Agter elke goeie ma…

Argieffoto (Foto: melindarmacaronikidcom/Pixabay)

Dis Movember en met die fokus op mans se gesondheid, het dit my sommer laat dink aan die mans in my lewe. Die geslag wat nie noodwendig deur al die swanger- en kraampyne gaan nie, maar wat ook deel van die hele proses is. Soms kry hulle selfs ʼn groot deel van die slegte kant. Hulle moet met die hormone, wisselende buie, en dikwels ook maar min slaap probeer oorleef.

Kom ons jok nou nie vir mekaar nie. Ons vrouens is dikwels baie meer aanpasbaar by veranderinge en ons kan nogal baie goed multitask. Ek en manlief het nou die dag lekker gelag, toe ʼn aktrise in die fliek Mamma Mia! 2 sê: “Being a mother is never easy – otherwise fathers would do it!”

Maar wanneer die tyd kom, moet ek erken kan van die mans regtig doen wat daar van hulle verwag word. My arme man het elke aand kos gemaak terwyl ek in my eerste trimesters was, omdat ek niks van kos wou weet nie. Om doodeerlik te wees moes hy gaan inkopies doen ook, want ek het begin naar voel net om deur die kosrakke te stap.

Hy moes rug en voete vryf regdeur die swangerskap, en natuurlik nog steeds lief bly vir my ten spyte van die hormone wat my soms in ʼn totale vreemdeling vir hom verander het.

Ek het egter besef hoe emosioneel hulle ook maar betrokke raak by die hele proses toe ek die dag kraam en ons eersteling glad nie die memo gekry het van mý geboorteplan nie. Ná manlief my regdeur my 16 ure van “ek wíl natuurlik probeer kraam”-proses bygestaan het en dit toe uiteindelik dramaties in ʼn noodkeiser moes eindig, kon ek die trane van verligting in sy oë sien toe hulle ons seuntjie omhoog hou.

Toe eers het ek werklik besef hoe intens die ervaring vir hom ook moes wees.

Op ʼn sekere manier moet dit eintlik bietjie erger wees, want hulle voel magteloos om werklik iets te kan doen. Hy het gesien deur watter pyn ek is en dan natuurlik gaan dit gepaard met kommer oor my welsyn as dinge begin lyk of dit suid gaan.

Dan word dit tyd om daardie lyfie huis toe te neem en weereens moet hulle uit hulle gemaksone tree op meer as een manier. Manlief het altyd grappenderwys gespot deur te sê hy het ʼn klousule in ons voorhuwelikskontrak gesit waar dit meld hy hoef nie eendag doeke te ruil as die kinders opdaag nie… In ons huis was dit ongelukkig vir hom nie ʼn opsie nie. Van dag een af moes hy help. En het, mag ek sê, sommer baie gou ʼn meester daarin geraak.

Hy het ook gehelp om die kinders aan die slaap te maak, te bad en elke liewe keer wat ek in die middel van die nag moes opstaan om te borsvoed, vir my ʼn koppie tee met ʼn beskuitjie gebring, voordat hy weer gaan slaap het.

Nou, twee kinders later, is hy nog steeds pa van die eeu, deur elke dag tyd te maak om met die seuns te speel as hy van die werk af kom. Hy ruil nog steeds doeke om en help kos gee, neuse afvee, lees slaaptydstories, staan op in die nag en help dissiplineer. En probeer my elke nou en dan ʼn oggend se laat slaap gee.

Hierdie maand wil ek dankie sê vir elke man wat werklik ʼn “pa” geword het. Al sê ons as ma’s dit nie altyd nie, beteken dit nie ons sien nie julle pogings raak nie… Ons het dalk net nie altyd tyd in ons dol dag om dit te kan sê nie.

Weet egter dat ons dit nie sonder julle sou kon doen nie en verseker nie die ma kon wees wat ons vandag is nie.

Agter elke goeie ma…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Angelique ·

Dit is so waar – dankie dat u dit geskryf en publiseer het…… my man is net so wonderlik… op die einde van die dag vul ons mekaar aan……. mooi dag verder.

lolla ·

agter elke goeie ma staan baie keer n pa wat weer soos n stubborn kind optree en meer tantrums en eise stel..
dankie tog vir die baie goeie pa’s wat hulle vroue bystaan

SNEL ·

Vir my staan daar agter elke goeie ma, haar eie biddende ma. Die ma en ouma wat haar eie kind en kleinkinders en skoonseun of -dogter opdra aan die Here. Wat op haar knieë bly vir haar uitgebreide familie en gesin. Ek kan net dankie sê vir my ma vir al die gebede. Ek weet dis wat my dra en staande hou en dit bring so baie verligting om te weet my eie ma bid ook vir my kinders… Sy noem miskien iets vir die Here wat ek vergeet om te vra. Ek het nie n skoonma wat vir my bid nie, maar my ma se gebede is kosbaarder as edelstene vir my. Ek kan net op my knieë gaan en sê dankie vir n ma wat vir my bid om die beste ma te wees wat ek kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.