Afknouery: Wat ouers en skole kan doen

Boelies-02

Argieffoto.

Deur prof. Rita Niemann, hoof van Akademie by Impaq (voorheen bekend as Impak Onderwysdiens), Nalize Marais, Zendré Swanepoel en Moniera Moosa

Afknouery is ʼn groot bekommernis vir ouers én skole. Hier kyk ons na ʼn paar maatreëls wat beide partye kan help om afknouery te hanteer.

 Ouers

Sodra ouers opmerk dat hul kind anders optree – hy wil nie skool toe gaan nie, voel gereeld siek, presteer skielik swak of ervaar enurese – en vermoed dat dit as gevolg van afknouery is, moet hulle dadelik optree.

Eerstens moet hulle bepaal waar die afknouery plaasvind (by die skool, by ’n sportklub, op sosiale media, ens.) en wie die oortreder(s) is.

Tweedens, indien die afknouery in ’n georganiseerde omgewing soos by die skool of ’n sportklub plaasvind, moet die owerhede in kennis gestel word en gevra word om in te tree. Hulle is wetlik gebonde om die regte van die kind te beskerm.

Derdens is dit ouers se verantwoordelikheid om hul kind toe te rus met die nodige vaardighede om die situasie te hanteer deur:

  • hom te laat verstaan dat hy moet opstaan vir sy regte en dat dit ’n keuse is om iemand anders toe te laat om hom te viktimiseer;
  • hom te help om verhoudings wat moontlik skadelik is te beëindig, soos deur die persoon op sosiale media te blokkeer;
  • hom te help om boelies, asook verskillende vorme van afknouery, te identifiseer;
  • ’n veilige omgewing te skep waar hy kan praat oor wat met hom gebeur;
  • selfgeldende kommunikasie aan te moedig indien hy gedreig word;
  • sy selfkonsep te versterk;
  • die hulp van ’n sielkundige in te roep vir berading, indien nodig;
  • te beklemtoon dat respekvolle gedrag altyd die beste opsie is en sodoende wraakneming te voorkom;
  • konflikhantering- en probleemoplosvaardighede te bevorder met die fokus daarop om beskadigde verhoudings te herstel; en
  • saam te werk om die probleem op te los sodat hy gerusgestel voel.

Skole

Afknouery is die moedswillige optrede om ’n ander seer te maak. Daarom moet daar gevolge vir die boelie wees. Wanneer onderwysers bewus gemaak word van afknouery by die skool, moet hulle die voorval hanteer deur:

  • die slagoffer te vra vir die naam van die skuldige(s), asook die name van die slagoffer se vriende;
  • berading aan te bied en uit te vind of die slagoffer seergekry het asook wat die effek van die afknouery/teistering op hom was;
  • ’n “geen blaam”-benadering tot afknouery/teistering te neem;
  • bestraffende gevolge vir die boelie en enige omstanders te bepaal;
  • ’n gedragskode/boeliebeleid te ontwikkel en leerders daarvan in kennis te stel;
  • spesifieke onderwysers aan te wys om voorvalle van afknouery te hanteer;
  • bemiddeling en gesprekke tussen die slagoffer en die boelie, afhangend van die erns daarvan, te fasiliteer;
  • die verantwoordelikheid aan die boelie(s) oor te dra om te verseker dat die probleem opgelos word;
  • te verseker dat moontlike omstanders besef dat hulle ’n belangrike rol tydens voorvalle van afknouery speel;
  • slagoffers beskerm te laat voel nadat ’n voorval aangemeld is;
  • leerders aan te moedig om voorstelle te maak oor hoe hulle kan bydra tot die verligting van die slagoffer se negatiewe ervarings;
  • opvolgvergaderings te skeduleer om die situasie te monitor en te bepaal hoe al die partye vaar; en
  • die ouers van beide die slagoffer en die boelie in te lig oor wat gebeur het.

Die hoof en onderwysers speel ’n kritiese rol in die uiteindelike vorming van verantwoordelike burgers. Hulle moet dus ’n veilige omgewing skep, ’n niegewelddadige kultuur bevorder en goeie rolmodelle vir alle leerders wees.

Verwysing

Niemann, R., Marais, N., Swanepoel, Z. & Moosa, M. 2016. Problem areas in schools In: Jacobs, M. Teaching-learning Dynamics, Johannesburg: Pearsons

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Son ·

My kleinkind word geboelie..en onderwysers steur hul nie daaraan! Ouers al hoeveelkeer gaan praat..maar doen niks…soos toe hy geslaan is..het die prefek vir sy voog onderwyseres gaan se..wat sy op antwoord: ag toemaar..hy is maar n moeilikheidmaker,!! Watse voorbeeld is dit vir n prefek….al oplossing …vat jou kind uit daai skool…home schooling of privaat skool…liewer dit VOOR iets tragies gebeur …soos sekere ouers onlangs moes beleef..

Dirk ·

Skole beskerm altyd die boelie. Dis n feit. Dit het ons gekos om n prokureur se hulp in te win om die situasie op te los. Jy hoop nie die boelie is n goeie sport uitblinker nie, want dan word die boelie eers beskerm deur die skool.

Riouna Martin ·

Dirk jy slaan die spyker op sy kop nie eers ek kon dit beter stel nie. EN WEET JULLE DIT NEEM NET MEER TOE DIE BOELIE PROBLEEM WORD NIE MINDER NIE NET MEER! MY DOGTER IS STERK IN AKADEMIES MAAR SY BID HAAR SKOOL LOOPBAAN OM. EN DIT MOET DAN TOG DIE LEKKERSTE TYD IN N KIND SE LEWE WEES!

CK ·

Die skole in ons land is pateties wat dit aanbetref. Geen een sal ooit verstaan hoe die ouers en kinders wat geboelie word voel nie, min mense het empatie daarmee, totdat daai persoon -self ook ‘n slagoffer word. Ons het so episode gehad, ek kry die kind wat boelie glad nie jammer nie, ek het die kind se ouers aangespreek en net eenvoudig gesê ons het nou genoeg gehad enige verder problem en maak ‘n saak. Die kind is geskuif en later die jaar het ‘n ander kind reg in eie hande geneem en die kind ‘n les geleer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.