Aardklop: Liewe Heksie-produksie benadruk rol van speel

Foto: Instagram/Margit Meyer-Rödenbeck

Margit Meyer-Rödenbeck en De Klerk Oelofse. Foto: Instagram/Margit Meyer-Rödenbeck

As ʼn mens aan Liewe Heksie dink, word jy sommer nostalgies. Sy herinner aan ʼn tyd van kinders wat oopmond lag en toe daar vir ʼn rukkie vrede in die huis was – daar was sekerlik geen rusie tussen sibbe wanneer Liewe Heksie op die televisie was nie.

Dis wonderlik om te weet dat Levinia vandag steeds voortleef en dat ons kinders haar ook liefhet. Dit is juis produksies soos dié van Margit Meyer-Rödenbeck en De Klerk Oelofse wat die legende van Liewe Heksie aan die lewe hou.

Vanjaar is hierdie twee akteurs by Aardklop te sien in die kinderteaterproduksie Liewe Heksie en die rolskaatse. Margit sê Liewe Heksie is so gewild want die skepper van dié stories het die karakters wonderlik aanmekaar geweef.

“Verna Vels was haar tyd ver vooruit. Sy het ongelooflike karakters geskep. Met kinderteater moet jy die gehoor deur al die emosies neem – van lag tot huil en lekkerte en skrik, en Levinia kry dit reg. Sy is ʼn karakter met soveel dimensie,” sê Margit.

De Klerk, wat sommer ʼn verskeidenheid karakters vertolk, sê hy het ʼn groot liefde vir kinderteater omdat die gehoor so eerlik is.

“ʼn Mens moet nooit vergeet dat dit mense se eerste indruk of eerste teater ervaring is nie. Dis juis hoekom ʼn mens moeite daarmee moet doen. Jy probeer om die kinders na ʼn ander wêreld te neem want dit is waar die “magic” lê – om vir ʼn uur te gaan speel in iemand anders se verbeeldingswêreld.”

Margit meen vandag se kinders se programme is só vol dat hulle nie eintlik meer tyd vir speel het nie. Sy sê kinderteater laat kinders toe om te speel en hulself in wonderlike stories in te leef.

“In speel maak jy keuses en jy is kreatief. In speel ontwikkel jy jou eie identiteit, en kinderteater is deel van speel,” sê Margit.

Gryp die kroos en kom speel saam in Blommeland.

Liewe Heksie en die rolskaatse is op Aardklop te sien tot en met Saterdag. Besoek Computicket vir kaartjies of besoek Aardklop se webtuiste vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.