Balans in ’n deurmekaar wêreld

Die lewe is op sy kop. Alles is sommer net verkeerd en, wel, anders… Die wêreld se ekwilibrium is versteur. Hierdie virus het ons lewe totaal kom omvergooi.

Ons was toegesluit in ons huise, sonder fisiese interaksie van enige aard. Dit het ons almal op een of ander manier beïnvloed: finansieel, geestelik, fisies. Elke persoon wat nie meer kon werk nie of wie se salaris gesny is, het ʼn invloed op iemand anders se lewe en inkomste gehad, en daardie persoon se verlies aan inkomste of werk het weer op iemand anders se lewe ʼn invloed gehad, en so aan.

Die spreekwoordelike rimpeleffek het vir my so duidelik geword in hierdie tyd. Nie net het die verlies aan inkomste en werk die balans versteur nie, dit het ook in ons geestelike welstand dinge laat begin skeef trek. Ek is grootliks ʼn ekstrovert, maar ek geniet ook my alleentyd by die huis. Ek vermoed egter hierdie afsonderingsperiode, nou al langer as 100 dae, sal selfs die mees ekstreme introvert laat begin beplan aan ʼn partytjie.

Ons is sosiale wesens en dis vir my merkwaardig om te sien hoe mens letterlik begin smag na menslike kontak as dit jou ontneem word. Vriende en familie raak so waardevol soos goud. Om hulle op ʼn skerm te sien, is glad nie dieselfde nie. Ek wil hulle driedimensioneel kan sien, in persoon, en hulle liggaamstaal kan lees wat nie moontlik is op ʼn skerm nie. Ek wil aan hulle kan raak. Ek wil weet of hulle glimlag of nie. Ek wil hulle ʼn drukkie kan gee om oor te dra hoe vreeslik bly ek is om hulle weer te sien.

Maar ek kan nie. Die balans is weg. Dit gaan seker nog vir ʼn rukkie lank só wees. Wanneer en of die balans gaan terugkeer is nog glad nie duidelik nie.

Dalk was dit op ʼn manier tog nodig gewees. Die virus was ʼn gelykmaking soos nog nooit te vore nie. Hierdie versteuring van die ewewig was dalk juis nodig om dit wat reeds verwronge maar verbloem was, aan die lig te bring, sodat ons kan sien waar die ware balans regtig lê. Dis ʼn reset-knoppie.

Elke mens het sy eie balans. My balans lyk anders as joune. Maar uiteindelik moet ons almal in ekwilibrium saamleef, in hierdie wêreld.

Daar is baie onrus oor #BlackLivesMatter op die oomblik. Nóg ʼn balans wat versteur is. Die geskiedenis is ongelukkig vol balansversteurings. Dit het al by Adam en Eva in die tuin begin. Die mens het die vermoë om baie vinnig dit wat reg was, skeef te trek. Ek wil dit nie vir my kinders hê nie. Ek wil hê hulle moet ekwilibrium ervaar in hulle wêreld. Ek wil hê hulle moet leer wat die balans is waar alle lewens saak maak. Waar hulle in balans lewe met die natuur en almal om hulle. As kinders van God glo ek dis ons werk om in hierdie gebroke wêreld die balans te bring.

Ek wil hê my seuns moet leer by Adam en Eva: as hulle balans in hulle verhouding met God begin verbrokkel, begin die res van die wêreld ook skeeftrek. Ek bid dat hulle in hulle eie klein wêreldjie die klippie van balans en vrede sal gooi, sodat dit na enigiemand met wie hulle in aanraking kom, sal uitkring.

En wie weet waarheen hulle rimpeleffek sal strek ..? Dalk kan ons kinders se geslag die wêreld weer in ekwilibrium plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae