AfriForum se teenboelieveldtog – hoe gemaak met boeliekrisis in SA skole?

leandie-lombaard-01

Leandie Lombaard. Foto: Mariska Batt.

Deur Leandie Lombaard

’n Gesin van Gauteng is in rou gedompel nadat hul 13-jarige seun vermoedelik aan beserings weens afknouery by die skool dood is.

AfriForum as burgerregte-organisasie is geskok oor die dood van Louis de Jonge, ’n leerder aan die Noorderlig Gekombineerde Skool in Benoni.

Afknouery is aan die toeneem by skole en dit is juis om dié rede dat AfriForum ’n teenboelieveldtog van stapel gestuur het. Kinders moet meer hiervan bewus gemaak word en weet waar om vroegtydig hulp te kry.

Volgens inligting het Louis Maandag en Dinsdag by sy ma oor erge hoofpyn gekla nadat hy glo verlede Vrydag deur boelies by die skool aangerand is. Hy is na bewering met ’n pyp geslaan en met ’n sokkerbal in die gesig geskop. ’n Nadoodse ondersoek moet eers gedoen word om vas te stel wat die oorsake van sy dood is.

Die skoolhoof het die voorval by die distrikskantoor van die departement aangemeld en ’n verslag is ook aan die departement gestuur.

Louis se familie is getraumatiseer en sal eers later kan besluit of ’n klag teen die boelies ingedien kan word.

Boelievoorvalle kom meer en meer gereeld voor. Die selfsugtigheid van die mensdom steek al hoe meer kop uit en dit wil voorkom of mense mekaar niks meer gun nie. Suid-Afrika is in ’n spiraal van gewelddadige optrede vasgevang wat weerlose mense, soos kinders, nog meer kwesbaar maak.

Dit is tragies en baie hartseer dat die samelewing so vervlak en verval het dat daar nie meer goeie voorbeelde vir jong kinders en die jeug is nie. Daar is ’n enorme gebrek aan norme en waardes. In ’n liefdelose wêreld het ouers en onderwysers nou ’n baie belangrike rol om in kinders se lewens te vervul.

Kinders moet leer wat liefde is sodat hulle daardie liefde na buite kan uitleef. Hulle moet leer van waardes en integriteit, goeie oordeel en goeie besluitneming, want in ’n omgekeerde en vervreemde wêreld gaan hulle dit nie leer nie.

Ouers en onderwysers het ’n groter rol as ooit om as ware leiers op te staan en die jeug te bemagtig. Wees die voorbeeld en wees die begin van verandering in hierdie deurmekaar wêreld! Louis se ma, Elmarie Blanchina, wil hê mense moet besef wat in skole aangaan en meen dat ouers moet oplet na hul kinders se gedrag as daar enige vermoede is dat hul kind afgeknou word. Sy vertel verder dat ouers moet luister na wat hulle kinders te sê het en hoe kinders met mekaar praat en optree.

Goeie ouerskap en goeie onderwysers kan ’n lewenslange positiewe invloed in ’n kind se lewe hê. Ons moet nou al opstaan vir wat reg is, voordat dit weer te laat is.

In ’n vorige artikel (https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/ouerskap/raad-en-daad-vir-boelies/) is vyf tekens genoem wat kan aandui dat jou kind ’n slagoffer is, naamlik:

  1. Onwillig om skool toe te gaan
  2. Veranderinge in slaappatrone
  3. Verandering in geaardheid
  4. Vriendverskuiwings
  5. Afname in akademiese punte (meer kan gelees word deur op die skakel hierbo te klik).

Daar is ook geskryf oor die stappe wat ouers moet volg indien jou kind afgeknou word.

Indien jou kind self die boelie is, is dit ook belangrik vir ouers om aksie te neem. In ’n vorige artikel word inligting deurgegee oor hoe ouers die tekens kan identifiseer of hulle kind self die boelie is, hoe om die saak te hanteer, asook raad oor hoe jy jou kind kan dissiplineer. Die tekens of jou kind ’n boelie is, is onder meer:

  1. Het vriende wat ander afknou
  2. Word gereeld na die hoof se kantoor toe gestuur, of gestuur vir detensie na skool
  3. Blameer ander mense en kinders vir hul probleme
  4. Word vinnig kwaad of aggressief

Sien nog tekens hier: (https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/ouerskap/afknouery-in-skole-is-jou-kind-dalk-die-boelie/)

AfriForum het vanjaar sy teenboelieveldtog afgeskop met praatjies by verskeie skole waar leerders, onderwysers en ouers betrek is. Die doel met dié veldtog is om bewustheid oor afknouery in skole te skep. Indien jou kind se skool betrokke wil raak by hierdie veldtog, stuur ’n e-pos na [email protected]

  • Lombaard is ’n navorser by die burgerregte-organisasie AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

christa ·

vandat ouers nie meer hulle kinders foeter nie, is boelies volop. Ouers moet hulle kinders dissiplineer sodat hulle kan weet wat reg of verkeerd is.

Juan Olivier ·

“Ouers en onderwysers het ’n groter rol as ooit om as ware leiers op te staan en die jeug te bemagtig.”
– Onderwysers kan niks doen. Dis die ouers wat die kinders maniere moet leer. Sodra ʼn onderwyser ʼn kind wil maniere leer spring almal op die onderwyser.

Marita ·

Die ouers as primêre versorgers behoort te besef dat geweldadige en onvanpaste videospeletjies/rekenaarspeletjies asook televisieprogramme besig is om hul tol te eis. Die kinders (boelies) bring die probleme saam skool toe. Dis interessant om by skool te sien dat die kinders se toneelstukkies gewoonlik misdaad (in welke vorm ookal) uitbeeld. En 7de Laan wat die jeug se ‘bybel’ is, promoveer ook drankgebruik en geweldsmisdade. En boelies kom gewoonlik weg met alles in hierdie sepie – waarna ek saam met my tiener kyk om ‘n leiding te verskaf. Die skoolgrond is ‘n mini-Suid-Afrika wat bloot ons siek, verlore samelewing uitbeeld. So tragies soos wat dit is.

Kosie ·

As mens na die kommentare op berigte op nuuswerwe soos Maroela, Netwerk 24, praag, ens kyk, besef jy dat ons in `n see van oningeligte, narcistiese, eng, mensietjies bly – boelies wat al uit die skool is. Lady Gaga en haar ma het `n welsynsorganisasie gestig om skoolboelie te probeer bekamp, en die slagoffers te help.

Flippie ·

Vandag lyfstraf afgestel en skoolgevegte gekriminaliseer is het die boelies vrye teuls. Want sien as daar nou een ding is waarvoor ‘n boelie bang is, dan is dit ‘n goeie losing van of die onderwyser of van medeleerders.

In ons tyd is skoolboelies op hulle plekke gesit deur die gemeenskap in die breë en deur die skool gemeenskap in die besonder. Ons sal gou moet leër dat die sogenaamde liberale anti-geweld sienswyse eintlik geweld induseer. Omdat dit natuurlike sosiale ontwikkeling smoor met voorskriftelike gedragsleer wat hoogs onnatuurlik en anti-organies is.

dr Jan ·

Ons moet met groot kommer kennis neem van die uiters nadelige en gevaarlike uitwerking wat pornografie op die menslike brein het. Om net een hiervan uit te sonder, is geweldadige gedrag. Pornografie is vrylik beskikbaar op die internet en hoeveel kinders besit slimfone wat toegang tot internet bied. Pornografie is ‘n dwelm wat vrylik beskikbaar is en ons samelewing verswyg dit tot ‘n groot mate. Hoe lank gaan ons nog die voorkoms van seksuele losbandigheid en geweldadige gedrag onder ons kinders aan ander relevante oorsake toeskryf en nie ‘n woord rep oor die wesenlike gevaar van pornografie nie? Liewe ouer, weet ons waarna kyk ons kinders en hulle vriende op hulle selfone? Dis nie net die sosiale media nie! Solank daar ‘n blinde oog is vir die gevaarlike uitwerking wat pornografie op die menslike brein het, sal geweldadige gedrag by kinders en volwassenes toeneem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.