AfriForum neem teenboelieveldtog na die Wes-Kaap

leandie-brasler-kaapse-toer-2018-11-05

AfriForum se teenboelieveldtog-span het in Oktober by vyf skole in die Wes-Kaap gaan besoek aflê. Foto: Verskaf.

Op 22 en 23 Oktober 2018 het die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtog­span by vyf skole in die Wes-Kaap besoek gaan aflê. Hierdie skole is, onder meer: Wyserdrift Primêr in Goudini; Laerskool Paarl Gimnasium en Laerskool WA Joubert in die Paarl; Laerskool Stellenbosch en Laerskool Eikestad in Stellenbosch. Dié veldtog skep bewustheid oor afknouery in skole.

“AfriForum wil met sy teenboelieprojek saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole hok te slaan en die betrokke partye met die kennis toe te rus om dit suksesvol toe te pas. Tydens ons besoek verduidelik ons graag vir die leerders wat die verskil tussen afknouery en konflik is, omdat baie leerders hierdie twee begrippe met mekaar verwar. Dit is ook belangrik dat leerders weet dat afknouery iets is wat op ’n herhalende en deurlopende wyse plaasvind en dat afknouery ook iets is wat met opset gedoen word,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

“Ons wil kinders aanmoedig om ander te behandel soos hulle graag behandel wil word, om hul eie identiteit te koester en om só ook wedersydse respek teenoor ander se identiteit te toon. Tydens ons praatjie fokus ons nie net op die slagoffers van afknouery nie, maar ook op die boelie en die toeskouers (wat ook ’n belangrike rol tydens afknouery speel). Ons bewusmakingsvideo verduidelik die verskillende vorme van afknouery aan die leerders, soos fisieke-, emosionele-, verbale- en kuberafknouery,” sluit Bräsler af.

“Onderwysers by Wyserdrift Primêr, Laerskool Paarl Gimnasium, Laerskool WA Joubert, Laerskool Stellenbosch en Laerskool Eikestad is dit eens dat veral afknouery in verbale vorm jaarliks in skole toeneem en dat hulle nie toegerus is om dit na behore te hanteer nie. AfriForum se aanslag leer nie slegs kinders om mekaar en hul onderwysers nie te boelie nie, maar ook om met ’n hand van vriendskap en ’n hart van begrip na die boelies uit te reik, omdat boelies dikwels uit frustrerende huishoudelike omstandighede kom en hul aksies as uitlating daarteen by die skool gebruik,” sê Esmarie Yssel, joernalis by Pretoria FM, wat Leandie Bräsler tydens dié toer vergesel het.

“Ons is baie dankbaar dat AfriForum ons skool kom toerus om boeliegedrag te hanteer. Ons leerders verstaan nou wat die verskil tussen konflik en afknouery is. AfriForum het teenboeliegidse in PDF-formaat aan ons onderwysers gestuur en dit kan ook gratis van hul webtuiste afgelaai word,” sê Elanza Cloete, onderwyseres by Wyserdrift Primêr.

AfriForum se teenboeliegids bevat raad aan ouers, onderwysers en leerders, asook regsadvies wat deur Daniel Eloff van Hurter Spies geskryf is. Bekendes soos Donnalee Roberts, Ivan Botha en Chris Chameleon deel ook hul persoonlike ervarings met afknouery. Die gids bevat ook aktiwiteite wat kinders meer bewus maak van wat afknouery werklik is en om die erns daarvan te beklemtoon.

Wat is verbale afknouery?

Wanneer meeste mense dink aan afknouery/boeliery, dan dink hulle daaraan dat dit iets fisiek moet wees, soos om iemand te skop, slaan of knyp. Afknouery kan ook op ’n verbale manier plaasvind. Verbale afknouery fokus daarop om iemand anders minderwaardig te laat voel. Die tong is ’n swaard wat soms dieper sny as fisieke afknouery en dit kan ook lewenslange letsels los.

Met verbale afknouery is dit die boelie se doel om iemand anders af te kraak terwyl hy homself as meer dominant en sterk laat lyk. Alle vorme van afknouery lei dus tot die aggressor/boelie wat homself magtiger en sterker laat lyk as die slagoffer.

Alhoewel verbale afknouery onder meisies sowel as seuns plaasvind, sal dit in die meeste gevalle onder meisies voorkom, volgens Bullying Statistics. Meisies is meer subtiel as seuns oor die algemeen. Meisies maak gebruik van verbale afknouery sowel as sosiale uitsluitingstegnieke om ander te domineer en om hul mag en meerderwaardigheid ten toon te stel.

Stuur ’n e-pos aan [email protected] as jou kind se skool by hierdie veldtog en ander leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.