Affies het nou top musiekdepartement

Die nuwe musiekdepartement. Foto: Verskaf

Die nuwe musiekdepartement. Foto: Verskaf

Die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria het onlangs hul nuwe musieksentrum onthul tydens die viering van dié skool se 96ste bestaansjaar.

Die sentrum, wat deur Mathews en Genote Argitekte ontwerp is, is op 28 Januarie tydens ʼn spesiale inhuldigingseremonie aan die skool oorhandig. Dié skool het tans een van die grootste musiekdepartemente in die land, met 240 leerders wat musiek as vak neem.

Pieter Mathews, hoof van die argiteksfirma, sê hy hoop dié sentrum skep ʼn groter waardering vir musiek en kuns en moedig die leerders aan om geïntegreerde mense te word. “Hopelik is die impak hiervan so groot dat ‘n volgende geslag musikante en kunstenaars inspirasie hieruit put,” het hy gesê.

Die kunstekampus bestaan uit 20 oefenkamers, vier akoestiese klaskamers en ʼn intieme konsertsaal waar die Affie-koor of -orkes vir ongeveer 200 mense konsert kan hou. Hierdie konsertsaal beskik ook oor geriewe vir klankopnames.

Leerders wat musiek as vak neem, kan kies tussen klavier, pyporrel of énige stryk- of blaasinstrument. Die skool het ook ʼn verskeidenheid ensembles en orkeste wat leerders die geleentheid bied om saam met klasmaats musiek te maak.

Dié plaaslike argiteksfirma is bekend vir hul poëtiese ruimtes en die gebruik van kuns as vennoot in die ervaring van die gebou.

Die gebou vereer sy funksie van musiek- en kunsonderrig deur van gepaste ontwerpelemente gebruik te maak. ʼn Sigbetonbalk vorm die raamwerk vir staalpilare wat ritmies die ingang na die gebou aandui. ʼn Muur van soldaatlaagbakstene staan soos ʼn verwelkomende koor voor jou wanneer die by die gebou inkom. Die oefenkamers en klasse vorm saam met die bestaande saal ʼn unieke plein, waar ʼn staalkunswerk van Strijdom van der Merwe die ereplek inneem. Konsentriese sirkels in die plaveisel brei soos klankgolwe vanuit die werk, genaamd “Kwartet” uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gideon Wentink ·

Dit is verblydend om te sien dat kultuur ’n prioriteit gemaak word by een van die land se topskole, en dan is dit op die koop toe ’n Afrikaanse skool ook nog. Mag die leerlinge wat hulle daar met musiek besig hou die grootste genot daaruit put.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.