Aktrise (40) swanger: ‘Wonderwerk van God oorweldig ons’

Erica Wessels en haar man, Willem Boshoff, verwag hul eersteling. Hier spog sy met haar swanger magie tydens 'n onlangse vakansie in die Seychelles. (Foto: Instagram via Erica Wessels)

Erica Wessels en haar man, Willem Boshoff, verwag hul eersteling. Hier spog sy met haar swanger magie tydens ‘n onlangse vakansie in die Seychelles. (Foto: Instagram via Erica Wessels)

Erica Wessels (40), die bekende aktrise wat onlangs op die kassie te sien was as die boetebessie Ragel-Lee in die Afrikaanse televisiereeks Dwaalster, en haar man, Willem Boshoff, verwag hul eersteling – ʼn dogtertjie.

Wessels, wat onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel het dat sy op 40 baie gemakliker in haar vel is as die karakter wat sy in dié omstrede kykNET-dramareeks vertolk het, is nou 21 weke swanger en in haar tweede trimester. Sy vertel dat sy en haar man, ʼn aktuaris, totaal stomgeslaan is deur die ingewikkeldheid én orde van die lewe en die skepping.

“Dit is niks anders as ʼn wonderwerk nie,” vertel sy aan Maroela Media. “Ek weet ek én Willem is oorweldig deur dié wonderwerk van God wat finaal haar verskyning kom maak het! Ons is albei verskriklike late-bloomers – ek was 38 en hy 40 toe ons getroud is. En teen die tyd wat ons dogter haar verskyning gaan maak is ek al 41.”

Erica en haar man, Willem Boshoff. (Foto: Instagram via Erica Wessels)

Erica en haar man, Willem Boshoff. (Foto: Instagram via Erica Wessels)

Die paartjie is in 2016 by die Winery Road Forest buite Stellenbosch in die eg verbind en Wessels vertel dat dit hulle ongeveer 26 maande geneem het om swanger te raak.

“Dit was ʼn lang en moeilike proses gevul met baie teleurstelling, oorweldigende statistieke oor ouderdom en fertiliteit en dan nog steeds opstaan en weer probeer. So ek dink miskien is daar ʼn voor die hand liggende dankbaarheid wat hand aan hand gepaard gaan met ʼn lankverwagte deurbraak,” sê Wessels.

Sy voeg by dat haar eerste trimester op ʼn fisieke vlak ontsettend uitdagend was. “Dit was rof. Ek was regtig so siek soos ʼn hond! Ek het selfs een aand in die hospitaal beland van braking! ʼn Konstante naarheid het my soos ʼn donderwolk gevolg en ek kon nie gesonde, normale kos oor my lippe kry nie. Op die ou einde het ek vrede gemaak met Coca-Cola, soutbeskuitjies en so nou en dan ʼn stukkie roosterbrood met kaas. Moegheid was soos ʼn kledingstuk wat ek daagliks aangetrek het en die hormone was interessant,” lag sy.

Erica Wessels wys haar swanger magie in die Seychelles. (Foto: Instagram via Erica Wessels)

Erica Wessels wys haar swanger magie in die Seychelles. (Foto: Instagram via Erica Wessels)

“Nou in my tweede trimester gaan dinge wonderlik goed. Ek het ʼn enorme eetlus en ek voel weer vol energie en lus vir die lewe.”

Toe sy uiteindelik die positiewe bloedtoetsresultaat kry, was sy amper heeltemal verslae en amper in ongeloof ná maande se teleurstelling, sê sy.

“Omdat ons so lank gevat het, was ons proses anders. Ons moes bloedtoetse doen om te kyk of die resultate positief is. Die oggend wat ons die uitslag terug sou kry het ek stout en stilletjies op ʼn swangerskaptoets gepiepie – en dit was positief! Willem was in die sitkamer besig met iets en ek het stilweg en saggies in die deur gestaan en gesê: ‘Lief, daar is twee lyntjies. Ek dink dit beteken dit is positief.’ Willem se reaksie was ʼn baie sterk en histeriese ‘Heerlikheid, Erica! Wat?’

“Ons het net vir mekaar gestaar, begin lag en besluit om te wag vir die bloedtoetsresultaat, maar in my hart het ek geweet die koeël is deur die kerk.”

Wessels vertel sy is die jongste van vyf kinders en tannie van 11. “So, vir ons is ʼn groot familie en stringe kinders heeltemal normaal. Die jongste kleindogter is egter ook nou agt jaar oud, so die familie is vreeslik verheug oor die nuwe kleinding wat op pad is.”

Erica Wessels. (Foto: Instagram via Erica Wessels)

Erica Wessels. (Foto: Instagram via Erica Wessels)

Sy vertel ook dat sy geen verwagtinge van haar dogter het nie en dat sy moet weet sy is vry om haar ware self uit te leef. “Ek glo sy gaan kom soos wat sy is, met ʼn wêreld van haar eie en haar unieke talente, drome en nuuskierighede. Ek wil hê sy moet weet dat ons haar sal ondersteun en lei om ʼn gesonde, vol mensie te word, soveel soos wat ons kan.

“Eerlikwaar sal ek gelukkig wees as sy ʼn mens is wat haar medemens liefhet, iemand is wat mense werklik raaksien en haar Skepper soek. Iemand wat goedhartig is en streef na karakter, integriteit, eerlikheid en egtheid. Die detail van die res hou ek met ʼn opgewonde, oop hand. En ek dink sy gaan ons verras … met speel en kleur en wêrelde van pret!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Liekie ·

Baie geluk !!
Dankbaar vir wonderwerke.
Jy is ‘n pragtige vrou en baie goeie aktrise – MAL OOR JOU

Lizelle de Beer ·

Baie geluk! Wonderwerke gebeur nog elke dag. Ek en my man was self 14jaar alleen voor ons eerste dogtertjie gebore is. En 2en n half jaar na haar, nog n dogtertjie.

Sonja Alberts ·

Baie baie geluk julle 2’tjies !!!!Mag die nuwe bonteltjie vreugde julle hartjies ekstra blyer maak!!Erica is 1’van ons top aktrisses!!!(volgens my)

Amanda ·

So pragtige en paartjie. Alle voorspoed en dankie vir jou eerlikheid.

annalie ·

Mooi gesê Andre, ek wonder net, het jy kinders? Ja, dit gaan sleg in ons land maar gelukkig kry die Mamma en Pappa aanwysings hoe om hierdie bondeltjie groot te maak van ‘n groter mag as ek en jy.

Lientjie ·

Ja nee Andre, met mense soos jy in ons land is daar verseker geen toekoms nie.

KaterinaKat ·

Dis lekker om laat in mens se lewe n kind te he, mens het baie meer geduld. Ek het my jongste gehad toe ek 41 was. Hy is nou al n tiener. Ek was nog nooit een oomblik spyt nie.

Brenda Ortega ·

Veels geluk! Dis n wonderlike ervaring. Ons dogter op my 45ste verjaarsdag gebore ( onbeplande datum). Sy hou ons jonk en is elke dag n blessing!

Heksie ·

Jinne, ek het altyd gedink jy is nog bitter jonk, jy lyk pragtig en baie geluk met julle kleinvoet!

Oujongvrou ·

Baie geluk julle. En moenie julle steur aan ouvrou stories oor katte en babas nie. My kinders het almal met katte wat selfs binne die bedjies saam geslaap het groot geword. En n man wat van katte hou is die beste pa’s ooit.

Lizelda ·

Ja nee regtig. Eks gebore met katte in die huis het self katte gehad met my 2 swangerskappe en behalwe vd gryshare deur d jare van my 2 kids se stoutigheid is hulle PERDFRIS en gesond.xxx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.