As ouers Eli word

Ons-Vader-in-die-hemel

Argieffoto.

As ouers Eli word is ons samelewing in ʼn gemors. Ek wil dit sagter stel, maar ek kan nie. Wanneer ouers besluit om soos Eli te maak gaan ons ʼn krisis tegemoet.  ʼn Mens kan met baie dinge planne maak en vir baie uitdagings oplossings soek, maar hierdie saak is groter as poltiek, ekonomie, misdaad of allerhande ander verwarrende en uitdagende omstandighede. Baie van die uitdagings wat ons omring is in elk geval gewortel in Eli-ouers. Kyk, nie een van ons hou van kritiek op ons kinders nie. Enigeen wat by ʼn skool betrokke is, sal ook weet dat elke ouer se kind net duskant engel-status het.  Soos ouers soms aangaan, kan jy net wonder of daar nie nog merkies is waar engelvlerkies vas was nie.

Tog, as ouers Eli word is ons samelewing in ʼn gemors. As ons ʼn punt bereik waar ouers ʼn kind ʼn high-five gee as die kind met ʼn dissipline-brief by die huis kom, dan moet ons maar weet daar lê vir ons nog ʼn paar uitdagings voor in hierdie land van ons. Nog meer onstellend is as ʼn vader sy kind aanmoedig om ʼn ander kind se ego te breek sodat hy bietjie kan aarde toe kom. Kan jy so ʼn kind straf? Of skud jy jou kop in ongeloof omdat so ʼn vader sy kind aanmoedig tot selfgeregtigheid?

Ek staan eintlik dom oor hoe  ons ʼn samelewing moet hanteer waar vaders hul kinders aanmoedig hom egos van kinders te vernietig en moeders hulle doodlag wanneer hulle kinders oortree?  ʼn Vader deel my onlangs mee: “Ek moedig my kind aan om vir haarself op te staan en te veg. Ek moedig haar aan om wraak te neem as iemand haar irriteer.  Ek glo daarin om wraak te neem op mense wat jou irriteer.”

Sonder dat ek ook ʼn kans kan kry om so ʼn vader te antwoord, wonder ek:  hoe gaan so ʼn kind in die werksplek oorleef, ʼn taxi wat voor haar inry hanteer,  teenoor ʼn  andersdenkende  optree, iemand wat selfvoldaan is aarde toe bring? Ek sukkel om antwoorde daarop te vind as die pa sê:  “Neem wraak, breek hul ego’s.  Hulle het dit verdien.”  Moet ons ʼn punt bereik waar met elkeen gehandel word volgens verdienste?

Eli was ʼn vader wat baie lief was vir sy kinders.  So lief dat hy nie gereken het dit is nodig om hulle te tug nie.  Daarin het hy juis sy liefde vir hulle verloën, want ware liefde vermaan, wys tereg, leer en dissiplineer. Eli se seuns was twee deugniete (1 Samuel 2:12) wat gedoen het wat hulle wou. Eli het darem nie heeltemaal niks gedoen aan sy deugniet-seuns nie. Hy het darem vir hulle gevra waarom hulle hierdie dinge doen en vir hulle gesê dit is nie reg nie.  Maar hy het hulle laat begaan.  Ons ken die uiteinde van sy verkeerde liefde vir sy kinders.

As ouers Eli word, vermoor ons ons nageslag, baie meer as wat misdaad ooit kan doen. Ons steel van hulle, meer as wat ooit van ons gesteel kan word. Ouers word Eli as hulle die verkeerde dade van hul kinders regverdig, aanmoedig en selfs daarna goedpraat. Die gevolg is ʼn nageslag wat selfregverdiging met hand en tand verdedig.

Die gevolg is ʼn geslag wat hoogmoedig is omdat hulle enigiets kan doen en daarmee wegkom. Die gevolg is ʼn geslag wat grense verskuif, gesag uitdaag en laggend omgaan met dit wat heilig is. Die gevolg is ouers wat voortdurend moet bly regmaak waar kinders verbrou. Ag en laat ons maar eerlik wees, daar is ʼn massiewe verskil tussen kattekwaad en deugniet-gedrag.  Ons moenie maak asof dit so moelik is om te onderskei nie.

Ons bekommer ons oor jeug wat grense verskuif, gesag uitdaag, anders optree en vreemd kyk na dissipline – lê die fout dalk in ons Eli-ouers?

Eli-ouers sal eerder vir my as skrywer van hierdie rubriek stenig, maar hulle sal nie selfondersoek doen nie. As ouers Eli word, is ons samelewing in ʼn gemors.

 

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

FC ·

‘n Mooi preek maar dit kort so bietjie lyf. Die meeste ouers dissiplineer wel hulle kinders.
Een bydraende probleem lê egter dat daar by die skole geen voorbeeld en dissipline is nie. Onderwysers het (bietjie veralgemening) net nie meer die passie (en vak-kennis) wat ek gesien het toe ek op skool was nie. Dan is die leerplan ook van so aard dat Christelike waardes nie meer gehandhaaf word nie.
Ek onthou nog hoe Mev Camps my met soveel respek behandel het dat ek selfs Engels op skool geniet het. Niemand in die klas het hulle wangedra nie en ek kan nie onthou dat iemand ooit gedissiplineer hoef te word nie.
Deesdae word daar van die ouers word verwag om die werk van die onderwysers te doen as hulle na hulle lang werksdag by die huis kom. Dit alles dra by tot ‘n gesamentelike druk op die ouers en die kinders. Voeg daarby die negatiewe publisiteit wat die media bydra as een kind se agtervelle so bietjie gerangskik word, dan is die probleem baie meer kompleks as net ‘n ouer wat Eli nastreef.

Divvie ·

FC op jou kommentaar. Statestiek toon dat 10% van jou kind se dissipline by skool geleer word. 10% by die kerk en 80% by skool. Geen mens kan jou kind dissipline leer behalwe jy as ouer nie. Baie goeie artikel Maroela 11 uit 10 vir hom. Kort meer sulke artikels en minder ouers wat nie fout in hul huise raaksien nie. Die Bybel leer ons wat is ware liefde.

Frans ·

Baie dankie vir jou insig.Hoop meer mense lees dit.Hiermee my stuiwer in die armbeurs.

Dit is opmerklik dat hoe meer ouers hul self losmaak van God en sy gebod en dus grensloos en ongebonde begin lewe, kinders uit die aard van kind wees die grense al hoe verder skuif omsoende uit die Christelike invloedsfeer, wat as bekrompe ,ouderwets beskou word te ontsnap en binne ‘n grenslose samelewing hul ongebonde vryheid ,veral tov hul seksuele lewe,te geniet.

Een van Voltaire se gesegdes :’ If God did not exist, it would be necessary to invent Him.’

Frans ·

‘omsoende’ moet lees om sodoende.Dit is tog jammer dat daar nie ‘n wysig fasiliteit soos by Netwerk 24 is nie.

Frans ·

‘omsoende’ moet lees om sodoende’ jammer dat dar ‘n wysig fasiliteit is nie.

SkarrelKind ·

Frans, dit is ‘n baie wye stelling om te maak.

Daar is baie ouers, wat nie enige geloof aanhang nie, wie kinders met liefde, deernis en respek vir ander en die planeet groot gemaak word.

Dis soos die ou veralgemening dat net christelike instansies liefdadigheidwerk doen. Dis nonsens.

Daar is mense wat nie christene is nie, wie se kinders voorbeelding, intelligent en verdraagsaam teenoor ander is.

My vriendin is Muslim en haar 10 jaar oue dogtertjie het die mooiste maniere. Ek is so trots op daai kind al is ek nie ‘n Muslim nie.

Frans ·

‘omsoende’ moet lees om sodoende.Dit is tog jammer dat daar nie ‘n wysig fasiliteit soos by Netwerk 24 is nie.

SkarrelKind ·

Voltaire het ook gesê daie die christengeloof die belaglikste, absurdste en bloedigste geloog is wat die wêreld ooit ingeneem het. So wees versigtig met Voltaire, hy het baie teenstrydige goed kwyt geraak.

Frans ·

Skarrelkind

in jou aanhaling verwys hy na hoe sommige Christene hul geloof beoefen en die beoefening
loop dikwels skeef.Oor God praat hy die waarheid.

Miki ·

Ek het my seun in volle “vertroue” na ‘n 16de verjaardag viering laat gaan. Min wetende toe ek hom op ‘n “goeie” tyd om 11:00 gaan oplaai, gaan die ouers drank aan al die minderjariges verskaf het deur die aand, meeste dronk en om nie te praat van die losbandigheid wat ek gesien het nie. En dit op 16 al! Ek glo dit gebeur nog vroeer as 16. Nodeloos om te se, ek het die ouers ontbloot aan ander ouers wat min wetende was, sal nie noem hoe dit gedoen was nie. Ek sal nie stilbly nie! En ek hoop ek reg ten minste EEN kind wie se ouer dit ter harte neem.

Martin ·

Dankie Ds. Die gesprek laat my weer voel ek en my vrou is genadiglik nog op die regte pad.

Tascha ·

Dit is elke ouer se plig om sy kind na die beste van sy vermoë op te voed, en disipline is ‘n goeie maatstaaf waarvolgens ‘n kind kan besluit of sy aksies positiewe of negatiewe reaksies tot gevolg gaan hê. Wanneer ouers egter nie genoeg belangstel om vir hulle kinders nie net ‘n voorbeeld te wees nie maar hulle leer om te ‘baklei’ moet die waarskuwings ligte baie helder flikker. Kinders moet met liefde disiplineer word sodat hulle respek sal hê vir hul ouers vir ander maar meeste van alles vir hul-self. Die spreek woord lui ‘n pak op sy tyd is soos brood en konfyt.

Alida ·

ja, en leer sommer die jongelinge om op te hou om almal te ‘oom’ en ‘tannie’ wat nie bloedfamilie is nie. Kinders het geen respek nie.

Irene ·

Hi Alida, ek glo die ‘oom en tannie ‘ is deel van respek betoon. Anders moet hulle jou op jou naam, of jy en jou of dalk meneer en mevrou.. wat die gemoedelikheid wegneem . Ek waardeer die intensie van die jonges as hulle oom en tannie…dis deel van ons tradisie? Wonder of Eli sy kinders mooi maniere geleer het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.