Baba wat 395 g by geboorte weeg gaan huis toe

Die klein Jazeel (Foto: Verskaf)

Die vier maande oue Jazeel Hlophe van Alberton het maar ʼn skrapse 395 g geweeg toe sy op 21 Junie op 25 weke vroeggebore is – maar nou is dié “piepklein wonderwerkie” byna gereed om huis toe te gaan.

Die klein Jazeel is al vir bykans 150 dae in die hospitaal waar sy daagliks “alle verwagtinge” oortref. Soveel dat sy waarskynlik ontslaan sal word die viering van Wêreldprematuurdag eerskomende Vrydag.

Dié dag word jaarliks gehou om bewusmaking oor vroeggebore babas en die gevare daarvan te bevorder. Die doel is ook om geld in te samel wat ouers wêreldwyd in sulke gevalle finansieel kan bystaan.

Helen Sauls, Jazeel se ma, is maar een van honderde duisende ma’s reg oor die wêreld wat dié pad gestap het. Sauls het aan swangerskap-geïnduseerde hipertensie gely wat daartoe gelei het dat haar kleinding 15 weke te vroeg gebore is.

Die klein Jazeel in haar ‘Wonder Woman’ pakkie (Foto: Verskaf)

Sauls het vertel sy is “baie opgewonde” om haar baba uiteindelik saam met haar huis toe te kan neem. “Sy is nou al in die hospitaal vir bykans 150 dae en sy het baie gewig in hierdie tyd opgetel en baie sterker geword. Sy weeg nou net meer as 2,2 kg en drink selfs ʼn hele bottel melk wanneer sy gevoed word,” het sy gesê.

Dr. Klaas Mnisi, ʼn neonatoloog van die Netcare Clinton-hospitaal in Alberton waar Jazeel gebore is, sê daar is nog geen navorsing oor vroeggeboortes soos dié van Jazeel nie omdat dit so seldsaam is dat ʼn baba wat in só ʼn vroeë stadium gebore is, aansterk. Hy sê sy het ʼn beter kans op oorlewing gehad te danke aan haar geslag.

Die klein Jazeel saam met dr. Mnisi (Foto: Verskaf)

“Sy is een van die kleinste vroeggebore babatjies waarvan ek nóg gehoor het. Toe die ginekoloog my ná die geboorte na die teater geroep het, was ons almal baie verbaas oor haar gewig. Navorsing het bewys dat vroeggebore dogtertjies in meer gevalle oorleef as vroeggebore seuntjies.”

Jazeel moes onder meer behandeling ontvang om haar maag en dermkanale voor te berei op voeding omdat dié groeiproses nog nie in die baarmoeder plaasgevind het nie.

Suster Anina Klut van die neonatale intensiewesorgeenheid sê Jazeel het al die verpleeg- en mediese personeel se harte verower. “Ons het nog nooit so ʼn klein babatjie in die eenheid gehad het nie en ons almal was geweldig besorgd oor haar. Sy het haarself bewys as ʼn regte ‘Wonder Woman’. Sy groei nog elke dag en kry baie liefde en omgee van haar ma.”

Die verpleegpersoneel het vandeesweek vir die klein Jazeel ʼn Wonder Woman-pakkie gemaak om haar laaste paar dae as ʼn klein vegtertjie in die hospitaal te vier.

Vir meer inligting oor die gesondheidsorg by die Netcare Clinton-hospitaal, besoek dié hospitaal se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

WonderWoman ·

Sy is beslis ‘n klein Wonderwerkie! My hart is so bly vir die ouers.

honourable member ·

Wat n wonderwerk. Is so bly vir die ouers die kindjie is gesond.

sonja coetzee ·

Klein Jazeel is omtrent n engel van bo en ek glo Mamma Helen gaan haar koester met al die liefde van die wereld.Mag die HemElse Vader baba Jazeel styf vas hou.

Ilonka ·

Dr Mnisi is amazing! Hys die beste ding wat met ons baba kon gebeur, hy en daardie fantastiese span “mammas” in die NICU. Dis nie ‘n lekker pad om te stap nie, maar dis goed om te weet ons wonderwerkies is in die beste hande! Baie bly vir die ouers dat hul wonderwerkie uiteindelik kan huis toe gaan.

Susanna ·

Dokter Mnisi is soos ‘n engel in ons midde. Welgedaan aan hom, sy span en baba Jazeel!!!

Suzette ·

God is GROOT!! Sy is so dierbaar en daardie ogies is baie wakker en dankie vir Dr Mnisi wat nie moed opgegee het met so ‘n lae geboortegewig nie. Hierdie is ‘n spesiale goedvoel storie.

Mariné Lourens ·

Dagsê Neilia

Dankie vir jou kommentaar. Jazeel Hlophe is op 25 weke van swangerskap gebore. Sy was dus 15 weke te vroeg gebore. Hoop dit klaar die verwarring op.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Robert ·

ai Neilia. jy behoort te weet geen baba kan op 25 weke te vroeg gebore word nie, die fetus is dan 15 weke oud. Gebruik maar net jou verstand dan sal jy kan aflei dis 15 weke te vroeg. My 2 ling is op 30 weke (20 jaar gelede) gebore en as daar toe tegnologie bestaan soos vandag sou altwee fine gewees het. Navorsing het groot spronge gemaak sodat kindertjie op selfs 24 weke nog deurgehaal word hedendaags.

Neilia ·

Wonderwerkie , maar weet nogsteeds nie MM is dit 25 w of 15 w te vroeg ?

Anneline L ·

Neilia
N vol termyn swangerskap is 40 weke. Kleinding is gebore op 25 weke van swangerskap. Dus 15 weke te vroeg. Met ander woorde 15 weke moes nog verloop om n die termyn van swangerskap (40 weke) te voltooi.

Hahahehehiehie tjietjie ·

Lekker lag ek nou, maar siestog Neilia, google dan maar eers hoe lank swangerskap gewoonlik is, dan kyk jy hoe lank en wat die 15 eintlik beteken. In kort, babatjie het nog ‘n hele 15 weke in die baarmoeder gekort om soos ‘n gewone babatjie gebore te word.

Me ·

Die berig is tog duidelik. OP 25 weke gebore, 15 weke te vroeg…..

Beslis ‘n klein wonderwerkie! Dis seker wonderlik om na so lank in die hospitaal finaal te mag huistoe gaan! Geniet haar!!

Spokie ·

Mag die klein mense groei en sterk raak. Hartseer dat nie alle hospital sulke moeites doen en hul pasiente help nie.

mandie ·

Jazeel is ‘n klein vegtertjie my hart gaan uit vir die ouers dis ‘n vreeslike pad om dag vir dag te loop. Dr Mnisi is ‘n engel van bo. hy het soveel passie vir sy werk en raak deel van mens se familie. ek het ‘n tweeling verwag. my dogtertjie was 800gram en my seuntjie 1.2kg. my dogtertjie was vir 2.5 maande in NICU en my seuntjie 1.5 maande. Clinton Hospitaal se verpleeg personeel by die NICU was uitstekend. Hulle staan mens so baie by. Sterkte vir Jazeel se ouers my hart gaan uit vir julle – dit raak beter!!! en mens bond uiteindelik na ‘n ruk met jou baba so ander mammas en pappas. Jazeel ons bid vir jou klein wonderwerkie xx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.