As jy nooit verwag het om te verwag ná al die gewag nie

Foto: WerbeFabrik/Pixabay.com

Foto: WerbeFabrik/Pixabay.com

Deur ‘n mamma wat moes wag

Ek en my man was skaars ʼn jaar getroud toe ons besluit het om die Pil te los.  Die helfte van die eerste maand was nog nie eers om nie, toe koop ek al skelm ʼn swangerskaptoets.

Sorgvuldig die voubiljet gelees, mooi gemik en siedaar…. negatief. Nie ʼn sweempie van ʼn tweede strepie nie. “Toemaar, hulle sê mens moet na drie dae weer toets,” het ek bly hoop, maar diep in my binneste het ek geweet daar is niks. Na ʼn jaar is ons na ʼn fertiliteitspesialis verwys. Nog ʼn jaar later het ek myself wysgemaak dat ek vooraf moet aanvaar daar gaan een strepie op die stokkie wees. Elke maand was die teleurstelling en hartseer maar weer net so groot. Dit het al hoe moeiliker geword om vir vriendinne wat bultmagies kry, bly te wees. Nee, ek was regtig bly vir hulle, maar ook jaloers – nie ʼn lelike jaloers nie, ʼn hartseer benyding.

Twee embriotjies (Februarie 2013)

Ná vier jaar se pille, hormone, inspuitings, ongemaklike sonars, baie trane, hormoonbuie en duisende rande se skuld, het ek genoeg gehad. Nadat ons enigste twee embriotjies met In-Vitro-behandeling nie oorleef het nie en ek ernstige komplikasies ná die prosedure ontwikkel het, moes ons tot die moeilike aanvaarding kom dat ons ons waarskynlik nooit ons eie kindjie sou kon baar nie. Ons het al die behandeling, inspuitings en pille gelos en gewag om berusting te kry. Ek het alles weggegooi. Al wat ons gehou is die fototjie van die twee embriotjies wat ek verloor het. Twee selletjies, wat elk soos ʼn bondeltjie borreltjies lyk. Hoe sou hulle gelyk het? Wie se tone? Wie se neus?

Ek het myself maar in my werk verdiep en gehoop die mamma-instink sou die een of ander tyd ʼn stille dood sterf. Dit is iets wat mense nie verstaan nie. Dit is ʼn biologiese liggie wat aangaan. ʼn Fisiese behoefte aan ʼn baba – en daar is nie ʼn af-knoppie daarvoor nie.

Ons kry ʼn Prinses (Mei 2013)

Op die Vrydag voor moedersdag daardie jaar, kry ons ʼn onverwagse oproep. Dis my kollega by die werk se ma – ʼn senior maatskaplike werker – hulle het ʼn sesjarige dogtertjie wat daardie dag nog ʼn plek van veiligheid benodig. Pleegsorg sal moontlik volg. Dit neem my en my man net ʼn paar minute om “ja” te sê. Ek het vinnig bietjie nagelees oor pleegsorg en inderhaas is die studeerkamer van ons tweeslaapkamer-plekkie in ʼn dogtertjiekamer omskep en met geleende beddegoed opgetof. Daar was geen twyfel in my hart nie. Die Here het haar vir ons bedoel. Sy het ons nodig en ons vir haar. En so teen vyfuur se kant was daar ʼn maer, skaam dogtertjie met hartseer ogies en dowwe haartjies in ons huis met haar besittings in swartsakke en haar glimlaggie skaam en dapper, maar dit raak nie aan haar ogies nie, merk ek dadelik op. Sy het pragtige ogies – blou, soos myne.

Daardie Sondag, moedersdag, is ek ook ʼn mamma. En hoewel ek uit my vel wou spring van opgewondenheid, was daar nie ʼn selfgemaakte moedersdagkaartjie en koffie in die bed daardie Sondagoggend nie, want hierdie mamma moes eers haar titel verdien. By ʼn dogtertjie wat op ses reeds baie meer moes beleef en sien as wat baie grootmense in flieks laat ril. ʼn Gewelddadige pa, dwelms, ʼn dramatiese gyselaarsdrama waaruit sy self moes ontsnap, Nigeriërs wat reeds vliegtuigkaartjies bekom het om haar Lagos toe te neem – vol dwelms gepomp sou sy waarskynlik een van die duisende kinderprostitute in dié land word. Blou-oog dogtertjies is in dié land ʼn delicacy. En sy verlang na haar eie mamma, wat ondanks haar eie tekortkominge en foute, gebroke haar bes gedoen het om die mensie te versorg en beskerm.

Sy is bang vir haar nuwe pappa – eintlik alle mans. Ons neem haar nie kwalik nie. Ek sit saans wanneer sy bad by haar op die vloer. Dit word ons geselstyd. Sy vertel van die swartes in hul huis. Sy ken hul name. Die wit gif wat mamma in klein sakkies in haar sak hou. Ons besef dat prioriteit nommer een is om hierdie dogtertjie veilig te laat voel. Ons praat met die familie, die skool, die kerk en vriende. Ons span ʼn laer van liefde en gesonde grense en bid.

Die eerste paar maande is maar taai. Sy is in graad een en reeds in haar derde skool vir die jaar. Van lees is daar nog nie sprake nie. Ons swoeg elke middag en aand deur die huiswerk. Plak die hele huis vol woordjies. Deel belonings uit. Lees stories. Tel karre en borde en blare.

Dit is drie maande later. Die haartjies blink en die wangetjies is pienk. Die laggie raak-raak al aan haar oë. En haar nuwe pappa mag haar al hoog in die lug gooi en help boomklim in die parkie. Sy sukkel met skuldgevoel, kom ons agter. Omdat dit vir haar lekker is by ons. Sy voel sy verraai haar mamma.

Ons is nog “tannie” en “oom”. Ons los haar en vertrou dit sal vanself kom. Praat maar net van pappa en mamma. Dit gaan goed by die skool. Prinses kry al vywe – ons is so trots!

ʼn Dapper vegtertjie  (Augustus 2013)

Ek dink niks daarvan toe die maatskaplike werker bel nie. Dit is ʼn winderige Augustus-dag. Ek verwag dit half – sy het gesê die hofsaak waartydens Prinses se pleegsorgbevel afgehandel sal word, kom nou die een of ander tyd voor. “Daar is ʼn dogtertjie in ʼn babahuis in Capital Park,” sê sy. “Agttien maande oud. In Steve Biko gelos met gebreekte beentjies; ma weg…. Nigeriërs…” die stem druis aan, maar ek kan niks hoor nie, want die trane stroom al klaar… “sien julle kans om haar te vat?” eindig sy. “Wanneer kan ons haar kom oplaai?” vra ek.

Die nuus versprei soos ʼn veldbrand by die werk. Nog voor ek kon wonder waar die kleintjie die aand gaan slaap, word my kantoor skielik gevul met pragtige kleertjies, doeke, wet wipes, bottels en babamelk, ʼn karstoeltjie, ʼn kampbedjie en selfs ʼn stootwaentjie. Die volgende middag stap ek by die babahuis uit met ʼn pragtige krulkopdogtertjie op die heup.

Nadat ek haar by die babahuis opgetel het, wou sy nie weer neergesit wees nie.  Sy glimlag nie, merk ek op, druk net kort-kort die koppie in my nek. Maar die ogies is wakker en kyk belangstellend rond. Bruin ogies… soos manlief s’n. Ons ry by die babahuis weg met ʼn pragtige krulkopdogtertjie. ʼn Klein fontein-poniestertjie op die kop. Een gehekelde kombersie, ʼn kliniekkaart en die kleertjies aan haar lyf.

Ons weet steeds nie veel van hierdie dapper klein vegtertjie se lewe voor die hospitaal nie. Ons weet die mamma is ʼn dwelmslaaf, die pappa onbekend. Ons weet net sy is op ongeveer 14 maande, met albei beentjies gebreek, deur ʼn barmhartige samaritaan by Steve Biko-hospitaal aangebring. Sy het ses weke in traksie gelê. Niemand het haar ooit kom soek nie. Toe sy ontslaan kon word, is maatskaplike dienste gebel en genadiglik het sy by die wonderlike babahuis in Capital Park geland. Daar het sy vinnig weer leer loop – gemotiveer deur die ander wikkelende lyfies in die huis. En nou is sy by ons.

Ons nuwe gesinnetjie beleef skielik ʼn paar groeipyne. Prinses is maar bietjie jaloers op Bokkie, maar hou tog daarvan om te help met die kleertjies uitkies en bad. Ons val in ʼn nuwe roetine. Saans is dit kosmaak, huiswerk, bad, wasgoed – ʼn wonderlike gejaagdheid en geraas waarmee net kindertjies ʼn huis kan vul.

O die goeie tyding  (Desember 2013)

Ons gaan kuier een aand by my hoogswanger vriendin sodat ek kan toesig hou dat sy uiteindelik haar hospitaaltas pak. Sy gooi my speels met ʼn oorblywende swangerskaptoets. “Ek gaan dit nie weer nodig kry nie,” sê sy. “Ek ook nie,” dink ek, maar druk dit in gedagte in my handsak.

Dit is 9 Desember 2013. Daar heers groot opgewondenheid in die huis oor die Kersvakansie. Ons is in ʼn goeie roetine en die jaar lê byna op sy rug. Die kinders sien vreeslik uit dat mamma en pappa nou klaar moet werk, want ons gaan plaas toe én see toe.

Ek gaan koop ʼn groter handsak wat sommer as strand- en doeksak kan dien tydens die vakansie. Dié aand pak ek my handsakinhoud oor in die nuwe sak en ontdek weer die toetsstokkie. “Wel, ek kan dit seker net sowel gebruik voor ek dit weggooi,” dink ek. Vir die eerste keer piepie ek op ʼn swangerskaptoets sonder enige verwagting. Soos die klammigheid versprei is daar ook, soos verwag een strepie en ek gooi dit dadelik in die asblik, haastig, want Bokkie roep uit haar kamer.

ʼn Paar minute later, besef ek vir die hoeveelste keer ek het al weer nie my blaas ordentlik laat leegloop nie. My oog val op die stokkie in die asblik. Ek tel dit op… Kan dit wees? Wat ʼn wrede grap dat ek nou ʼn foutiewe stokkie moet kry. Daar is dan ʼn dowwe tweede strepie!? Kan dit wees? “NEE!” waarsku my hart. “Dit is beslis ʼn fout,” maar die opgewondenheid kry tog die oorhand. Ek neem ʼn foto van die stokkie en stuur dit vir swanger vriendin met ʼn boodskap… “Raai wat..?”

Die volgende oggend vergesel sy en nog ʼn vriendin my na die patoloë. My huisdokter het gevra hulle moet dringend die uitslae stuur, maar dit is naderhand twaalfuur. Ek aanvaar dit is seker maar negatief. Dié dat hulle nie haastig is om te laat weet nie. Ek is in die werk se laslappiekoor en dit is minute voordat ons moet gaan sing toe die telefoon lui. “Sit jy?” vra sy. “Agge nee, ek het geweet,” sê ek. “Jy is swanger,” sê sy in trane. “Jy lieg!” sê ek. My mond hang oop van verbasing. Ek bel my man. My ma. My skoonma. Die gevoel in my bene is weg en die trane begin rol toe ek oomblikke later “O die goeie tyding!” op die verhoog sing. My kollegas loer onderlangs na my en huil saam toe ek die tyding deel.

Die volheidsgetal (Mei 2015)

Dit is Mei 2015. My derde moedersdag. Ons is terug van ons eerste gesinsvakansie af. Grotgekruip, trampolien gespring, piekniek gehou en dinosourusse bekyk. Ek en manlief is al meer as ʼn jaar nie meer “oom” en “tannie” nie. Bokkie is in die kleuterskool en die slimste in die klas en Prinses het vergeet wat die swartes se name was.

Daar is koffie in die bed en ʼn handgemaakte kaartjie met ʼn pers blom daarop. Want ek is nou ʼn mamma.

Liewe mamma
Geluk met moedersdag
Dankie dat jy my grootmaak en versorg
en onthou ek is lief vir jou
Dankie dat jy vir my alles gee wat ek vra en ʼn skool.
Dankie vir my speelgoed
en die goed in my kamer

Ek kyk terug en sê vandag dankie. Dankie dat God beter weet as ek. Dat God meer gee as waarvoor mens vra, maar op Sy tyd. God het tweetjies geneem en twee gegee en toe… ook ʼn derde. Drie. Die volheidsgetal. Die volmaakte getal. Soos Hy. Drie-enig. Drie dogtertjies in een jaar. Net om te wys. Niks is by God onmoontlik nie. Die wag is dalk moeilik; voel dikwels onmoontlik, maar tog elke oomblik werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Karma ·

Dit is nou regtig ‘n “Aww”-goedvoel-trane-in-die-oë en knop-in-die-keel artikel dié!

Blydskap ·

Sjoe sit ek sommer nou lekker en huil, self is ek al deur 5 miskrame, 2 spontaan en 3 D&C’s.

Mens kan aan niemand verduidelik hoe mens se hart voel, na so iets met mens gebeur nie, al die vrae en self verwyt, die waarom’s en hoekom’s?

Maar ek glo vas dat God op Sy tyd aan ons net die beste sal gee. God is groot en Sy goedheid is nimmer eindigend.

Ek is so bly dat God julle harte vervul het met alles wat julle nodig gehad het.

MCS ·

Sjoe, wat n mooi storie! Snot en trane! Het die selfde storie al soveel maal gesien waar mense sukkel om eie baba tehe en sodra hul n beter lewe gee aan n ander kindjie dan is God so genadig en gee hul, hul eie baba! God is good all the time, maar op se eie tyd!

Vrede ·

pragtig. God is so Groot. lekker gesit en huil. Ma geniet jou drie poplappe

charlene ·

Sit en ek huil snot en trane by die werk, die mense loer in en skud net my hand en hulle weet “sy is op ete en lees koerant”. Dis so `n ongelooflike mooi, hartseer, beautiful verhaal. Mag julle geseënd wees, geseënd bly en net geluk ken, julle het Prinses en Bokkie kon nie vir `n beter huis gevra het nie, nie vir beter ouers nie.
Nou bid ek net elke aand dat my vriendin een van die dae daai 2 strepies mag sien sodat sy ook vreugde kan ken. Mooi kyk na julle 3 engeltjies.

Ook Geseend ·

God is Goed!
Ons wat nou vir die eerste keer Mammas gaan word of al reeds Mammas is is werklik geseend.

Dankie Dankie Liewe Jesus!
Dankie dat U nooit ophou om ons te seen nie!

AltydHoop ·

Ek sukkel ook om swanger te raak en ken die hartseer en teleurgesteldheid tog maar te goed. Die hoop wat elke keer verbrokkel. Maar tog is daar steeds ‘n vlammetjie wat brand. Ek is self ook ‘n aangenome kind en ek verstaan die emosies van elke kant tog maar te goed.
God is inderdaad groot en Sy goedheid nimmereindigend. Hy gee vir ons op die regte tyd. Ons tyd is nie Sy tyd nie. “Beautiful things happen when God says it’s time.” Ons moet net glo en vertrou. Ons pad is lankal uitgelê. Ons is vrygekoop en verlos. Daar is nie ‘n groter liefde as dit nie.
Seën vir julle as familie!
Dankie dat

Juan-Marie ·

Dit voel of my hart uit my keel spring omdat ek myself in dieselfde geval vind. Ek gaan deur dieselfde hartseer waaroor jy in jou eerste gedeelte van jou verhaal vertel. My hart en siel is so hartseer van al die probeer en negitiewe toetsies elke keer. Na 5 jaar van probeer en verskillende behandeling nog geen geluk nie. Ja dit maak my so kwaad as almal vir my se die regte tyd is God se tyd maar terselfde tyd bevraagteken ek God. Jou verhaal help om bietjie hoop te gee en te besef dat DALK ek ook eendag n mamma kan en sal wees, maar dit maak nie minder seer nie. Dit is my droom van mamma wees wat soos kanker aan jou hart vreet en elke bietjie hoop saam sleep.

FireFly ·

Huil nou snot en trane agter my rekenaar by die werk….gelukkig is dit etenstyd en kon ek my deur toe maak! Wat ‘n wonderlike God het ons nie!!!!! Julle bewys weereens, bloed maak nie van jou ‘n ouer nie! Ek hoop Bokkie en Prinses speel lekker pop met hulle nuwe sussie :)

Snorkie ·

Sjoe, hoe wens ek ek kon net al die kinderlose vrouens vashou. Ek was self 41 voor ek die vreugde van ma wees kon hê. Wetenskap het vir my die vreugde gebring toe ek toelaat dat my geloof net bietjie opsy staan.

Sarie ·

Ek is ‘n geseënde vrou… Het 4 kinders, 9 kleinkinders & 12 agter-kleinkinders… God is voorwaar goed vir my… Ek vertrou dat Hý, julle wat ‘n eie kindjie begeer, se gebede sal verhoor…

Blessed ·

Alle eer aan Koning Jesus en hou moed aan die res wat self daardeur gaan!!!

THEA SWART ·

die trane die loop – ek het lanklaas so lekker gehuil soos nou baie baie dankie vir hierdie dit maak my dag vol – en ek se net dankie Heer vir ouers soos julle wat na stukkies hemel kan kyk want baie ander sien dit nie raak nie – sterkte en God seen

manda ·

Ons self het vir meer as 6 jaar gesukkel. Ook al so baie gevra maar hoekom kan ons dit nie ook kry nie. Baie hartseer beleef.
Na vele vrugbaarheids behandeling ens was ons laas jaar soos die jare tevore met vakansie en toe ons terug kom was dit huweliksherdenking herdenking. Op ons 7jaar herdenking kon ek vir my man n positiewe toets gee. Ek is nou 33 weke swanger en ons dogtertjie word verwag op 16 Mei.
Net gister het ek weer aan die huil gegaan net om daaraan te dink en hoe goed die Here vir ons is

Ella ·

Sjoe hoe tjank hierdie mamma so vroeg. Ons dien n fantastiese God. Baie geluk met jou 3 dogtertjies. Dit breuk my hart in stukke dat vrouens hulle kinders so kan laat verniel terwyl daar mammas is wat smag om daai armpies om hulle te voel. Vir die mammas wat sukkel baie sterkte en ek hoop en bid julle sal sommer binnekort ook daai armpies om julle nekke voel.

sammy ·

Ek lees jou storie en kry trane van my eie…. want ek lees amper my eie lewens verhaal…Met endometrioses stage 4 en vele IVT wat nie gewerk het besluit ek en manlief ook om op te hou en word ons pleegouers van ‘n pragtige 7 jarige seuntjie…. en ek is ‘n mamma… kan dit nie glo na 7 jaar se gewag. So pak ons en ry af see toe Desember…. ek voel skielik uitgesluit want papa en boeta doen als saam, ek voel met tye oorweldig en emosioneel maar dog dis maar net die jaar wat sy tol geeis het… Vir geen rede koop ek januarie ‘n swangerskap toets en siedaar…. ek is te bang om iemand te se…. se nie eers vir manlief maar gaan neem bloed en wag vir die bevestiging…. ek is swanger!!!

Breggie ·

Sjoe dis ‘n mooi verhaal. Ek en my man is self deur insemenasies , ons was in die proses om ‘n tweeling aan te neem en op 99 toe trek die ma kop uit. Ons het berus dat dit nie vir ons beskore was nie, maar elf jaar later en ek is 5 weke swanger. Ons is nou geseen met ‘n besige krulkop seuntjie wat die wêreld vir ons beteken.

Nikkie ·

Ai, dis soo mooi storie, ekt self nou die trane af gevee. Ek ken die gevoel maar ek moet sê dat God het my trane van hartseer na blydskap verander. Na 10 jaar se hartseer van negatiewe swangerskap toetse, negatiewe IFV’s en uiteindelik n gebroke huwelik, het die Here my gebede verhoor. Saam met my nuwe man het Hy my geseen met 2 pragtige seuntjies. Ek weet dis nie altyd maklik nie maar die Here voorsien op Sy tyd.

Helenke ·

Wat ‘n pragtige storie. Ek het ‘n knop in my keel. Prys die Here vir julle 3 engeltjies. Ons het self gesukkel vir amper 5 jaar, 3 inplantings en 3 miskrame. Dit was ‘n aaklig tyd wat ek nooit weer wil herhaal nie.. Ons het die vrugbaarheidsbehandeling gelos en die baba kamer verander in ‘n spaarkamer… 6 weke later toe sit die 2 ogies daar. Ons BAIE klein liefie lyf is 2 maande te vroeg gebore en dit was aaklig om te wag vir amper 6 weke voor ons lyfie uit NNICU uit was. … 10 maande later is sy boetie gebore. LoL. Toe sit ek met 2 prem babatjies. Wat ‘n “challange” en wat ‘n seëning terselfde tyd. 2 seuntjies wat 2 maande te vroeg gebore is en wat 10 maande verskil. 3 Jaar later het mamma ‘n beroerte gehad en mos dadelik my lewens styl aanpas, oefen, gewig verloor en meer ontspan…. wel … sy naam is Malan.. Nou het ons ‘n BESIGE huishouding met 3 seuntjies, 6, 5 en 2 jaar. 3 miskrame wat so hartseer was en nou 3 seuntjies. Ons sirkel is voltooi. Dankie Abba Vader.

Irma ·

Hoe pragtig is dit nie! Sit ek met n knop in my keel en huil dat die trane loop!

Ek is self ‘n aangenome kind en al het my ma my nie self ONDER haar hart gedra nie, dra sy my IN haar hart, elke oomblik van elke dag – selfs vir die amper dekade wat sy vir my gewag het, nog lank voor ek eers ‘n gedagte was.

Maak nie saak wat gebeur het nie, ek sou altyd hare gewees het…ons was vir mekaar bestem – reg van die begin af. Ons is dieselfde mens.

Uit my eie lewe en dié vir wie ek skoolhou is daar ‘n paar dinge wat ek wel weet:
Elke kind verdien ouers…maar nie elke ouer verdien ‘n kind nie. Pleegouers en aanneemouers is daardie kinders se toekoms en die ouers se drome.

Soms is daar omstandighede buite mens se beheer soos tienerswangerskappe ens. Die baba’s uit hierdie omstandighede veroorsaak kettingreaksies soos bv. lesse wat geleer word en baba’s/kinders wat bestem is vir die ouers wat al jare vir hulle vir hulle wag en die kinders weer vir die ouers wat hulle verdien.

Waar sou ek nie vandag gewees het as God nie namens my vir my so ‘n wonderlike ma gekies het nie?

Kyk gerus die fliek “Immediate family” met Glen Close as aanneemouer. Stokou fliek…maar pragtig.
In die fliek sê die mastskaplike werker: “Pregnancy is nature’s way. Adoption is God’s way.”

ANTOINETTE ·

ai loop die trane wat n moi verhaal wys ons weer eens net ons tyd is nie SY tyd nie ons bedien n GOD wat lewe en HY sal voorsien waneer HY dink die tyd is reg. Mag dai 3 engeltjies jul net bja vreugde bring en geniet hulle. GOD ID GOED

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.