Akademia hou eerste aanlyn inligtingsessie

Wil jy in 2021 studeer? Akademia, die Afrikaanse hoëronderwysinstelling, hou op Saterdag 30 Mei vanaf 10:00 tot 11:00 ʼn aanlyn inligtingsessie wat regstreeks uitgesaai word.

Jy, en jou hele gesin, kan hierdie sessie in die gerief, veiligheid en gemak van jou eie huis bywoon om meer te leer oor jou studiemoontlikhede vir volgende jaar.

Akademia se inligtingsessie word vanjaar vir die eerste keer aanlyn aangebied. Gewoonlik word hierdie sessies by die instelling se studiesentrums gehou. “Vanweë die afsonderingsperiode, en omdat daar soveel navrae is, het ons besluit om hierdie sessie na voornemende studente se huise toe te neem,” vertel Lizán Maree, Bestuurder: Studentewerwing by Akademia.

Tydens die inligtingsessie word ʼn bondige oorsig van Akademia se unieke nauurse onderrigmodel verskaf. Akademia se studierigtings vir 2021 word bespreek, en ʼn kort demonstrasie word gegee van hoe om maklik en vinnig die aansoekproses te voltooi. Voornemende studente kry ook die geleentheid om vrae in die kommentaar-gedeelte te vra wat die aanbieder dan beantwoord.

“Voornemende studente kan bloot vooraf op Akademia se webblad registreer om toegang tot die inligtingsessie te verkry,” sê Maree. “Enige iemand is welkom om die inligtingsessie by te woon, veral as jy nuuskierig is oor hoe Akademia se unieke model werk.”

Akademia se nauurse onderrigmodel gebruik gevorderde tegnologie om dosente en studente in ʼn virtuele leerruimte te verbind. Interaktiewe kontaksessies word regstreeks en nauurs na dertien studiesentrums landwyd en in Namibië uitgesaai. “Hierdie model is ideaal vir persone wat wil werk terwyl hulle studeer,” meen Maree.

Diegene wat in 2021 nauurs wil studeer sal beslis baat uit hierdie inligtingsessie. “In onsekere tye is dit juis belangrik om in jou toekoms te belê,” reken Maree. “Of jy in matriek is en naskoolse moontlikhede oorweeg, of reeds in die werkplek staan en jou verder wil bekwaam, oorweeg al jou studiemoontlikhede vir ʼn belowende loopbaanreis.”

Daar is slegs 500 virtuele sitplekke vir hierdie inligtingsessie beskikbaar. Voornemende studente kan vooraf op Akademia se webblad registreer om hulle plek te verseker. Aansoeke vir studies in 2021 is reeds oop. Vir meer inligting oor die inligtingsessie of Akademia se programaanbod, e-pos [email protected] of stuur ʼn WhatsApp na 0861 222 888

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.