Aanneming: Die grootste liefdesgeskenk

gesin-02-pexels

Foto: Pexels.com

Die maand Februarie bring elke jaar gedagtes aan liefde na vore – en iewers langs die pad – hopelik – besin mense oor wat liefde werklik is.

Romanse is gewoonlik die beginpunt van denke oor liefde, maar liefde is baie meer as blomme en kaartjies op Valentynsdag. “My aangenome kind is ʼn liefdesgeskenk wat die biologiese ma aan haar kind gegee het,” sê Nelia van der Westhuizen, trotse ma van twee aangenome kinders.

“Hierdie ma het haar kind so liefgehad dat sy gekies het om ouers te vind wat haar kind kan grootmaak in omstandighede wat veel beter is as wat sy sou kon verskaf.” Nodeloos om te sê is die kind vir die aanneemouers eweneens ʼn groot geskenk.

“Toe die baba in my arms geplaas is, het ek onvoorwaardelike liefde vir haar ervaar, asof sy my eie biologiese baba was,” verduidelik sy. “Baie mense wonder veral hieroor. Maar aanneemouers het dit eens dat ’n aangenome kind net soveel ʼn geskenk van God is as jou eie biologiese een.”

CMR Gauteng-Oos het ʼn uitgebreide aanneemprogram en plaas elke jaar meer as 30 babas en kinders by aanneemgesinne.

“Dit is eenvoudig nie waar dat ʼn voornemende aanneemgesin enige baba wat hulle aangebied word, moet aanvaar nie, ondanks wat baie mense glo,” sê Henda van der Merwe, direktrise van CMR Gauteng-Oos. “Die program word noukeurig uitgevoer, van die aanvanklike keuring van ouers tot by die uiteindelike plasing van die kind. Die plasing van ʼn kind by ʼn gesin is ʼn proses waartydens die biologiese ma self ʼn gesin kan kies uit kleurryke profiele met al die nodige inligting wat CMR Gauteng-Oos voorberei.”

Die biologiese ma kan vooraf die voornemende ouers ontmoet, indien sy verkies. Van der Westhuizen glimlag as sy aan die proses dink, wat in haar geval albei kere met sensitiwiteit en baie professioneel gehanteer is. Haar tweede kind is letterlik minute ná sy geboorte aan haar gegee.

Sy gaan voort: “Ons het opleiding ontvang en is voorberei, en kom minstens een keer ʼn jaar met ander ouers tydens ʼn naweekkamp in aanraking. Ons vind dit baie spesiaal.”

Van der Merwe wys daarop dat geheime (of geslote) aannemings lankal iets van die verlede is. “Dit het ʼn deursigtige, oop proses geword. Aanneemouers (ondersteun deur terapeute) vertel nou reeds van meet af aan vir ʼn aangenome kind sy ware herkoms, en help die kind om ʼn lewensboek te maak wat begin waar hy by die gesin aankom. Ouers help om die boek by te hou namate die kind ouer word.

“Hulle stuur ook inligting en foto’s van die kind se vordering deur na die maatskaplike werker wat instrumenteel in die proses bly en dit aan die biologiese ma stuur, indien sy dit wil ontvang. Die kind kan kies om die ma te ontmoet en dan word so ʼn ontmoeting deur die maatskaplike werker gereël.

“Aanneming het nie meer ʼn stigma soos in die verlede nie. Tans word dit ervaar as ʼn liefdesverhaal, nie ʼn bitter verhaal van verwerping nie. Ons oorhoofse begrip het as’t ware volwasse geword, en aangenome kinders word nou groot met die wete dat hulle onder die gelukkiges tel. Dit is wat ware liefde is,” sê Van der Merwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Lysa ·

Alles is nie altyd maanskyn en rose met aanneming nie…. ek was getroud met ‘n aanneemkind, hy manipuleer almal in sy lewe. Hy is ‘n narsis en sal een doodgaan. Sy arme aanneem-ouers is die beste 2 mense ooit maar bloed is dikker as water….

Billy ·

Liefste Lee en Lysa….Sjoe as ‘n kind wat aangeneem is kan ek nie glo wat julle skryf nie. Julle veralgemeen teen aangenome kinders, Ek sou skaamkry as ek julle is. Die wereld is vol mense wat nie aangeneem is nie en wat baie probleme maak en is. Dit maak seer as ek sulke kommentaar lees.

Lee ·

Nee, Lysa, dis glad nie maanskyn en rose om ‘n kind aan te neem nie. Ek het ‘n 5 jarige dogtertjie wat ek op 2 jarige ouderdom gekry en dis ‘n massiewe gesukkel om haar “normaal” te laat funksioneer en skoolgaan en te laat “mens” word na die trauma wat sy moes deurgaan. Mense dink altyd kinders is te jonk om dinge te onthou, maar die trauma sit in hul onderbewussyn vas en net met liefde en hope geduld kry mens die kinders om aanvaarding en liefde te voel en te beleef. Iewers in hul onderbewussyn steek dit vas dat hul verwerp is deur hul biologiese ouers. Dit is hoekom dit van kardinale belang is dat die CMR nou werk soos hulle doen – om die biologiese ouers en sibbe so ver moontlik kontak te laat behou sodat hulle weet hulle is geliefd en bemind deur almal om hulle. Dinge het nie in die verlede so gewerk nie, so ek dink dat jou eks “verwerp” gevoel het deur sy biologiese familie, dis hoekom hy so “uitgedraai” het. Dis diep sielkundige dinge hierdie.

Madeleine ·

Dankie vd artikel. Ons het 3 biologiese kinders en 4e een aangeneem. Het voorheen in kinderhof statuter aannemings gedoen. Wat n seening! Eks 100% vir aanneming!

Pelser ·

Ek self was op 5 maande aangeneem. My biologiese ma het dit goed gevind om my arms en bene te breek, my neus ook af geslaan en my gesig gekrap. Sy het my met vuil doeke laat slaap.

Ek is vandag 36 en ek kan nooit ooit genoeg dankie se vir my “aanneem” ouers (ek wil dit nie eers hulle dit noem nie, want hulle is al ma en pa wat ek ken), wat my soos hulle eie groot gemaak het, my beskerm het, my geleer het, en my die man gemaak het wat ek van vandag is. Almal daai tyd was omtrent teen hulle besluit. my oupa en ouma en van my biologiese familie wat my wou terug he. my ma en pa het ook nie altyd lekker in die tyd nie. hoe kan hulle n babatjie lief he as hulle hom dan gaan vat? ek het altyd gevra hoekom my van smith was en nie Pelser. want in my kleuterskool tassie was groot geskryf Leon Smith. die een dag is ek en my ma hof toe en my van verander na Pelser.

Graad 1 het my ma my die opdrag gegee om uit te vind wat n maatskaplike werkster is en haar kom vertel wat ek uitgevind het. die dag daarna was daar n tannie, wat toe vir my die waarheid kom vertel het oor wie ek is en waarvandaan ek eintlik is. Vir my was dit nie n skok nie want my ouers het my lankal vertel

Droes ·

Dankie vir die berig. Ek is die trotse ma van 2 pragtige kinders wat ek aangeneem het as my eie. Ja. My eie kinders en ek is hulle Ma. Ons kleure verskil maar o wee…..hulle is net soos ek en my man! Heerlik! Ons vertel ook hulle elkeen se storie vir hulle al van kleins af en dis nou net deel van hulle lewe en raamwerk. Alhoewel daar nie nou direkte kontak met die biologiese ouers is nie, sal ons ons kinders liefhe en ondersteun as die tyd kom om te ontmoet. Almal wil mos maar familie uitle iewers in hulle lewens. En nee….hulle is nie “lucky” nie. Ek is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.