Aanneming: besluit met jou hart én kop

Argieffoto: Pixabay

Kenners sê aanneming kan die ideale oplossing wees vir gesinne wat smag na ʼn kind, maar waarsku dat besluite daaroor nooit halsoorkop geneem moet word nie.

Katinka Pieterse, voorsitter van die National Adoption Coalition of SA (Nacsa) en direkteur van Abba Specialist Adoption and Social Services het meer as twintig jaar ervaring, maar sê sy verromantiseer die proses steeds geensins nie. Dit is ʼn moeilike pad, maar uiteindelik ʼn baie bevredigende een. En een wat jou kan laat voel dat jou gesin uiteindelik volledig is.

Waar om te begin?

“Dis ʼn redelik gekompliseerde proses en dit vat tyd. Jy moet weet dis nie die maklikste proses nie en as iemand vir jou sê dit ís ʼn maklike proses, sien ek rooi ligte. Daar is ʼn hele wetlike proses wat gevolg moet word aan die een kant met die aanneembare kind. Daar is ook nie noodwendig al ʼn kind in die prentjie nie, verkieslik nie (behalwe in die geval van ʼn sogenaamde geïdentifiseerde aanneming). Ons werk uit ʼn kinderbeskermingsoogpunt, so ons werk in die kind se beste belang – vanuit ʼn kindgesentreerde perspektief.

“Ons vind nie kinders vir families nie. Ons werk met die kinders op ons registers. Hier is kinders wat families nodig het. Kinders wat aanneembaar is, wat nie families het nie. Ons soek families vir daai kinders,” sê Pieterse.

Sy sê die heel eerste stap is om ʼn gerespekteerde organisasie te vind wat spesialiseer in aannemings en om daarna diep selfondersoek te doen oor waarom jy ʼn kind wil aanneem.

“As jy met jou kop én jou hart ʼn besluit neem en jy verstaan die realiteit van aanneming en jy verstaan die profiel van die kind wat jy gaan aanneem en waar hy of sy vandaan kom en jy verstaan die uitdagings, dan gaan jy oop oë in. As jy aan die einde van daai proses nog steeds sê ‘dis wat ek wil doen, dis hoe ons ʼn gesin gaan word’, is ek vas oortuig jy gaan oukei wees.”

Hoewel aanneming swaar gereguleer word en die proses dikwels deur sistemiese probleme uitgerek word, word alles uiteindelik in die belang van reeds weerlose kinders gedoen.

Die siftingsproses

Pieterse sê die siftingsproses, waar ʼn voornemende ouer of ouers gekeur word, kan angswekkend lyk, maar dit is nie. Sy sê die hof moet uiteindelik tevrede wees dat in die beste belang van die kind opgetree is, en dat dié proses juis daarom so nodig is.

Die proses word nie afgerammel nie, en sal minstens ʼn paar maande duur. Dit sluit in agtergrondondersoeke oor jou gesin, jou huwelik (indien van toepassing), intra- en interpersoonlike verhoudings, mediese geskiedenis, referente en polisieklaring dat jy nie ʼn misdaadgeskiedenis het nie.

ʼn Voornemende aanneemouer kan dus baie blootgestel voel.

“In my hart en kop wil ek glo die maatskaplike werkers wat hiermee werk se benadering is ʼn ontwikkelingsbenadering. Hulle kyk nie hoe hulle jou kan diskwalifiseer nie, maar hoe hulle jou kan toerus,” sê Pieterse.

Voornemende ouers word intensief begelei oor wat om te verwag van die proses en die uiteindelike aanneming, sowel as hoe om verskillende situasies met ʼn aangenome kind te benader. Kinders wat in dié stelsel beland het dikwels op ʼn baie jong ouderdom reeds groot trauma of verlies beleef, en kan dus spesiale behoeftes hê.

Wanneer die proses afgehandel is en mense as voornemende aanneemouers goedgekeur word, word hulle name op ʼn lys by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling geplaas. Die proses om ʼn kind by die voornemende ouers te pas, begin hierna. Sodra dié passing afgehandel is, word ʼn verslag by die kinderhof ingedien en die aanneming daar bekragtig. Die kind is daarna in presies dieselfde situasie as enige ander kind in ʼn biologiese gesin en geniet ook dieselfde regte.

Argieffoto: Pixabay

Aannemingsvoorkeure

Pieterse sê die meeste mense het voorkeure wanneer hulle ʼn kind wil aanneem. “Ons praat van aannemingsvoorkeure. Jy kan nie kom met vereistes nie, want dan gaan jy ook baie lank wag. Vir maatskaplike werkers gaan dit oor die sorgbehoewende kind vir wie ons ʼn familie soek. Ons wil nie families vir kinders gaan soek nie, maar enige normale mens het voorkeure.”

Voorkeure word sover prakties moontlik in ag geneem en sluit in kwessies soos ras, geslag en ouderdom. ʼn Voornemende ouer moet ook sélf besluit waarvoor hy of sy kans sien. Pieterse glo ook dié voorkeure is baie belangrik vir die langtermynsukses van aanneming.

Die koste verbonde

Die koste verbonde aan die aannemingsproses wissel tussen organisasies, maar word deur wetgewing gereguleer. Dit vorm uiteindelik ook deel van hofdokumente wanneer die proses daar gefinaliseer word, wat behoorlike beheer verseker.

Pieterse sê egter dis nie net sogenaamde ryk mense wat as aanneemouers kwalifiseer nie, hoewel jy moet kan bewys dat jy ʼn kind kan onderhou.

“As jy (byvoorbeeld) by my kom en jy sukkel bietjie en jy’s nie finansieel so sterk nie en jy’s ʼn enkelma, jy’t bietjie druk, jou wêreld is nie perfek of ideaal nie, maar jy’t ʼn hart en jy wil aanneem, gaan ek met jou ʼn pad stap. Ek gaan jou nie diskwalifiseer nie, ek gaan jou toerus.”

Sy benadruk egter dat jy nooit vir ʼn kind mag betaal nie. Om te betaal vir ʼn diens waar ʼn spesialis jou deur die proses neem tot jy uiteindelik ʼn kind aanneem, is wettig. Om ʼn kind te koop, is mensehandel. Sy maan mense ook om weg te bly van advertensies op byvoorbeeld sosiale media waar iemand na ouers vir ʼn baba soek.

“Dis ʼn etiese mynveld. As jy nie jou eie biologiese kinders kan hê nie en jy is deur al hierdie infertiliteitspyn, dan is jy soms nogal desperaat. Die mense het seer. Hulle is desperaat en weerloos en dan kan hulle maklik slagoffers word,” sê Pieterse.

Veranderende profiel van aanneemouers

Die profiel van aanneemouers het die afgelope vyftien jaar boonop heelwat verander, en dis nie net sogenaamde tradisionele gesinne wat as geskikte aanneemouers gesien word nie. Tog is daar steeds heelwat hindernisse, dikwels te doen met tradisionele kultuur, wat die aannemingsproses kan bemoeilik.

Pieterse sê byvoorbeeld enkelouers, mense in selfdegeslagverhoudings, swart Suid-Afrikaners en paartjies wat net saamwoon maar nie getroud is nie, word toenemend aanneemouers. Selfs diegene met ʼn mediese toestand soos kanker (nie terminaal nie), kan kwalifiseer.

Waar pas pleegsorg in?

Pleegsorg lei nie noodwendig altyd tot aanneming nie, maar kan uiteindelik in ʼn permanente plasing verander. Pleegouers wil ook nie noodwendig altyd ʼn kind aanneem nie, of ʼn kind kan byvoorbeeld tot op 18-jarige ouderdom in pleegsorg bly, maar nooit aangeneem word nie.

Pieterse sê egter die meeste organisasies wat in aanneming spesialiseer, kan ook voornemende pleegouers akkommodeer.

En terwyl nagenoeg 500 000 kinders in pleegsorg geplaas is, sê Pieterse net meer as 1 100 aannemings is in 2017-’18 afgehandel.

Haar beste raad aan voornemende ouers is om nooit die proses halsoorkop of impulsief te benader nie, maar om ook nie daardeur afgeskrik te word nie.

Vakansieouers

Om as sogenaamde vakansieouers gekeur te word, gaan aansoekers deur grootliks dieselfde proses as vir pleegsorg. ʼn Maatskaplike werker moet ʼn tuisbesoek doen, persoonlike verhoudings, ook dié met ander kinders in die gesin, word ondersoek en die finansiële vermoëns van die gesin word in ag geneem. Aansoekers moet in dié geval ook polisieklaring hê, en mag byvoorbeeld ook nie skuldig wees aan veral oortredings teenoor kinders nie.

Volgens die Abraham Kriel Bambanai-tehuis is daar ook verskeie ander vereistes waaraan hulle sogenaamde vakansievriende moet voldoen. Dié mense wil veral ʼn diens aan ʼn weerlose kind lewer, en moenie net soek na byvoorbeeld ʼn speelmaat vir hulle eie kind nie.

Die organisasie sê kinders moet onder meer leer hoe om deel te uit te maak van normale gesinne en hoe om in gesinsverband pret te hê én konflik te hanteer. Daar word dus groot vertroue in vakansievriende geplaas om as modelle hiervan op te tree.

Klik hier vir nog inligting:

Die National Adoption Coalition of SA (Nacsa)
SA Regering
Abraham Kriel Bambanani

Maroela Media het vroeër berig oor die ma van ʼn aangenome seun en die pad wat hulle gestap het. Lees die berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Die waarheid is dat daar ongelukkig nie baie blanke babas vir aanneming beskikbaar is nie. Pleegsorg wel. Dit was die enigste manier waarop my vriendin n kindjie kon kry. Hulle het uiteindelik hierdie (baie getraumatiseerde) kind aangeneem. Sy was toe reeds 3 jaar oud! Tot vandag toe steek sy kos in haar kamer weg agv wanvoeding as peuter. My vriendin reken die feit dat hulle vir n blanke babatjie gevra het, het absoluut teen hulle getel.

E.K. die eerste ·

Aanneem is ‘n roeping – jy moet weet dit mag moeilik wees! Pleegsorg, soos ons in ‘n vorige artikel gesien het is ook baie moeilik. Ek bewonder mense vir sulke onselfsugtige dade wat van absolute liefde spreek. Maar ek wil tog hier vir almal wat lees MOOI vra, as jy nie kan/kans sien om aan te neem of pleegouers te wees nie, help tog die kinderhuise. Teken ‘n maandelikse debietorder al is dit net vir R100.00 – as almal wat hier lees dit doen kan dit ‘n groot hulp wees vir kinderhuise wat regtig meestal sukkel om by alles uit te kom. Sommige mense sal sê wel ek weet nie wat hulle met die geld gaan doen nie, so ek wil dit nie doen nie. In so geval stuur dan gereeld ‘n pakkie met goed soos seep, seeppoeier, toiletware ens en help so. Vars vrugte en groente en ook vleis is ampers ‘n luukse. Asseblief mense, hulle het nie net kersgeskenkies nodig (dit OOK ja!) maar deur die jaar hulp en liefde.

Nettie ·

@E.K. die eerste – soooooo waar wat jy sê.

‘n Kollega van my help op jaarlikse basis uit met Kersgeskenke vir ‘n kinderhuis in Tulbagh. Elke jaar help ek maar met ‘n pakkie of twee. Daardie kindertjies se gesiggies wanneer hul Kersfunksie gehou word, is prysloos.

Wat jy sê oor gereelde donasies en/of fisieke bydraes is BAIE waar. Al kan jy nie veel gee nie; miskien net 3 buisies tandepasta, koekies seep, waslappies, sanitêre doekies of lekkertjies – as ons almal ietsie gee, word dit een yslike projek. Doen dit vir die sentrum naaste aan jou en moet ook nie diere vergeet nie; ek gaan dié jaar ‘n “Santa’s Box” doen vir twee katte by ons plaaslike dierewelsynsvereniging. Wie van julle gaan my “join”?

Sheryah ·

Ek is self ‘n aangenome kind en kan jou waarborg dat ek altyd my aanneming geheim wou hou al het ek van kleins af geweet dat ek aangeneem is. My aanneem-ouers is MY REGTE OUERS! – Ek kan julle verseker as ek deur ‘n ander ras aangeneem was, sou ek altyd as die ‘odd-one-ou’t behandel gewees het.

Ek WEET in SA sal hulle jou benadeel as jy verkies om jou eie ras aan te neem, want dis hoekom daar so klem gelê word op die feit dat hulle dié wil plaas wat reeds beskikbaar is.

Dit maak nie saak hoe lief die aanneemouers oor kleurgrense vir die kinders is nie, die publiek sien hulle altyd as aangenome kinders (m.a.w. nie regtig deel van…).

Ek het vir een of twee van my vriende van my aanneming vertel en hulle hele houding teenoor my het verander. En toe my ma oorlede is het iemand die vermetelheid gehad om vir my te sê: Gelukkig was dit nie jou “regte” ma nie… WEL VIR MY IS SY, EN WAS SY MY EIE MA. – Of iemand sê iets soos: “ja jy behandel jou ouers beter as wat jou broer hulle behandel en hy is hulle regte kind” – Regtig?! Wie is ek dan?

Baie sterkte aan die kinders daar buite wat oor rasgrense aangeneem word. Ons land se leiers dink mos hulle weet van beter (en wil kleurgrense in SA verwyder), maar ek waarborg jou , hulle het nie ‘n idee nie!

Anon ·

Dink net as almal deur so proses moet gaan om n kind te he, hetsy normaal of aanneem?

Elmarie ·

Dit sou absoluut fantasties wees!
Daar sou beslis baaaaanja minder mense op die planeet wees.
En diegene wat wel hier sou wees, sou 99.9999% goed versorg gewees het.

Oop oge ·

Aanneming is `n eer in die oë van God. Dit is hoekom Hy sekere mense kinderloos gelaat het, want Hy het geweet daar is kinders wat wees gelaat sal word deur omstandighede en wat ouers nodig het.

Die hartseer en vervloeking is egter dat mense eerder hulle lewens sal opoffer vir honne en katte en anner gediertes, instede van om `n erfenis na te laat voor God se Aangesig. Hulle sal eerder verworpelinge uit kyk as gemors, maar vir die brak by die huis `n konings maaltyd voorsit met uitgesoekte slaaplek en beddegoed in die huis .

Daar is menige getroudes (gaan die geskiedenis na) wat 5 plus kinners al gehad het en dan nog aangeneem het ook en dan uiteindelik baie geseënd was. Geld en omstandighede is nie die storie nie, maar wel die houding teenoor God omdat mense nie bereid is om op te offer nie en net vir hulle self wil lewe.

Mag aanneem ouers met die hoogste seën geseen word, want hulle doen dit vir die Here.

Petro ·

Aanneming in hierdie land is hopeloos te moeilik en ‘n baie lang en uitgerekte traumatiese ervaring en waardevolle tyd word vermors deur “over the top” keuringsprosesse. Soveel ouers en kinders wat smag om deel van ‘n gesin te wees maar dit is net so moeilik

Gawie ·

Ek het so jaar terug n dogter van 13 in ons pleegsorg geneem wat glad nie ouers het nie en wat deer n baie rowe tyd is. Was nie baie maklik aan die begin nie. Daar was baie hofsake en goed wat mens mal gemaak het maar dit was die moeite werd. Sy het ons aanvaar as haar ouers en sy is regtig n plesier in ons huis. Mens hoef nie aanteneem nie, n kind kan in jou pleegsorg wees veraltyd as daar nie ouers betroke is nie.

Pieter ·

Aanneemouers is ‘n spesie. Maar daar is dinge waarvoor jy gereed moet wees:
1. Wees altyd eerlik met die kind oor sy/haar aanneming. As hulle dit eers later uitvind, is daar baie emosionele spanning.
2. Verwag dat daar tydens (veral) tienerjare uitbarstings kan wees oor die aanneming.
3. Hoe nader kultuur en sosiale omstandighede met die vd biologiese ouers ooreenstem, hoe makliker.
4. Aanneem is vir altyd. Dit is jou eie kind.
5. Wanneer die kind sy/haar biologiese ouers soek, help jou kind, dan sal jy hom/haar behou. Staan dit een, en jy gaan jou kind verloor.
Ons het na 20 jaar die sirkel voltooi en ons kind se ‘ma’ opgespoor. Ons is tans vriende wat kan saam kuier, ook sonder die kind. Daar is geen spanning nie, want almal gee om vir mekaar. Sy is ook nou ons kleinseun se ouma. (die pa is oorlede voor ons hom kon opspoor)

Ouma ·

My dogter het n dogtertjie aangeneem en haar gekry die dag met haar geboorte. Sy is nou 6 jaar oud en weet sy is aangeneem en dat ons haar familie is. Die liefde tussen ons kan nie beskryf word nie. Haar ouboet beskerm haar met sy lewe. Ons dank God vir hierdie groot genadegeskenk wat ons ontvang het. Dit was ‘n baie lang uitgerekte spanningsvolle proses om uiteindelik te kon sê nou is sy op my kinders se van geregistreer maar tog die moeite werd.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.