AfriForum se teenboelieveldtog: Hoër hoogtes vir 2018

leandie-lombaard-en-ls-monumentpark

Leandie Lombaard spreek die leerders van Laerskool Monumentpark in Pretoria oor boelies toe. Foto: Verskaf.

Deur Leandie Lombaard

AfriForum het onlangs die Pretoriase skool, Laerskool Monumentpark, as deel van dié burgerregtewaghond se teenboelieveldtog besoek.

Dié veldtog dien ter bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“Dit is vir sowel die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) as die Trauma-eenheid belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan,” sê Leandie Lombaard, navorser by ANI.

Dit blyk duidelik ná ’n aantal voorvalle wat reeds vanjaar by verskeie skole plaasgevind het, onder meer die onlangse boelievoorval van ʼn matriekleerder van HTS Drostdy, verlede Donderdagmiddag. Jared-Lee Pietersen (17) is deur drie seuns aangeval.

Tydens die teenboelieveldtog het ouers ook die geleentheid gehad om ’n praatjie by te woon wat deur die akteur Jacques Gombault aangebied is.

“As ’n waardegedrewe Afrikaanse skool streef Monnies na uitnemendheid, eienaarskap, om mekaar te ondersteun, om die vrug van die Gees uit te leef (Gal. 5:22) en om gedissiplineerd, trots, lojaal en positief te wees,” sê Anet Burns, departementshoof van Laerskool Monumentpark.

Afknouery in skole is ’n sensitiewe saak wat ’n negatiewe uitwerking op alle kinders en gesinne kan hê. Afknouery gebeur soms in die geheim of die slagoffer mag dalk bang wees om iemand te vertel dat hy geboelie word. Dit kan daartoe lei dat die boelie homself nog meer in die situasie verlustig en die afknouery duur dan voort.

Wanneer afknouery by kinders voorkom, skep dit ’n gevoel van vrees, frustrasie, sosiale uitsluiting, isolasie of vernedering. Dit alles dra by tot ʼn verlies van selfvertroue en vele ander probleme, soos stres, swak skoolpunte, buierigheid en depressie.

  • Stuur ’n e-pos na [email protected] as jou kind se skool by hierdie veldtog in 2018 betrokke wil raak.
  • Lombaard is ’n navorser by die burgerregte-organisasie AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pappawatwonder... ·

Neem aan Monumentpark het agv boelie gedrag dit nodig geag om die program in plek te stel in die afwesigheid van n formele “boelie beleid”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.