Aanlyn leer is hier om te bly

(Foto: William Iven/Unsplash.)

Ongeveer die helfte (50,3%) van onderwysers wat aan ʼn onlangse meningspeiling van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) deelgeneem het, meen aanlyn leer is nou in skole gevestig.

Slegs 12,2% het gesê het hulle het ʼn poging aangewend, maar dat dit nie gewerk het nie. ʼn Onrusbarende 8,6% het egter erken dat hulle nie eens probeer het om aanlynleer in hul klas toe te pas nie.

Die SOS het die meningsopname gedoen om onderwysers se houding teenoor aanlynleer te bepaal ná die Covid-19-pandemie en afsonderingsmaatreëls ʼn dramatiese kopskuif by onderwysers en ouers oor die onderwys laat plaasvind het.

Altesaam 222 onderwysers het deelgeneem, waarvan 88,7% by openbare skole en 10,4% by privaat skole werk. Byna 1% is tans betrokke by die een of ander vorm van tuisonderrig.

(Grafika: Verskaf.)

Datakoste in Suid-Afrika is van die hoogste ter wêreld en het ʼn grootse uitwerking op die gebruik van aanlyn onderrigmodelle gehad.

Onderwysers is bewus van die gebrek aan data in baie huisgesinne en 70,7% van die respondente in die meningpeiling het aangedui dat kinders wat nie data het nie, die tweede grootste uitdaging vir aanlyn leer is.

Die grootste probleem is egter die sosiale omstandighede waarin die kinders leef. Interessant om te meld, is dat die onderwysers wat hierdie probleem aangemeld het, ook aangedui het dat hulle gemaklik is met die vordering wat hulle en hul leerders tydens die inperking gemaak het. Dit kan moontlik juis toegeskryf word aan die bereidwilligheid van hierdie onderwysers om meer tyd te spandeer aan skoolwerk, aangesien 89,1% meen hulle het hul tyd tydens inperking produktief gebruik om die sprong na aanlyn leer te maak.

Tegnologiese kennis was vir 21,2% van onderwysers nog ʼn struikelblok. Daar is ʼn groot aantal rolspelers wat die uitdaging aangepak het en sowel die SOS, as die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die departement van basiese onderwys het ingespring en onderwysers ondersteun.

(Grafika: Verskaf.)

Nog ʼn leemte in die veld is tans ʼn stelsel wat kan voldoen aan die vereistes van Suid-Afrikaanse skole. Weer eens is daar ʼn groot aantal platforms soos Google Classroom, Moodle en ander leerderbestuurstelsels (LBS/LMS) beskikbaar, maar het nie groot aftrek in Suid-Afrikaanse skole nie. In die opname het twee derdes (66%) bloot gebruik gemaak van WhatsApp om met leerders te kommunikeer. ʼn Verdere 18% het gebruik gemaak van ʼn LBS, Facebook (5%) en D6, ʼn kommunikasiestelsel wat deur skole gebruik word om met ouers te kommunikeer.

(Grafika: Verskaf.)

Die Wolkskool, ʼn aanlyn stelsel wat deur die SOS ontwikkel is, het tydens die inperking groot opgraderings ondergaan sodat dit doeltreffend (en tans gratis) deur onderwysers gebruik kan word om aanlyn leer toe te pas. Die Wolkskool kom egter veral tot sy reg wanneer die reeds bestaande aanbiedings in klaskamerlesse geïntegreer word, in ware vervlegte leer.

Die Wolkskool se funksionaliteit vergemaklik onderwysers se algemene klaskameradministrasie en stel tyd beskikbaar om leerders wat ekstra aandag nodig het, by te staan. Dit skep ook die geleentheid om leerders aan te moedig om die vaardighede aan te leer wat hulle gaan nodig kry om in die era van die Vierde Industriële Rewolusie (4IR) werk te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.