Afrikaans is Groot: ‘Pa’s en seuns, kom raak betrokke’

Steve Hofmeyr gaan saam met Bok van Blerk, Jay du Plessis en Ruhan du Toit die lied “Pa en seun” sing en Afrikaans Is Groot nooi pa’s en seuns om die verhoog met dié bekendes te kom deel. Foto: Afrikaans Is Groot.

Pa’s en seuns kan vanjaar op ʼn besonderse wyse deel wees van die immergewilde Afrikaans is Groot-konserte.

“Ons wil ons ondersteuners die geleentheid bied om die verhoog te deel met van die grootste kunstenaars in die land en gaan die baie mooi liedjie, ‘Pa en Seun’, hiervoor gebruik,” het Barry Pretorius, regisseur van dié konsertreeks, gesê.

Terwyl Bok van Blerk, Jay, Ruhan du Toit en Steve Hofmeyr dié liedjie vertolk, sal gelukkige ondersteuners, wat vooraf gekies gaan word, ook op die verhoog wees om in die spesiale viering van die band tussen pa en seun te deel.

Pretorius het verder verduidelik dit kan selfs ’n oupa met sy seun en kleinseun wees.

“Dit sal beslis wonderlik wees as ons sommer drie generasies op die verhoog het,” het hy gesê.

Belangstellendes moet ’n e-pos na [email protected] stuur met hul besonderhede. Alle e-posse moet teen 31 Oktober 2019 Afrikaans is Groot bereik om in ag geneem te word vir dié groot oomblik.

Suid-Afrika se grootste kunstenaars soos Bok van Blerk, Theuns Jordaan, Jay, Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Corlea, Karlien van Jaarsveld, Riana Nel, Elvis Blue, Tarryn Lamb, Demi Lee Moore, Dewald Wasserfall, Ricus Nel, Snotkop en Ruhan du Toit is weer by Afrikaans is Groot. Karen Zoid en Laurika Rauch is ook vanjaar weer terug met Elandré wat sy buiging op dié verhoog maak.

“Ons hoop ons sien almal by die Sun Arena in Pretoria by Afrikaans is Groot, dit gaan soos altyd ’n lekker partytjie wees. Ek en Steve sien veral daarna uit om regte pa’s en seuns saam met ons op die verhoog te hê met hierdie spesiale item,” het Pretorius bygevoeg.

Ondersteuners wat kaartjies vir die Jóú AIG-konsert op Donderdag 28 November gekoop het, het dié konserte moontlik gemaak en is vanjaar die hoofborg. Hulle kan uitsien na ’n spesiale verrassing op die aand van die 28ste se vertoning.

Afrikaans is Groot 2019 vind op 22 November om 19:30, 23 November om 13:00 en 19:30, 24 November om 13:00, 28 November om 19:30, 29 November om 19:30, 30 November om 13:00 en 19:30, asook 1 Desember om 13:00 by die Sun Arena by Time Square in Pretoria plaas.

Kaartjies is slegs by Computicket, aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies verkoop.

Kyk gerus na die video-uitnodiging hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

patriot ·

Volgende jaar is Steve nie deel van AIG nie. Dan gaan dit doodloop…

HPV ·

AIG sal beslis nie doodloop, daar is net eenvoudig te veel ander goeie kunstenaars, dit sal groter word.
In die lewe is absoluut niemand onmisbaar nie. Die lewe gaan voort sonder jou, my en ander.

patriot ·

Ek weet van honderde mense wat nie meer belangstel om AIG kaartjies te koop as Steve nie deel is nie. Dit gaan om meer as net Steve. Dit gaan om die boikot, die beginsel daarvan. Ek en baie baie ander mense volstaan by dit. Geen Steve, geen bywoning! Lojaliteit is meer werd as `n konsert.

Spikkels ·

Indien Steve 2020 nie by AIG optree nie sal ons ook nie kaartjies koop nie net n beginsel saak. Tyd dat ander Sangers ruggraat kry en sê tot hierna toe en niks verder nie want hul gaan dit aan die gatsak begin voel. Dan moet hul nie vir Steve blameer nie maar hulself.

Spikkels ·

Dankie Barry wens ek kon my seuns en hul Pa in skryf maar ongelukkig het my seun nie meer sy pa by hom nie. Sy pa en jonger broer saam in die hemel. Die lied het soveel betekenis vir my ongelukkig is dit ek wat hul moes begrawe

Therese van Schalkwyk ·

Ai, Spikkels, sterkte met die groot hartseer in jou lewe.
Stem saam met jou, die gebrek aan ruggraat (solidariteit) onder Afrikaanse sangers rakende die Steve-boikot is werklik betreurenswaardig.
Dis net één keer nodig om as ‘n groep te onttrek vir die groot boelie-borge om die boodskap hard en duidelik te hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.