ATKV-Tienertoneel slyp steeds nuwe talent

Tonele uit 'Die Joiner' (teks en regie deur Pieter Alberts) van Hoërskool Zwartkop wat in 2014 na die ATKV-Tienertoneelfinaal deurgedring het. Foto: Verskaf.

‘n Toneel uit ‘Die Joiner’ (teks en regie deur Pieter Alberts) van Hoërskool Zwartkop wat in 2014 na die ATKV-Tienertoneelfinaal deurgedring het. Foto: Verskaf.

Altesaam 180 toneelgroepe van oor die hele Suid-Afrika en Namibië neem vanjaar aan die ATKV-Tienertoneelfees deel.

Vanjaar is die 51ste jaar dat die kompetisie aangebied word. Groot name soos Anél Alexander, Christo Davids, Jacques Bessenger en Jak de Priester het almal hul talent op die verhoog by ATKV-Tienertoneel geslyp.

Pedro Kruger, een van die gasbeoordelaars, sê dit is fantasties om te sien dat die passie vir tienertoneel wat hy in sy skooljare beleef het steeds net so sterk is. “Die werk wat die ATKV doen om ʼn liefde vir toneel by die jeug te kweek is van onskatbare waarde, want dis ons spelers én gehore van môre,” aldus Pedro. Ira Blanckenberg en Hennie van Greunen sal as beoordelaars optree terwyl Cintaine Schutte en Pedro hulle op die laaste aand as gasbeoordelaars sal aansluit.

Die streekfeeste het reeds afgeskop en daar is wenners vir onder meer Bloemfontein, Potchefstroom en Port Elizabeth aangewys.

Die Pretoria-streekfees vind van 24 tot 29 Augustus plaas by die Unisa Little Theatre en die tienertoneelfinaal sal tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees van 6 tot 10 Oktober plaasvind. Die tien finaliste sal gedurende die eerste week van September ná afloop van al die streekfeeste aangekondig word.

Tydens die Pretoria-streekfees sal 22 toneelstukke van Maandag tot Vrydag meeding en die vier beste stukke sal Saterdagaand 29 Augustus weer opgevoer word. Die verrigtinge skop elke dag om 16:00 af en toegang is gratis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.