Afsondering: Wat beteken dit vir geskeide ouers en hul kinders?

Argieffoto.

Deur Shani van Niekerk

Die algehele landwye inperking het verskeie nuwe uitdagings vir ons almal geskep. Die aankondiging van die 21 dae-afsondering het vele vrae, onsekerhede en bekommernisse aan die lig gebring en Suid-Afrika betree nou ’n ongekende wêreld.

Suid-Afrikaners moes die afgelope paar dae teen ’n versnelde tempo aanpas en poog om sin te maak van die inperking en veranderinge aan te bring vir hierdie voorheen onbekende situasie. Die regering moes, en het voortdurend veranderinge en regulasies gepubliseer om as padkaart te dien in hierdie nuwe wêreld waarin ons onsself nou bevind.

Die nuwe uitdagings en konstante veranderinge het veral ’n groot impak op gesinstrukture. Geskeide ouers, ouers wat apart woon, asook ander medehouers van ouerlike verantwoordelikhede en regte word tans met eiesoortige uitdagings gekonfronteer. Hierdie gesinstrukture word nie net met die onsekerhede waarmee ons almal tans worstel, gekonfronteer nie, maar ook met die onsekerheid van watter impak al die nuwe regulasies vir ouers, veral ten aansien van die uitoefening van kontak inhou.

Die vraag word gevra: Wat weeg tans swaarder, ’n bevel wat kontak reguleer of die afsonderingsmaatreëls?

Onder normale omstandighede word ouers, ongeag of hulle geskei of nooit getroud was nie, gekonfronteer met nuwe uitdagings binne die gesinsdinamika. Die huidige inperkings het egter die speelveld verander en verder bemoeilik.

Ouers wat reeds geskei is, of in die proses is om te skei, asook ander houers van gesamentlike ouerlike verantwoordelikhede en regte, tas tans in die donker rond oor die vraag en hoe die inperking hul kontak tot hul kinders sal beïnvloed. Jan Publiek, en selfs regslui spekuleer oor wat die korrekte posisie is en behoort te wees. Die veranderende regulasies speel ongelukkig klimtol met ouers en kinders se emosies, angstigheid en geborgenheid. Ons kan maar net hoop dat die regering die insette van die gesinsadvokaat en sielkundiges bekom het alvorens die regulasies heen en weer verander is.

Op 30 Maart 2020 het die departement van sosiale ontwikkeling regulasies (6(m)(i-iv) uitgereik wat spesifiek handel met die verantwoordelikhede en regte van beide die ouers met primêre residensie (die residensiële ouer), asook die houers van kontakregte (die nieresidensiële ouer).

Die regulasies is gemik op die beperking van die verspreiding van die Covid-19-virus, en meer spesifiek die bekamping van blootstelling van minderjarige kinders aan die virus.

Ingevolge regulasie 6(m)(i-ii), soos op 30 Maart 2020, was die beweging of oorgaan van minderjarige kinders van die een na die ander ouer gedurende die afsonderingsperiode verbied. Gevolglik moes kinders vir die volle afsonderingsperiode by die ouer bly by wie hulle fisiek was om 24:00 op 26 Maart 2020.

Die regulasies 6(m)(iii-iv) plaas egter ook ’n verpligting op ouers om aan hul kinders die implikasie en gevolge van die virus, asook die rede vir die afsondering te verduidelik en ander vorme van kommunikasie te gebruik. ’n Wye spektrum van elektroniese en sosiale media platforms soos WhatsApp, Skype, Zoom en so meer kan aangewend word om te verseker dat kinders kontak behou met die ouer by wie hulle nie tans fisiek is nie, om sodoende die band tussen ouer en kind in hierdie tyd in stand te hou.

Op 7 April 2020 is regulasies 6(m)(i-ii) weereens skielik gewysig en bepaal nou dat die beweging of oorgaan van kinders van die een ouer na die ander ouer verbied word, behalwe waar reëlings getref is om die kinders te beweeg/roteer ingevolge:

  • ’n hofbevel;
  • Waar ’n ouerlike verpligtinge en regte ooreenkoms of ouerskapplan onderteken en goedgekeur is deur die kantoor van die gesinsadvokaat, en op voorwaarde dat geen individu in die woning waarna die minderjarige kind sal oorgaan, positief getoets het vir COVID-19 nie of indien daar ’n redelike vermoede is dat enige individu in daardie woning aan die virus blootgestel is of het.
  • Die persoon wat met die minderjarige kinders gaan reis, moet ’n afskrif van die hofbevel of ooreenkoms in hul besit hê tydens die reis.

Die verwysing na “redelike vermoede” in die jongste regulasie is subjektief van aard en met ander woorde oop vir interpretasie. Die bewoording van die nuwe regulasie is ongelukkig ook oop vir die moontlike misbruik daarvan. Ingevolge die jongste regulasie moet ’n ouer kontakbesoeke toelaat indien daar geen redelike vermoede is dat die kind blootgestel kan word aan die virus in die ander ouer se woning nie.

Ouers word versoek om werklik die beste belang van die kinders te oorweeg wanneer kontaksessies beplan word tydens die afsonderingsperiode, en nie die regulasies te interpreteer en misbruik na willekeur nie.

Ouers moet daarteen waak om nie kontak te weier sonder om enige objektiewe redes te kan aanvoer waarom die kind blootgestel sal word aan die virus met enige kontaksessies nie, maar ouers moet ook nie kinders heen en weer pos sonder om oorweging te skenk aan die kinders se emosionele, psigiese en fisieke welstand nie.

Die nuwe regulasies versuim egter om ook te bepaal dat die kinders ook nie moet roteer indien daar enige vermoede van blootstelling aan die virus is in die huidige woning is nie, aangesien die “ontvangende” huishouding ook beskerm moet word.

Die nuwe regulasies laat ook verder ’n leemte vir ouers wat nog nie ’n hofbevel kon bekom of ’n ooreenkoms kon bereik nie. Dit is teleurstellend dat kinders in hierdie huishoudings, wat geen beheer oor die proses en geskille tussen hul ouers het nie, nie dieselfde reg op kontak kan geniet nie, en ons kan net hoop dat die departement van sosiale ontwikkeling dadelik oorweging sal skenk aan hierdie ongelykheid.

Die veranderende regulasies veroorsaak angstigheid en verwarring vir beide die ouers, asook die kinders. Die regslui weet ook nie of hierdie regulasies nou onveranderd gaan bly, en of die regulasies weer gaan verander nie. Kinders besef egter dat die wêreld nou skielik en voortdurend verander, en is dit ouers se verantwoordelikheid om te verseker dat hulle in hierdie moeilike tyd nog steeds stabiliteit, geborgenheid en struktuur ervaar. Ouers moet fokus op die kind se beste belange, en nie hul eie onverwerkte gevoelens teenoor ’n eks nie.

Die howe is vir alle praktiese doeleindes gesluit. Die howe sal egter slegs uiters dringende aangeleenthede waar daar buitengewone omstandighede teenwoordig is, aanhoor gedurende die afsonderingsperiode. Die hooggeregshof bly die oppervoog van alle minderjarige kinders, maar in hierdie stadium blyk dit asof sake wat slegs oor kontak handel, nie aangehoor sal word gedurende die afsonderingsperiode nie, mits die kinders natuurlik veilig is.

Ouers en houers van ouerlike verantwoordelikhede en regte word aangemoedig om die regulasies te gehoorsaam, en nie die reg in eie hande te neem

Shani van Niekerk. (Foto: Linkedin.com)

nie. Ouers moet deel van die oplossing wees en nie deel van die probleem nie. Ouers moet verantwoordelik optree en saamwerk en so ’n voorbeeld vir hul kinders stel. Slegs as almal (ouers ingesluit) saamwerk, sal ons die wa deur die drif trek en ’n veilige en virusvrye toekoms vir ons kinders daarstel.

  • Adams & Adams het ’n span familieregspesialiste wat ouers gedurende en ná die afsondering kan bystaan. Kontak gerus vir Shani van Niekerk (senior vennoot by Adams & Adams) by [email protected], of Courtney Elson (vennoot by Adams & Adams) by [email protected].
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.