Aanvaarding bring vrede

Foto: jonathanball.bookslive.co.za

Foto: jonathanball.bookslive.co.za

Tydens ’n gesinsvakansie raak die sewejarige Anneke siek en draai by die dood om. Sy herstel, maar met ernstige nagevolge. Weens breinskade word haar verstandelike agteruitgang elke maand meer sigbaar. Om die sprankelende kind wat lag en presteer te behou en die naderende gestremdheid af te weer, gaan die gesin op ’n soektog na ’n wonderkuur. Alles word op die proef gestel, van alternatiewe behandelings en ’n vreemde dieet, tot ’n besoek aan die profeet TB Joshua in Nigerië. Namate die siekte vererger, word alles vir Juliana vreemd en onherkenbaar – haar kind, syself en haar gesin. Sy voel onbevoeg om haarself of haar gesin te red, ten spyte daarvan dat sy as psigoterapeut juis in trauma spesialiseer. –Jonathan Ball uitgewers.

Elke ouer het sekerlik ʼn droom vir sy of haar kind. Pa’s droom hoe hul seuns eendag sportsterre word of uitblink as prokureur wat veg vir ander se regte. Ma’s droom oor hul dogters se troudag of hoe die kind ʼn liefde vir reis sal hê. Juliana Coetzer van Pretoria het soortgelyke drome vir háár dogter, Anneke, gehad, maar haar drome sou nooit waar word nie. Anneke is met herpesvirusse op die brein gediagnoseer. Daar is twee soorte, naamlik die HSV-1 en HSV-2. Die HSV-1 virus kan breinskade veroorsaak en kom ook meer algemeen by kinders voor.

Juliana vertel hoe sy tot die besef gekom het dat haar kind nooit haar volle potensiaal sal bereik nie. “Omdat dit ʼn geleidelike proses van agteruitgang was, kon ek dit jaar vir jaar sien. Aanvanklik het ek verskriklik baklei dat sy net nie haar intellek moet verloor nie, want dit was juis iets wat haar op ʼn manier spesiaal gemaak het. Jy kan nie veel doen as jy nie verstand het nie. Dit was dus my eerste droom wat ek moes laat vaar en ek het ook geweet dat sy nie haar eie drome sou kon uitleef nie.”

Anneke se voortdurende agteruitgang was vir haar ʼn uitgerekte ervaring van verlies. “Ek het omtrent so ses jaar nadat sy siek geword het, finaal besef dat ek nou alles moet laat vaar, dat ek nou niks meer kan verwag nie.”

Wanneer jy jou kind sien groei en sy of haar potensiaal raaksien, is dit soveel erger as daardie potensiaal weggevat word en al wat oorbly, is ʼn leë weergawe van ʼn kind wat soveel kon gewees het. “Ek vermoed dit sou makliker gewees het as sy só gebore was, dan het ’n mens niks verwag nie.”

Sy vertel hoe sy en haar man Fanus, jare lank elke moontlike geneesmiddel ondersoek het en selfs TB Joshua gaan besoek het. “Jy is redelik desperaat as jy met jou kind Nigerië toe vlieg.”

Anneke het selfs verskeie sessies in ʼn suurstoftenk deurgebring waar haar ouers en twee boeties om die beurt saam met haar moes sit omdat sy dit nie alleen kon doen nie. Nadat alle moontlikhede uitgeput was, het Juliana besef dat sy nie meer terug kon baklei nie. “Daarna het ek besluit dis genoeg en dat ek nou tot rus moet kom. Ek het begin om die waarheid in die oë te kyk.”

Sy moes deur ʼn verskeidenheid emosies werk, van verlies tot skuldgevoelens. Skuldgevoelens oor ʼn kind wat sy naderhand nie wou hê nie.

Juliana sê ’n mens kom by ʼn punt waar jy net wens jy het nie so iets in jou lewe gehad nie. “Jy kry mense met goeie bedoelings wat vir jou sê jy moet baie spesiaal in God se oë wees om deur so iets te gaan. Dan sê ek, maar as dit so spesiaal is, hoekom vat jy dit nie vir jou nie? Dit laat nie ʼn ouer spesiaal voel nie.”

Sy moes terugstap op haar spore en gaan ondersoek instel oor hoekom dit so moeilik vir haar was om Anneke te aanvaar as die kind wat sy is. “Ek moes so eerlik met myself wees, want ek moes tot die punt van aanvaarding kom. As jy nie kan aanvaar nie, moet jy gaan kyk waarom jy nie kan aanvaar nie.”

Die res van die gesin het ook swaar getrek en vir haar seuns was die eerste paar jaar van Anneke se siekte die ergste. “Ek was gedurig besig om haar gesond te probeer kry. Ek was hartseer in die oggend en kwaad in die aand – ek was nie myself nie. Ek het ontsettend getreur.”

Sy vertel hoe sy en haar man besef het dat hulle die lewe vir hul seuns ook moes aangenaam maak en moeite gedoen het om nuwe ervarings vir hulle te skep sodat hulle kon voel hulle het tog ʼn goeie lewe. “As jy hulle vandag sou vra of dit ʼn uitwerking op hulle gehad het, sal hulle sekerlik ja sê. Maar aan die ander kant, dink ek, sal hulle ook sê dit het goeie dinge in hulle na vore gebring. Hulle is vreeslik empaties en sensitief teenoor ander mense.”

Anneke, wat reeds 18 jaar siek is, het die hele gesin gedwing om aan hul eie probleme te werk en eerlik met hulself te wees. “Dit het my die geleentheid gebied om dinge te konfronteer en empatie te ontwikkel. Ek het geleer dat ek dinge kan doen wat ek nie gedink het ek sal kan doen nie. Ek het al my vrese begin uitdaag omdat ek hierdie dinge kon regkry.”

En ervaar sy nou vrede?

“Ek gaan nou aan met my lewe. Ek werk hard en ek skryf nog. Ek is ontsettend dankbaar ek sit nie op ʼn hoop en treur nie. Ek het vrede. Die enigste manier om vrede te kry, is om iets te aanvaar vir wat dit is. Jy kan niks daaraan verander nie. Jy moet begin sien wat dit na jou lewe gebring het – wat goed en positief is. En om lief te wees vir jou kind soos sy is.”

Vir meer besonderhede oor Juliana se boek, Bloedvreemd, besoek gerus Jonathan Ball uitgewers se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae