke dag ‘n storie op die iPad wou kyk? Élke dag. Selfs al is dit in Russies?

Het Jesus van vroeg al deurgeslaap? Het hy geweier om te bad? Sou hy elke dag ‘n Springbokhemp wou dra? Sou Maria ooit self die speelgoed in ‘n oomblik van meesterlike drama in die plastiekboks gesmyt het omdat haar kinders se “bene te moeg is” om op te ruim?

Het Jesus die kos geëet wat Maria vir hom gemaak het, of het hy sy bakkie op ‘n hond se kop uitgesmyt en gevra vir iets anders?

Sou Josef party dae net in vrede wou gholf kyk, wat nog van speel? Sou hy ooit ‘n platskerm-TV moes vervang wat die stryd teen ‘n hamer-kapper-plastiekkoppie verloor het?

Sou Maria haar kinders selfs liewer hê, elke keer wat sy Josef in hulle sien?

Sou Maria skuldig voel omdat sy Jesus kleuterskool toe stuur? Heeldag. Sou sy ooit stemboodskappe kry dat Jesus ‘n maatjie gebyt het?

Mamma wonder oor Jesus as ‘n seuntjie soos julle, maar Mamma wonder ook oor Maria as ma. Was sy soms sat om skuldig te voel? Oor sy te kwaai is? Oor sy nie kwaai genoeg is nie? Oor sy lekkernye as omkoopmiddel gebruik? Oor sy ongeduldig raak? Oor sy soms alleen wil piepie? Sou sy wroemwoede (road rage) gehad het of in Spar gedreig het om ‘n paplepel as slaanding te koop omdat haar kinders die minitrollies as missiele gebruik? En boonop skuldig gevoel het daaroor?

Mamma wonder of Maria bly was wanneer Jesus aan die slaap geraak het, maar dan ook kort-kort opgestaan het om te gaan kyk of hy oukei is. Sou sy foto’s van haar kinders neem as hulle slaap en by die verkeerslig op pad werk toe daarna kyk? Sou sy huil oor die Hilux-advertensie? Vir geen rede nie.

Sou Maria by haar God gepleit het om haar seuntjies veilig te hou? Sou sy ge-bargain het? Sou sy sonder ophou gebid het? Was sy soms vreesbevange dat sy Jesus nie sou kon veilig hou nie? Dat sy hom in die steek sou laat? Was sy ooit bang dat sy ‘n mislukking as ma is en dat haar kinders die prys daarvoor gaan betaal?

My liefste seuntjies, Jesus se ma was eintlik net dit: ‘n Ma. ‘n Ma wat eerder self sou sterf as dit haar kind kon veilig hou. As dit haar kind sou beskerm.

Sonder julle kan ek dit nie wees nie.

‘n Ma. Júlle ma. En dis bes moontlik die grootste voorreg wat ek ooit sal hê.

My seuntjies, kies die voetspore waarin julle stap versigtig. Wees julself genadig. Wees mekaar genadig. En wees my tog genadig wanneer julle eendag terugdink. As ek kon, het ek elkeen van jul kruise self gedra.

Geseënde Kersfees. Te lief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Atta ·

Sou jy beter gevoel het oor jouself as al die antwoorde “ja” was?

Sou jy jouself as mislukking gesien het as al die antwoorde “nee” was?

Die vraag is eintlik hoekom voel jy dis nodig om jouself met Maria te wil vergelyk? Of jou kinders met Jesus?

So tussen hakkies: Jesus was 100% mens maar ook 100% God, reeds van voor Sy geboorte af. Hy is die enigste sondelose mens in die geskiedenis, dus sou Hy kwalik ʼn “vloermoer” gegooi het. Dan sou Hy nie die volmaakte offer vir ons sondes kon wees nie en sou Hy slegs vir sy eie sondes gesterf het.

Hou gerus op stres, Jesus was volmaak, die res van ons nie. Dis hoekom ons Hom nodig het.

Phillip ·

‘n Vloermoer is nie sonde nie… dit is ‘n les wat ‘n kind leer om agter te kom dat hulle nie altyd hulle sin gaan kry nie. Wat die skrywer vra en oor wonder is geldig, en iets om oor na te dink… want soos sy skryf, is daar bittermin inligting in die Bybel oor Jesus as ‘n kind. Jy spekuleer net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.