Baba se eerste lewensjaar: Wat elke nuwe ouer moet weet

Baba

Foto: Pixabay.com

Ek vind ouers is baie meer bewus van hul kinders se fisiese ontwikkelingsmylpale as die psigies-sosiale mylpale.

Die psigies-sosiale mylpale bepaal dikwels die baba se gedrag en indien ʼn ouer dit nie reg verstaan nie, kan die baba emosionele skade opdoen wat vir die res van sy lewe by hom kan bly.

Die baba moet tydens sy eerste lewensjaar leer om mense te vertrou. Veral tydens die eerste drie maande van sy lewe kan hy net behoeftes ten opsigte van die omgewing, kos, pyn en aanraking kommunikeer. Die enigste manier om dit te doen is deur te huil of te kerm.

Die baba kan gladnie tydens hierdie fase mense manipuleer nie, want hy het doodgewoon nie die vaardigheid daarvoor nie. Daarom is dit regtig skadelik wanneer daar nie aan die baba se behoeftes voldoen word nie en wanneer ʼn baba byvoorbeeld gelaat word om te huil totdat hy aan die slaap raak.

Sy behoeftes word nie bevredig nie en hy ontwikkel wantroue. Hy kan op een van drie maniere hierop reageer: deur harder te huil totdat hy uiteindelik gehoor word, deur op te hou huil omdat hy agterkom niemand hoor hom nie, of deur een of ander manier te vind waardeur hy homself kan “troos” en dus met heelwat minder aanraking van sy primêre versorger klaar te kom. Dit is die tipiese veg-, vlug- of vries-meganisme wat natuurlik deel is van die deel van die baba se brein wat op hierdie stadium al ontwikkel het.

Vanaf drie maande kan die baba met ʼn doel begin kommunikeer. Dit vorm die grondslag van oorsaak-en-gevolg denke, wat later in die baba se lewe help met die verstaan van die gevolge daarvan om reëls te oortree. Dus weereens ʼn baie belangrike mylpaal vir die baba. Hy moet kan agterkom dat sy optrede ʼn reaksie tot gevolg het, dat hy ʼn invloed op die wêreld kan uitoefen.

Uitdagings vir ouers tydens baba se eerste lewensjaar:

Hulle weet nie altyd wat die baba probeer kommunikeer nie en dit kan baie frustrerend wees. Dit is baie handig om te onthou dat die baba net boodskappe ten opsigte van sy versorging en welstand probeer kommunikeer, hy probeer jou nie manipuleer nie.

Hulle byt en knyp: Hulle is besig om te leer wat hul tande se funksie is en hoe mense reageer wanneer hulle gebyt word. Die beste manier is om die baba neer te sit die oomblik wanneer hy byt en duidelik (maar sonder agressie) te kommunikeer dat byt of knyp seermaak.

Hulle trek hare en druk hul vingers in jou oë en neus. Op hierdie ouderdom is hulle absoluut gefokus op gesigsuitdrukkings en boots dan ook die gesigsuitdrukkings van hul primêre versorgers na. Hulle sal net glimlag as ons vir hulle glimlag. Hulle is letterlik ʼn spieël van dit wat hulle waarneem, veral ten opsigte van oogkontak. Kyk gerus hoe jou baba sy kop beweeg om te kyk waar jy kyk. Hulle is dus op ʼn ontdekkingsreis en indien ons lag wanneer hulle ons hare trek, sal hulle dit weer en weer doen om die reaksie te toets. Maak dus seker dat jy ferm nee sê en dat jou gesigsuitdrukking wys dat jy seerkry. Sit die baba dadelik op die grond neer as hy op jou skoot gesit het, sodat hy kan weet dat die gedrag onaanvaarbaar is.

Dit is baie belangrik dat alle kommunikasie met jou baba sonder agressie geskied. Moenie jou baba terugbyt of sy hare trek nie. Hy moet oor en oor dieselfde boodkap te kry dat dit seer maak, sonder om vrees vir sy primêre versorger te ontwikkel.

Moet hom ook nie ignoreer wanneer jy hom neersit nie. Wag net ʼn klein rukkie sodat die baba kan verstaan dat jy nie onveilige gedrag gaan toelaat nie, maar laat weet dan vir die baba: “Ek sal jou weer optel, maar onthou jy mag nie mamma se hare trek nie, dit maak seer.” Herhaal die boodkap met geduld totdat die baba dit verstaan.

Onthou jou baba is op ʼn groot avontuur en ontdekkingstog van die dag wat hy gebore word en jy is sy gids.

Meer oor die skrywer: Karin Grobler

Karin Grobler is ʼn ma, ouer-opleier (parent coach), spelterapeut, pastorale berader, beroepsvrou en ʼn volgeling van Jesus Christus. Sy het in 2013 haar M-Phil graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Karin het ʼn produk ontwikkel wat sy Gevoelsmaatjies noem, wat ʼn handige hulpmiddel is om kinders te help om emosionele vaardighede aan te leer. Besoek gerus haar webwerf.

Deel van: Gesondheid, Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Zia ·

wow dankie

nog nie ‘n mamma nie maar het altyd kids bly my en ek sien hoe hul ma’s hul hanteer ek wens dat die berig in n tydskrif soos Sarie of huisgenoot kan gaan sodat almal wat dit moet lees dit kan lees,

El ·

Dankie, ek print dit reeds uit vir my vriendin wat onlangs ‘n baba gehad het… Ek het 2 tieners en die inligting sou 18 jaar gelede dalk ‘n groot verskil gemaak het…

Mamma ·

Sjoe Baie dankie vir die berig, My seuntjie is nou amper 10mnde en hy doen presies alles op die oomblik met my en net met my, Hy byt net vir my en ek weet dis die tande want almal kom op eenslag, En hy wil niks weet van n tande ring of iets nie ( Ek het juis gewonder hoe om dit te hanteer ) Want ek was bang hy begin dit dalk met sy maaitjies ook doen, Op die oomblik is dit net met my wat hy dit doen, Die hare trek is erg ek het al gedink ek wil dit met n nr 2 lemmetjie gaan af skeur en die neus trek en vinger in die oe druk en knyp in die gesig doen hy ook maar dis net met bed tyd, en so raak hy aan die slap.

Baie dankie vir die inligting

Nnn ·

Om n baba van 3 maande oud reg en verkeerd te probeer leer is bietjie vroeg. Laat hulle toe om te eksperimenteer en te leer. Hulle leer meer deur ondervinding en niks deur weg gehou te word van n ding af nie. Hulle wil alles wat hulle sien vat en voel en proe.

Jacques ·

Hmm ek dink drie maande is die regte tyd , gaan dit try met die laaste kind hehe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.