Al wat mens kan doen is lag

Argieffoto (Foto: Soledadsnp, Pixabay)

Alhoewel ek moederskap baie geniet, moet ek eerlik wees. Soms, net soms, doen jy dinge wat jou werklik soos Supervrou laat voel. En ander kere kry jy jouself net gewoon jammer vir die onbeskryflike dinge waardeur jy moet gaan. Dan besef jy jy het wonder bo wonder oorleef om die storie te vertel, en begin jy selfs droom wie jou rol in die fliek gaan vertolk …

As ek nou terugdink aan sekere tye sedert my twee kinders hulleself stewig in ons lewens kom inwikkel het, lag ek stilletjies in my mou vir van die amper onbeskryflike dinge wat ons al moes doen.

Natuurlik op daardie oomblik het ek seker nie altyd gedink dis snaaks nie, maar as mens jou humorsin behou met kinders in jou lewe, glo ek jy sal kan oorleef. By hook or by crook.

Want al wat jy soms kan doen is lag.

As ʼn vryskutskrywer werk ek op projekte wat na my kant toe kom. As daardie projek drie maande ná jou baba se geboorte kom wat ernstige refluks en koliek het, aanvaar jy dit ongeag. Babas slaap mos in die white noise van koffiewinkels … Die rede hoekom ek in ʼn koffiewinkel gaan werk, is sodat ek my oudste kan “ontvlug” en ek op dieselfde tyd kan eet. Note to self: ná drie maande slaap babas nie meer noodwendig in die white noise van ʼn koffiewinkel nie. Ek wil letterlik vir elke persoon wat ʼn stoel uitskraap of te hard lag hard sê: “Shuuuush!!” Uiteindelik staan jy letterlik wiegend by die koffiewinkeltafel met ʼn baba op die heup (want hulle weet mos dadelik wanneer jy gaan sit), terwyl jy probeer om met die kliënt oor die telefoon te praat en terselfdertyd ʼn e-pos te stuur.

Al wat mens kan doen is lag.

Of McDonalds word ʼn stapelvoedsel … Toe my oudste egter begin om “Yum-yum!” te sê elke keer as hy die goue boë van die bekende wegneemete-restaurant gewaar, omdat ek vir hom soms ʼn pakkie slap tjips koop as die nood druk, dan begin jy ernstig vermoed jy is ʼn vreeslike slegte ma. Moenie my oordeel nie, maar daar is niks so maklik as om by ʼn drive-thru te stop terwyl baba in die kar slaap of as jy net in die kar tyd het om te eet, op pad na jou volgende afspraak nie. Wat ek wel na my tweede swangerskap besef het, is mens kán gewig verloor op net ʼn McD’s-hamburger en tjips vir ʼn ete … as dit letterlik al is waarvoor jy tyd het om te eet in die dag.

Al wat mens kan doen is lag … en ʼn klein bietjie skaam kry.

Een van die ervaringe wat ek en my man verseker nie weer sal wil oor hê nie, was die keer toe my oudste hand-voet-en-mondsiekte gekry het. (Ons jongste was in daardie stadium ses weke oud en natuurlik gebeur sulke dinge mos altyd oor ʼn naweek.) Aanvanklik dog ons dis mangelontsteking omdat hy nie wil eet nie en ʼn hoë koors het. Ons besoek ons naaste hospitaal en die dokter aan diens beaam ons vrees. (Nie altyd seker hoekom ons ʼn dokter nodig het nie …) Antibiotika word voorgeskryf. (Dis seker hoekom ons ʼn dokter nodig het.) Sondag gaan dit nie beter nie … want hy slaan blasies oral uit op sy voete en hande, en eet nog steeds nie. Ek sê dit moet ʼn allergiese reaksie op die antibiotika wees. Vieruur die Sondagmiddag is ons weer hospitaal toe. Ja, dit moet ʼn allergiese reaksie wees. (Ek moes duidelik ʼn dokter geword het.) Hier is kortosoon. Ná ons die medisyne vir hom gegee het, lig sy ons in: o ja, hy mag dalk bietjie hiperaktief word as gevolg daarvan. Goed dan …

Negeuur daardie aand hop ons arme tweejarige soos ʼn Duracell-hasie in sy kot rond en giggel sonder ophou. Teen tienuur begin hy huil sonder ophou. Duidelik is hy al dood moeg, maar sy kop kan nie afskakel nie. Hy huil en skree tot tweeuur die volgende oggend toe hy uiteindelik aan die slaap raak, net om weer drieuur wakker te word en wakker bly tot vieruur. Seweuur is hy weer wakker vir die dag …

Nee kyk, ons moet weer dokter toe want hierdie blase raak nie beter nie … Gelukkig is dit nou Maandag en ons huisdokter is weer by die spreekkamer. Sy gee een kyk na die blasies en sê dis verseker hand-voet-en-mondsiekte. (Miskien moes ek nie ʼn dokter geword het nie.) Jammer, sê sy. Julle kan niks daaraan doen nie. Dit moet net uitwerk. Wonderlik! Vir die volgende twee weke is ons kluisenaars in ons huis want dis ʼn hoogs aansteeklike siekte en jy gun vir niemand anders die onbeskryflike ervaring nie.

Al wat mens kan doen is lag.

Dan is daar die tye in die dag waarna ek graag verwys as “bad-en-klap”-tyd (benaming met komplimente van my niggie wat reeds drie kinders grootgemaak het) of ook sarkasties bekend as “happy hour”. (Dit het presies die teenoorgestelde betekenis as in my studentedae …) Die ure tussen vier en sewe wanneer die dag se gebeure net te veel geword het vir almal.  Dan doen ʼn ma enigiets om nie haar kop te verloor nie. En as pappa die dag laat werk, kan dit soms rêrig rof raak.

Argieffoto (Foto: FeeLoona, Pixabay)

Soms is die enigste ding wat keer dat die tweetjies nie onbedaarlik in ʼn kanon huil nie, om met hulle te gaan stap. Elke moontlike posisie is al probeer. Soms is oudste in sy stootwaentjie en jongste in my arms. Vir enigiemand want nog nie deur hierdie ervaring is nie: dis nie die gemaklikste posisie nie, maar as ʼn ma maak jy dit werk. Die een keer het ek heel moontlik 10 keer op en af in die straat voor ons huis gestap terwyl die suidooster om ons woed, voordat man-lief uiteindelik daar aangekom het en almal weer hulle utopie bereik het.

ʼn Ander keer wou oudste met alle mag en krag nóú met sy motorfietsie gaan ry … Jongste moes toe maar in die stootwaentjie. Toe ons egter omdraai by die hek van die kompleks waarin ons woon, wat maklik amper ʼn kilometer van ons huis af is, was oudste nie meer lus vir sy motorfiets nie en wou hy hê ek moet hom dra … Dus moet ek ʼn stootwaentjie stoot, ʼn tweejarige dra en op ʼn bomenslike manier die motorfiets ook by die huis kry. As my beroep as ʼn dokter nie sou uitwerk nie, kan ek dalk ʼn ingenieur oorweeg, want ek het op een of ander manier die motorfiets vasgekry aan die stootwaentjie.

Ander dae help stap nie eens nie en dan sit jy met albei skreeuende kinders bo-op jou op die bank. Dis gewoonlik die tyd wat die kat ook besluit sy wil op my skoot kom sit en bietjie aandag vra. Persoonlik het ek al gewonder of sy nie dalk hoop sy word eindelik doodgedruk tussen al die lyfies op my skoot om die oorverdowende kakofonie te ontvlug nie…

Al wat mens kan doen is lag.

Maar ek vermoed die een ervaring wat ek seker nooit sal vergeet nie en wat moederskap na die volgende vlak geneem het, is toe ek vir ʼn skoonheidsbehandeling moes gaan en my jongste daardie dag net besluit het daar is geen manier dat hy rustig in sy drastoeltjie gaan bly sit nie. Hy het só ʼn keel opgesit dat daar geen Zen in daardie spa was nie en mense wat daar verbygestap het, waarskynlik gedink het dis eerder ʼn martelkamer as ʼn spa. Al oplossing om hom effens rustig te kry, was om hom vas te hou … Wat ʼn “heerlike” ervaring was dit nie! Nie weer nie.

Al wat mens kan doen is lag.

Daar is nog vele sulke stories wat ek kan deel, maar my gevolgtrekking is dat iets wat mens baie gou moet leer as jy kinders kry, is om nie die wêreld of jouself te ernstig op te neem nie. Solank jy die humor in situasies kan raaksien sal kindersgrootmaak sorg vir die snaaksste stories in jou lewe, want kindersgrootmaak is nie vir sissies of mense sonder ʼn humorsin nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae