Akademia bied nou topkwalifikasie in projekbestuur

Die Akademia-kampus. Foto: Verskaf

Die Akademia-kampus. Foto: Verskaf

Akademia, die gemeenskapsuniversiteit in Centurion, brei vanjaar sy snelgroeiende akademiese portefeulje uit met ’n gevorderde diploma in projekbestuur.

Die instansie het vanjaar ook sy vyfde bestaansjaar met ʼn splinternuwe kampus, dosente en akademiese hoof gevier. Piet le Roux, voorheen hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het vanjaar die leisels as hoof van die akademie oorgeneem.

Die instansie bied vanaf Maart vanjaar die gevorderde diploma in projekbestuur aan. Dit is ’n eenjaar-kwalifikasie en die klasse vind nauurs plaas om te verseker dat beroepslui hul inkomste kan behou. Dié opsie plaas ’n skaars vaardigheid binne bereik van Afrikaanse bedryfslui.

“Projekbestuur handel daaroor om projekte, van die kleinste tot die mees komplekse, suksesvol binne die tydraamwerk en begroting af te handel. Vir dinamiese werknemers is dit die volgende tree in hul loopbaan, waarmee hulle meer produktief kan wees, kop en skouers bo mededingers kan uitstaan en bo diskriminerende arbeidspraktyke kan uitstyg. Te midde van groeiende ekonomiese druk is dit ’n vaardigheid wat werkgewers nie kan versmaai nie,” het Le Roux gesê.

Dié diploma is ’n uitsoekprogram en studente moet oor minstens drie jaar ervaring in die beroepswêreld, asook ’n graad of diploma beskik. Koste beloop R27 000 en sluit ’n jaar se intekening op Microsoft Project in.

Yolandi Grobler, dosent in Projekbestuur by Akademia, sê die program behels ’n unieke kombinasie van kontaksessies, interaktiewe videotegnologie en e-leer. “Kontak- en tutoriale sessies is verpligtend en word in die loop van vier Saterdae in Centurion en Bellville aangebied. Met die drie verpligte toetse en drie verpligte werksopdragte maak ons seker dat studente gereed is om by die eerste geleentheid hul kennis in die praktyk toe te pas.”

Voornemende studente kan tot 26 Februarie aansoek doen op Akademia se webwerf. Klasse neem op 5 Maart ’n aanvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ruby ·

Ek hou Akademia se groei met groot afwagting dop.

Hoop oor 2 jaar is daar baie meer keuses en kampusse.

Theresa ·

Kyk daarna om die Projekbestuur ook vir mense aan te bied wat nie reeds gegradueerd is nie, asb.?!

Johann Marx ·

Komaan, julle moet roer. Ek het ‘n Ingenieur en ‘n Biokinetikus wat by julle wil kom swot….Hulle’s albei wit en Afrikaans en het elkeen alreeds 13 grade. Graad 1 -12 …en ruggraat!!

Daniel Foster ·

Kyk asb om met n apteker en apteker assistent kurses by julle te begin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.