Agter die donker gordyn van voor-en nageboortedepressie

Argieffoto (Foto: fancycrave1, Pixabay)

Ek het nageboortedepressie.

Ek is nie skaam daaroor nie en voel eintlik trots daarop dat ek dit wel omarm en erken. Hulle sê die eerste stap na herstel is om dit te erken. Ek kan nou volmondig saam stem. Ek is ook nie die tipe persoon wat stil bly oor sulke goed nie. Vir my is dit helend om te kan praat.

Daar is egter baie vroue wat óf nie weet dat hulle dit het nie óf te skaam voel om dit te erken, en dis vir hulle wat ek hierdie artikel wil skryf. Die gevaar van hierdie situasie (Ek noem dit verseker nie ʼn siekte nie, want dit is nie!) is dat niemand kan weet jy het dit as jy nie uitreik nie.

Toe ek die ander dag vir vriendinne sê ek het dit al gehad toe ek nog swanger was met ons tweede seuntjie, was hulle geskok. Hulle het daarop gewys dat ek dan altyd so gelukkig gelyk het. Dis “ongelukkig” my persoonlikheid se skuld. Ek is meestal gelukkig en probeer altyd die ligte kant van die lewe soek. Ek het egter my hartseer weggesteek deur gelukkig blyk te wees. Dit was nie ʼn totale leuen nie. Om te kuier met vriende en uit my gewone omstandighede uit te kom het my wel gelukkig gemaak en gehelp om vir ʼn kort rukkie uit my donker gedagtes te ontsnap deur besig te bly.

Dit was egter wanneer ek alleen in die dag by die huis was, met my man by die werk en net die geselskap van my babas, wat die donker gordyn gesak het.

Die probleem is twee uit tien vroue ondervind voorgeboortedepressie. Dit gebeur selfs al is jy ʼn opgewekte en positiewe mens soos ek. Dis ook hoekom dit dan so dikwels so moeilik is om te aanvaar.

Argieffoto (Foto: xusenru, Pixabay)

Vir jare het mense geglo dat slegs nageboortedepressie ʼn werklikheid is, omdat hulle geglo het dat swangerskaphormone jou teen depressie beskerm. Dis egter nie waar nie. Ek het dit ook nie geweet toe die donker gordyn al oor my begin sak het terwyl ek nog swanger was nie.

Wat die rede was, weet ek nie. Dit kon wees omdat ek ʼn hoërisiko-swangerskap gehad het tydens die laaste helfte van my swangerskap of dit kon die progestoroonpille gewees het wat ek moes gebruik daarvoor. Of dalk sou ek dit in elk geval gekry het. Wie weet.

Waaroor ek nou die jammerste is, is dat ek nie toe al hulp gesoek nie.

Ek het geweet ek begin depressief raak. Ek het ook nog altyd ʼn baie melankoliese geaardheid gehad en kon soms in ʼn effense donker gat val. Ek het dié keer gesien hoe die donker gordyn die sonskyn totaal begin blok in my lewe. Ek het egter vermoed dis die pille en gedink dit sal weg gaan as my seuntjie eers hier is.

Dit het nie.

Die gordyn het al donkerder en dikker geword, aangehelp deur ʼn baba wat erge geelsig gehad het, toe ongelooflike erge “reflux” (hy het dit nog steeds) en wat toe as gevolg daarvan nie meer kon borsmelk drink nie, omdat hy nie gewig wou aansit nie. ʼn Amper tweejarige wat boonop ekstra stres veroorsaak het, kan enigiemand totaal oorweldig laat voel.

Gevaartekens wat vir my begin flikker het, was: ek was glad nie opgewonde oor my pragtige seuntjies nie, ek was die hele tyd hartseer (let wel hierdie is normaal ná geboorte … dit moet net nie vir baie lank aanhou nie), ek het buite beheer op my arme man geskree en baklei oor niks nie … terwyl ek onseker was waaroor presies ek so skree terwyl ek dit doen, min – indien enigiets – het my opgewonde gemaak, en ek het totaal hopeloos gevoel.

Ander tekens wat ander mense al genoem het, is om hulle kind iets te wil aandoen en selfs om selfmoord te oorweeg. (Asseblief liewe mede-ma, moenie dat dit tot hierdie punt kom voor jy hulp gaan soek nie.)

Ek het Biral (natuurlike antidepressante) gedrink, maar dit het nie gehelp nie. Toe het ek vir my man gesê ek dink ek het nageboortedepressie. Hy het eers gesê hy dink nie so nie. Ek is dalk net oorstuur en hy het belowe hy sal my nog meer help waar hy kan. (En glo my, hy het regtig reeds baie gedoen.)

Dit het egter nie gehelp om die gordyn te lig nie.

Ek moes self die keuse maak om te sê: ek dink ek het nageboortedepressie en ek moet self iets hieraan doen.

Dis nie dat die mense om jou nie omgee nie; hulle het geen idee hoe donker daardie gordyn kan wees nie. Daar kom niks sonskyn deur nie. Dus moet jy self kies om dit in die oë te kyk en te erken. Meestal sal die mense wat jou lief het jou bystaan deur alles en hulle sal jou ondersteun as jy self kies om iemand te gaan sien.

Weereens, dis nie noodwendig ʼn gegewe dat jy dit het nie. Hormone kan wel ʼn rol speel. Dikwels kan dit makliker gemaak word deur net ʼn paar sessies met ʼn sielkundige te spandeer. Ander kere het daardie gordyn iets meer nodig om te verdwyn.

Argieffoto (Foto: Pixabay)

In nabetragting kan ek nou sê dat dinge soos gereelde oefening, ʼn gesonde dieet en deur jouself te omring met dinge en mense wat jou gelukkig maak tydens jou swangerskap, ʼn groot invloed het om dit te bestry. Soms is dit egter nie genoeg nie. Depressie is ʼn wanbalans in jou brein wat jou nie die vermoë gee om jouself uit daardie donker gat te kry nie. Dit is letterlik onmoontlik vir ernstige depressie-lyers. Dan het mens iets meer nodig, soms ʼn psigiater en antidepressante. Meestal net vir ʼn rukkie.

In my geval was daar iets meer nodig … En die son het weer begin skyn.

Baie vroue voel skuldig, skaam of albei as hulle die snaakse gedagtes en gevoelens begin kry. Soms besef mens nie eens jy het dit nie. Veral as jy nog altyd ʼn positiewe mens was. Mense dink dis ʼn teken van swakheid as jy professionele hulp moet kry. DIT IS NIE! DIT IS NIE! DIT IS NIE!

Jy gaan dokter toe as jy siek voel. Jy gaan sien ʼn dieetkundige as jy met jou gewig sukkel. Jy gaan gym toe as jy ʼn gesonde liggaam wil hê. Jy gaan sien ʼn finansiële adviseur as jou finansies in gevaar is. Jy gaan kerk toe as jy geestelik wil groei. Hoekom sal mens dan skaam voel as jy na dié deel van jou wil kyk wat nie net jouself nie, maar letterlik almal om jou gaan bevoordeel as dit gesond is? Jou geestesgesondheid.

Liewe ma agter die donker gordyn: Jy hoef nie alleen daar te bly staan nie. Jy kán jou kinders geniet. Jy kán weer glimlag en opgewonde raak oor die lewe na geboorte. Jy kán weer heel wees. Want jy het een van die grootste Godgegewe gawes ontvang en dit is om ʼn ma te wees.
Doen dit in die sonskyn.

Indien jy enigsins vermoed jy het voor-of nageboortedepressie, kontak iemand wat vriende voorstel of enige van die volgende kontakte:
• SA Depression & Anxiety Group (SADAG) 0800 20 50 26, www.sadag.org
• Families South Africa (Famsa) 011 975 7106/7, www.famsaorg.mzansiitsolutions.co.za
• Mental Health Information/Suicide Crisis 0800 567 567
• The SA Federation for Mental Health 011 781 1852 of e-pos [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Annelize ·

So bly iemand skryf hieroor! Ek het self hierdeur gegaan met my 2de kind en moes maar self gaan uitvind wat met my fout is. Wens ek het vroeër geweet dat mens die tipe depressie ook regdeur ‘n swangerskap kan hê en nie net na die tyd nie.

Nettie ·

Ek wonder wat het ons oumagrootjies so honderd jaar gelede gemaak – hulle het omtrent élke jaar ‘n baba gehad, tot soveel as 13 kinders per gesin, maar het jy ooit al gehoor van ‘n moeder (in daardie jare) wat met depressive (voor- of nageboortelik) gesukkel het? Nee wat, hulle was gans te besig en moes maar voor- en aanvat ……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.