Afsonderingsperiode verander in stille hawe

Argieffoto (Foto: sebastian2nd/Pixabay)

Daar lê waarskynlik nog ʼn lang pad voor voordat ons werklik “normaal” sal kan funksioneer, die lewe ná die koronavirus. Dis so ʼn vreemde idee. Dis ʼn vreemde wêreld wat ons gaan betree, waar nog niemand was nie.

Maar intussen is ons nog hier. In afsondering. En ek is sowaar nie seker hoe ek oor enigiets voel nie.

Aanvanklik is daar soveel dinge wat ek mis, wat ons kon doen sonder om twee keer te dink, maar ewe skielik het alles ʼn luukse geword. Net om te kan gaan stap; om winkels toe te gaan; met vriende te kuier; jou motor te bestuur, is alles ʼn luukse.

En ewe skielik voel almal wat dit is om nie alles wat ons benodig, te kry nie. Sedert 26 Maart is ek soveel meer intens bewus van wat dit is om nie alles te hê wat mens as vanselfsprekend aanvaar nie. Hoe moet dit dan voel as jy nie eens die noodsaaklike dinge soos kos, klere of ʼn huis het nie…? Mens se oë gaan oop vir dinge wat saak maak.

Aan die ander kant is ek byna hartseer as ek dink dat ons afsonderingsperiode dalk binnekort verby kan wees. Ja, ek weet dit klink vreemd en presies die teenoorgestelde van wat ek sopas gesê het, maar ek en my man was nog altyd voorstanders van slow living. Ons droom nog altyd daaroor om êrens in ʼn klein plekkie te gaan bly waar die lewe rustiger is, waar mens vir meer dinge tyd het as net werk en ʼn gejaag. Dis iets wat ek nie regtig gesien het wat met ons gebeur nie, totdat ek begin stil raak het en die “rose” begin ruik het.

Ek het begin wonder hoekom is ons almal so “uitgestres” oor die stadige lewe wat ewe skielik in ons skoot geval het? Die rustigheid waarvoor ons gewoonlik met vakansie moet gaan. Hoekom sukkel ons so daarmee? Het ons almal ʼn mate van aandagafleibaarheid? Weet ons nie meer hóé om rustig te wees nie?

Miskien is dit omdat ons so gewoond geraak het daaraan om van een ding na die volgende te hardloop en te werk dat ons verleer het hoe om stil te wees. Wat jaag my so? Afsprake, plekke waar ek nóú moet wees, kinders se aktiwiteite, sperdatums by die werk, noem maar op.

Alles volg ʼn horlosie. Afspraak ná afspraak. Ons sit vas in die verkeer. Haal frustrasies van daar en die werk op mekaar en die kinders uit. Wanneer ons uiteindelik aan die einde van ʼn lang dag by ons hartsmense uitkom, is ons só moeg dat ons nie meer iets goeds oor het vir mekaar nie.

Ek en my man werk wel nog, maar daar is soveel minder stres omdat ons dit van die huis af kan doen. Ons het meer tyd vir mekaar en kwaliteittyd saam met ons kinders. Onnodige dinge jaag ons nie meer nie. Wat ʼn verandering in ons en ons kinders se gesindhede het dit nie alles gemaak nie!

Ons staan rustiger op, ons hoef nie elke liewe dag hare te was en mooi aan te trek nie. Ons werk almal saam in die tuin, ons bak saam, ons pak kunsprojekte aan, ons oefen saam, ons is hiér. Ons leef die bewustelike lewe wat ons veronderstel is om elke dag te lewe.

En nou is ek amper hartseer dat die afsonderingsperiode tot ʼn einde kan kom, want hierdie inperking het begin om ʼn stille hawe te word, waar ons kon herlaai en mekaar weer vind.

Ek wéét, met ʼn seer hart, dat hierdie heel moontlik nie vir almal in Suid-Afrika die geval is nie en my hart bloei vir diegene vir wie dit ʼn moeilike tyd is. Ek wens ek kan meer doen vanuit my inperking, maar ek weet ook ek moenie die genadetyd wat ons as gesin wel ontvang het, misloop nie. Daarom gryp ek hierdie oomblikke met albei hande aan en glo ek dat my ná-koronatyd met meer empatie, rustigheid en bewustelikheid uitgeleef sal kan word, wanneer ons weer ons huise kan verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Raadslid ·

Kom ons hoop dat die nuwe normaal wat op ons wag sal wees dat ons eie mense ons regerende sake sal doen. Tyd vir Selfbeskikking is nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.