AfriForum loods teenboelieveldtog – en jy kan help

leandie-lombaard-02

Leandie Lombaard. Foto: Mariska Batt.

Deur Leandie Lombaard

Die burgerregte-organisasie AfriForum loods hierdie jaar hul teenboelieveldtog wat dien as bewusmaking van afknouery in skole. Kinders moet hul stem laat hoor en hul storie vertel, want ons kinders is die leiers van die toekoms. Daarom is dit belangrik vir AfriForum, AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) en AfriForum Trauma om saam met ons land se skole en ouers te werk om ’n verskil in die wêreld te maak.

Navorsing toon dat kinders reeds van ouderdomme so vroeg as drie jaar oud daartoe in staat is om ander af te knou. Ouers en onderwysers kan die boelie identifiseer deur na die kind se gedrag op te let:

  • Die kind sal skree “Myne!” terwyl hy ’n speelding gryp. Hierdie gedrag is nie noodwendig boeliegedrag nie, maar as ouers en onderwysers toelaat dat dit oor en oor gebeur sonder om in te gryp, kan dit tot verbale en fisieke vorms van afknouery lei.
  • Jong kinders hou ook daarvan om geheime vir mekaar te fluister en om mekaar snaakse name te noem, maar wanneer die gefluister besig is om skinderstories te verprei en wanneer snaakse name begin lelik raak, kan hierdie gedrag gesien word as dié van ’n boelie.
  • Wanneer kinders “speel-speel” speletjies speel, gee dit soms vir sekere kinders die geleentheid om ander kinders te manipuleer deur mag oor hulle uit te oefen. Kinders wat speel-speel die ma, pa, baba, skelm of hond vertolk, word nie noodwendig as ’n boelie gesien nie, maar wanneer kinders konstant iemand dwing om ’n sekere “minderwaardigheidsrol” in die speletjie te vertolk (soos bv. die baba, hond of skelm) en selfs daardie kind se aksies beheer (soos bv. om die kind te dwing om te blaf, om te huil of om tronk toe te gaan) gebruik hulle op ’n aanhoudende basis hul mag om “baas” oor daardie meer kwesbare kind te speel en dit kan as afknouery gesien word.
  • Kinders wat sê: “Jy mag nie met ons speel nie,” doen dit dalk nog nie bewustelik nie, maar dit kan maklik in emosionele afknouery ontaard.

AfriForum gaan reeds einde Julie 2017 begin om hul teenboelieweek by laerskole en kleuterskole van die betrokke laerskole aan te bied. Die kenteken van hierdie veldtog se naam is Matteus, met die slagspreuk “Behandel ander soos jy graag behandel wil word”. Die doel van hierdie week is om leerders, skole en ouers met die regte gereedskap toe te rus, soos om meer inligting oor te dra oor wat die term “boelie” werklik beteken, omdat daar baie verwarring daaroor kan ontstaan. Dit sal kinders ook help om te verstaan wie hulle as ’n individu in die samelewing is en hoe elkeen verskillend en uniek teenoor hul maatjies is. Daar gaan ook met kinders gepraat word oor konflikhantering wat gesien kan word as ’n handige tegniek om van ’n vroeë ouderdom af aan te leer, omdat ’n mens dit saam met jou kan neem in die grootmenswêreld.

Ander aspekte waaraan AfriForum gaan raak tydens die teenboelieweek is om ’n werkswinkel vir onderwysers aan te bied een middag ná skool, asook om een aand ’n praatjie aan ouers te lewer. Die praatjie aan die ouers sal gelei word deur die bekende akteur Jacques Gombault, waar hy ook een van sy kortfilms, Lang Gras, aan die ouers sal wys om sy boodskap nóg sterker te laat deurdring. Dit is belangrik vir skole om as leerders, onderwysers en ouers saam te staan teen die lelike boeliebeweging wat tans die hele wêreld skud – so word gedeelde leierskap gevorm om ’n werklike verskil te maak.

Sowel slagoffers as die boelie self moet gehelp word. As ons dit van ’n jong ouderdom af kan stopsit sodat kinders bewus is van wat reg en wat verkeerd is, slaag ons in ons taak. Ons wil nie van die kinders toekomstige misdadigers maak nie, maar eerder toekomstige leiers wat sal opstaan vir wat reg is en só ’n verskil gaan maak. Soos die gesegde lui: Buig die boompie solank hy jonk is.

Een van die stories wat aan ANI gestuur is, is geskryf deur Jani, ’n 12-jarige meisie. Sy is tans in graad 7 en speel tjello en klavier, en neem ook aan drama en Ierse dans deel. Haar ma het hierdie brief in haar tas gekry. “Dit het my soos ’n vuishou in die maag getref!” Jani hoop dat haar woorde ander mense se harte kan raak:

AfriForum-se-teenboelieveldtog

Grafika: Verskaf.

Soms moet jy wegvlieg – Jani van der Watt (12)

 Ek staan hier tussen die ander. Ek sê “ja” vir alles wat hulle te sê het. My groen stert hang rusteloos agter my, my vlerke is toegevou. Ek loop maar agter hulle aan; wil regtig inpas. Hulle kyk na my met hulle oë van vuur, ek glimlag net benoud.

 Skielik trap een op my stert, ’n ander ruk aan my vlerk. Die res giggel sieklik. Ek het dit verloor! Ek brul en maak my vlerke wyd oop om hulle bang te maak, maar dit laat hulle net meer lag! Nou is die duiwel los. Almal spring op my en skop my, trane loop by my groen wange af.

Ek skud hulle van my af en klap my vlerke. Op, op, op vlieg ek. Weg van hulle wat my haat. Dit wat vandag by die skool gebeur het, gaan vir altyd in my kop vassit.

Ek vlieg na my nes toe met my hart wat laag hang. Nee wat, ek sal tog nooit inpas nie.

’n Jaar later sit ek nog steeds hier en dink oor daardie dag.

 Ons wil graag jou storie hoor. Stuur vir ons ’n e-pos en word deel van die bewusmakingsveldtog: [email protected].

  • Lombaard is ’n navorser by die burgerregte-organisasie AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

lorayne ·

Dit is SO bitter hartseer . . . maar die ergste is dat sommige ouers van boelies GEEN fout met hulle kinders se gedrag vind nie! my kleinkind in graad 2, moet pouse sy kos, of wegsteek of honger bly tot 2 uur by die naskool sentrum, waar hy in vrede kan eet. Sy kos word uit sy hande gegryp en verorber deur onopgevoede kinders, en ek is nie die enigste by ons skool wat kla nie . . . Ek het onlangs met een van die boelies se mamma gepraat daaroor, net om uitgeskel te word en ja nee, haar kind sal dit NOOIT doen nie! Vir my persoonlik het die baie te doen met opvoeding. . .

Eish ·

Uitstekende inisiatief. Dit is eenvoudig die uiterste vorm van alles oorweldigende verlammende vrees wat n kind kan ervaar. Die onderwerping hieraan het n groot invloed op jou persoonlikheid later in die lewe.

Leeza ·

Ek is jare lank deur my eie suster afgeknou en geboelie, selfs aangerand.
Dit laat letsels vir jare – swak selfbeeld, verslawing ens.

Jeannette ·

Boelie-gedrag kom nie alleen by die skool voor nie; ook tuis ….

Vir jare is ek deur my broer “geboelie”; eers was dit net ‘n klap hier of daar, ‘n trekkery aan my ore (tot een van my ore geskeur het) of ‘n skop vir parmantigheid (van die vorige dag, van my kant af) of ‘n halwe brood wat heel in my keel afgedruk word tot ek amper verstik het. En toe …. toe kom DIT. Op 12 jaar, 6 maande en 8 dae is ek deur my eie bloedbroer verkrag. Het ek nie my Ma vertel nie? O ja, ek het – ‘n hele paar keer, net om te hoor “***** sal dit nie doen nie”. Het ek my Pa nie vertel nie? O nee, want dan het hy my broer gefoeter en sou ek dit die volgende dag weer ontgeld.

Vandag sit ek op 46-jarige ouderdom steeds met die nagevolge hiervan. Ek kan en sal en wil nie vergeet of vergewe nie, maar as jy sit met ‘n Ma wat ALTYD in die onskuld van haar blou-oog seuntjie sal glo, hou jy jou mond en gaan jy aan met jou lewe op ‘n ander manier.

Ek hoop hierdie sessies help ouers én kinders – beide slagoffers en boelies – om die totale konsep te verstaan en te beveg.

CQ ·

Ja Lorayne, dit gaan my verstand te bowe dst ouers dink hul kinders is net te cute en die kat se snor. En wanneer jy vir die ouer sê jou kind het dit of dit gedoen – dan kry jy daardie ? Nie MY kind nie. Al haar maats sê dan sy is so wonderlik… JAAAAA want haar maats is net sulke groot boelies soos sy!
Dit is elke ouers se plig om hul kinders te leer om NIE Lelik yr wees met maats nie – so maklik soos dit. As jy nud vsn n maatjie hou nie LOS HOM UIT!
En ook moet elke ouer hul kind leer dat wanneer jy die slagoffer is – selfde reel geld. Loop weg. Moenie met daardie boelies meng nie. Net jammer dis altyd die boelie wat 1ste toenadering soek. ?

Louis ·

Nicky de Kock (www.nickydekock.com) is ook reeds besig met ‘n teenboelie-veldtog en sy het ‘n paar sangers bymekaargekry om dit te bevorder, kyk die video op YouTube “Saam staan soos een”

Johannes Meintjes ·

Maar wat van die geboelie onder grootmense. In die kerk, in die politiek, tussen organisasies en instansies, in die werkplek, onder Afrikaners en vanuit organisasies teenoor mense wie manipulasie van die hand wys?

janee ·

Ek word so deur my huidige baas geboelie…..ek gaan ellke dag met n seer hart werk. Ek is nie meer jonk nie en sal nie maklik weer n pos kry nie. En as n redelik lank by die firma…My baas is heelwat jonger as ek …….hoe stop mens so boelie …hy gaan dit net ontken.

Kasper ·

Maak assblief julle kursus op youtube of aanlyn beskikbaar sodat baie mense daarbykan baat.

1+1 ·

Wat die SAOU nie kon regkry nie of te bang was om te veg, het Solidariteit reggekry. Red asb die onderwys van ons kinders en kleinkinders. Ons soek ‘n organisasie met durf en tande.

Freedom of Speech ·

Ons kleinseun is gediagnoseer met autisme (ADHD & Asperger). Ons het hom in ‘n klein privaat skool (van voorskool tot graad 7) gesit. Die tweede dag van skool het die onderwyseres (ook hoof) my dogter geskakel om met haar te praat oor die kind. Volgens die onderwysres was hy glo te veel vir die haar en volgens haar het hy die leerlinge gepla en sy beveel dat my dogter hom uit die skool haal en in ‘n spesiale skool moes sit. Toe hulle in die Kar klim toe merk Ek ‘n sigaret brandmerk aan sy arm. Hy het gese ‘n ouer kind het hom met ‘n sigaret gebrand. Die onderwysers het op die stoep gesit en kuier en koffie drink. Die klein kinders en groot kinders het saam gespeel. Waar was die toesig??

John ·

… en nou moet Christelike godsdiensonderrig plek maak vir meer ‘human rights’… Al die betogings deur ‘groot’mense by die G20 en die saak waarvoor hulle veg… meer chaos.
Die duiwel is besig met ‘n grootse oorlog teen reg en goed… dws Christus.
Die Roomse Kerk se gruwelike sg ‘Opulence’-welsynswette bly ingebed by die Franse en Engelse, wat mettertyd die verkondiging van die Woord vervang het met bloot goed te doen of geld-te-gooi as straf/vrywaring van eie (selfs toekomstige) sondes… ‘goody-goody’-sosialisme dus. Christus word dus uitgeskryf… En kyk wat is die gevolge (lees asb meer oor die oerbron van die’ ‘charity’-vergrype en waar ‘human rights’ sy sluwe beslag gekry het… ook vir die skade in SA). Hoe leer mense die verskil tussen reg en verkeerd sonder die Bybel?

ANONIEM ·

Ek is ‘n ou vrou en dra nog die letsels, my ma en suster was my boelies en dis asof almal voel hulle het die reg om jou te boelie, Dit help nie jy wys ‘n boelie uit nie. Niemand glo jou nie. Ek het my familie verlaat. Volgens die samelewing is hulle die oordentlike mense en ek is die plep. Dis wat jare se boelie aan jou doen. Jy voel waardeloos. Ek gun hulle die beste en wens net vir hulle voorspoed, maar sodra ek enige iets het wat mooi is is hulle afgunsig en agresief en vind ‘n manier om dit by my af te vat, al is dit met ‘n hofsaak. My lewe is beter sonder my familie maar glo my dis asof jy ‘n stempel op jou voorkop dra wat se, boelie my asb. Mag julle projek GROOT vrugte dra!

LK ·

My eie suster het my geboelie vir jare. Sy is nou die “grand” een met die goeie selfbeeld en al die geld, ek die mal een met al die probleme – my familie het my verwerp agv haar swartsmerery. Ek hoop en bid dat sy haar dae van smart gaan kry – en sommer gou!!

Klawer ·

Sterkte aan Anoniem en LK, julle klink na baie sterk en goeie mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.