Aanlynspeletjies: Weet jy wat jou kind speel en saam met wie?

(Argieffoto: Pixabay)

(Argieffoto: Pixabay)

“Suid-Afrikaners is goed vertroud daarmee om sekuriteitsmaatreëls toe te pas wat hul wonings beskerm, maar baie laat steeds die deur wawyd oop vir kriminele deur hul kinders aanlynspeletjies te laat speel sonder toesig.”

Só sê Christine Nel, kommersiële direkteur van Maxtec, ʼn IT-verspreidingsmaatskappy, en gee ʼn paar riglyne oor hoe om potensiële risiko’s te vermy en jou kinders aanlyn te beveilig.

Hou dit ouderdomtoepaslik. Moenie doodeenvoudig die gekoppelde toestel vir ʼn jong kind oorhandig en verwag hy of sy moet op toepaslike platforms speel nie. Hulle gaan verken buite die toepaslike grense. Alle toestelle en rekenaarspeletjies word deesdae uitgebring met gesinsveiligheidsverstellings.

Neem die tyd om na te lees oor die spesifieke instruksies om dié verstellings te implementeer en neem dit ook in ag wanneer jy ʼn toestel vir jou kind kies.

Hou jou kind se ouderdom en volwassenheid in gedagte wanneer hy of sy vra om sekere speletjies te speel. Lees na oor winkelgraderings en inhoudbeskrywings en besluit daarvolgens of die speletjie toepaslik is vir jou kind. Kinders wil graag die speletjies speel wat hulle sien by ouer spelers in die huis en nie noodwendig speletjies wat gepas is vir hul ouderdomsgroepe nie.

Gesels met jou kind oor toepaslike speletjies. Om in gesprek met jou kind te wees is uiters belangrik aangesien dit die raamwerk skep vir ʼn beter verstandhouding oor speletjies. Gesels oor die veiligheidsmaatreëls wat jy getref het, die soort speletjies wat toepaslik is en wat nie, tydsbeperkings en die belangrikheid daarvan om speletjies, vriende, aktiwiteite en skoolwerk te balanseer. Laat weet jou kind dat jy van tyd tot tyd hul speletjies sal nagaan, veral as dit gesprekke insluit met mense wat jy nie ken nie.

Leer jou kinders dat aanlynvriende steeds vreemdelinge is in die regte wêreld. Spelers kan die werklikheid ontsnap en verskillende identiteite aanneem. Aanlynroofdiere kan dus voorgee dat hulle kinders is en kinders kan ook voorgee dat hulle volwassenes is. Vriendskappe kan ontwikkel tussen onvanpaste aanlynspeelmaats wat kan probeer om kinders te beïnvloed om hulle te kontak in die regte lewe.

Verstaan die omgewing. Op dieselfde wyse wat jy jou kind beskerm van kriminele aktiwiteite behoort jy hulle nie toe te laat om sonder toesig die aanlynwêreld te verken nie, veral nie as hulle nog baie jonk is nie. Die anonimiteit van die aanlynomgewing is ʼn teelaarde vir karaktervervorming, met kinders wat gereeld deelneem aan waaghalsige aksies wat hulle nie in die werklikheid sou doen nie, soos virtuele bende-aksies, seksuele oortredings, steel en om hulself skade aan te rig of selfs moord.

Verken die omgewing self om te bepaal of jy gemaklik is met die vlakke van geweld en die styl van een-tot-een interaksie tussen spelers. Deur deel te wees van die speletjiesomgewing sal jy die weg baan vir eerlike kommunikasie met jou kind oor hul speletjieprestasies en enigiets wat hulle ongemaklik maak.

Moenie aanneem dat alle tekenprentkarakters skadeloos is nie. Gewilde kinderprogramkarakters word dikwels gedupliseer vir gebruik in satire of vir ontstellende video’s en speletjies. Maak seker die tekenprent waarmee jou kind besig is, is die oorspronklike, kindervriendelike weergawe. Lees na of die karakters op wettige aanlynwinkels gevind kan word en of daar ouderdomsbeperkings is.

Voer tawwe gesprekke. Sowat 68% van die 22 miljoen draagbare toestel- gebruikers in Suid-Afrika is tussen die ouderdomme van twee en 17 en maak dus van die aanlynwêreld ʼn jagveld vir dié wat jog mense wil plunder. Leer jou kinders oor die risiko’s van plunderaars, seksuele gereedmaking van slagoffers en lê die klem op hoe gevaarlik persoonlike kommunikasie met aanlynvreemdelinge is. Maak seker jou kinders weet hulle kan met jou gesels oor enigiets wat hulle aanlyn ongemaklik maak.

Moenie hierdie gesprekke vermy net omdat jou huis nie aanlyn is nie. Jy mag dalk nie tuis internettoegang hê of toegang tot toestelle nie, maar jou kinders kan maklik toegang daartoe verkry by maats se huise of op selfone.

Beperk die deel van persoonlike inligting. Verduidelik die risiko daarvan en dring daarop aan dat jou kinders slegs minimale persoonlike inligting oor hulself in die aanlyngemeenskap deel. Hulle behoort nie foto’s, biografieë of inligting oor waar hulle woon of skool toe gaan te deel nie.

“Die dae is verby toe brandmure en kuberbeveiligingsmaatreëls slegs vir korporatiewe omgewings gegeld het,” het Nel bygevoeg. “Dit is die moeite werd om met ʼn kuberveiligheidspesialis te praat om uit te vind wat gedoen kan word om ʼn veilige tuisnetwerkbestuurstelsel uit ʼn sentrale punt in te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.