Basiese opvoeding: Elke kind se reg

onderwys-appel-pen-merkwerk

Argieffoto.

Deur Danielle Barfoot

Die reg op onderwys is ’n fundamentele mensereg. Ongelukkig, en ten spyte van dit waarvoor die jeug in 1976 so hard baklei het, en ten spyte van jaar-ná-jaar-verhogings vir onderwys in die regering se begroting, het alle kinders in Suid-Afrika steeds nie toegang tot gehalte basiese onderwys nie.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan se visie is dat alle Suid-Afrikaners teen 2030 universele toegang tot vroeëkinderopvoeding, hoëgehalteonderrig, en verdere onderwys en opleiding sal geniet. In ag genome dat baie skole vandag nog onder standaard presteer, nie die nodige hulpbronne het nie en dat onderwysers ongemotiveerd en swak ondersteun word, blyk dit egter net ’n droom te wees. Inteendeel, duisende kinders het nie eens toegang tot skole nie, terwyl duisende ander nie hul skoolopleiding voltooi nie, of nie werklik voorberei word om ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing te maak nie.

Onderwys word gekoppel aan alle ontwikkelingsdoelwitte, soos die ondersteuning van geslagsbemagtiging, verbetering van kinder- en moedergesondheid, bevegting van siektes en armoede, aanmoediging van ekonomiese groei en vredeskepping. Om te verseker dat dié doelwitte bereik word, moet ons hoofdoelwit wees om te verseker dat alle kinders toegang tot gehalte basiese onderrig het, met die fokus op geletterdheid en syfervaardigheid.

Waarom is geletterdheid en syfervaardigheid so belangrik?

Kinders wat nie leer om te lees, skryf en doeltreffend te kommunikeer op primêre vlak nie, is meer geneig om skool vroeg te verlaat, werkloos te wees, swakker emosionele en fisiese gesondheid te hê, en sal meer waarskynlik in armoede, of in die tronk, beland.

Swak geletterdheid en syfervaardigheid is gekoppel aan skool-/werkversuim, sosiale uitsluiting, alkohol- en dwelmmisbruik, verhoogde gesondheidsrisiko’s en aansienlik verlaagde lewenskanse. Die gevolglike impak is kinders wat generasie op generasie nie hul volle menslike potensiaal bereik nie.

Geletterdheid en syfervaardigheid, as ’n komponent van basiese onderwys en die grondslag vir lewenslange leer, is die sleutel tot die verhoging van menslike vermoëns. Dit bied nie net verreikende voordele vir individue nie, maar vir gesinne, gemeenskappe en die samelewing.

Swak basiese onderwys skend nie net elke kind se basiese menseregte nie; dit raak ons almal. Dit beïnvloed die ekonomie, dit belemmer persoonlike ontwikkeling, en dit ontneem mense van ’n ordentlike lewe. Deur die regte grondslag te lê, kan ons die weg baan vir geletterde en bemagtigde toekomstige generasies, en hulle in staat stel om hul volle potensiaal te ontsluit. Watter beter manier is daar om die nagedagtenis van dié wat die uiterste opoffering gemaak het vir gehalte onderrig, te vereer?

  • Hierdie artikel is deur Impaq Education (voorheen bekend as Impak Onderwysdiens) voorsien. By Impaq weet ons dat persoonlike groei en ontwikkeling ‘n belangrike deel van die opvoedkundige reis van enige kind is. Ons bied innoverende en toeganklike onderrigoplossings om leerders te help om vir die lewe in ‘n moderne samelewing voor te berei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hennie ·

Baie goeie artikel. Moet die fokus nie eerder op vermindering van geboortes wees nie? Die artikel noem dat as ons kindets nie kan lees of skryf nie, hul geneig is om vroeg uit die skool sisteem te val en werkloosheid hul grootste waarskeinlikheid sal wees. Ek stem saam hiermee.

Maar daar is mense wat goed opgelei is, mense met diplomas, sertifikate en grade, mense met vakleerlingskappe en baie ondervinding wat vandag by die huis sit! Soos tegnogie verbeter, so word werksgeleenthede herlwat minder! Is ons nie maar in elk geval besig om op n katastrofiese ramp af te peil nie?

IK ·

Ek verstaan dat verstandelike vermoë (IK) nie meer getoets word op skoolvlak. Hierdie diskriminasie om te aanvaar dat die prestasies van alle leerlinge dieselfde is veroorsaak dat kinders nie opleiding kry in rigtngs waarvoor hulle in staat is. Ons is op hierdie aarde geplaas om nogtans ten volle te presteer waarvoor ons in staat is. Is ek verkeerd dat daar eerder beroepsonderwys behoort te wees in die rigting(s) waar die kind se natuurlike aanleg dan ontwikkel en gestimuleer kan word? Vakkeuses deur leerders op skool is nie goed genoeg want daar is die hunkering om dokters, advokate ens. te word waartoe die leerling net doodeenvoudig nie in staat is wat dan lei tot verkeerde vakkeuses. Kortweg is ons plekkie op aarde om binne ons vermoë uit te blink.

Disselboom ·

“Vroeë kinderopvoeding” het in vervloë eeue dikwels tuis plaasgevind, met baie minder klem op kleuterskole, skoolgereedheidstoetsing, “Grade R” en wat nog alles. Dis egter nie so maklik om op groot skaal daarnatoe terug te keer as die samelewing en sy ekonomiese gewoontes nie aktief verander om dit vir ma’s moontlik te maak om die kinders groot te maak en ‘n huis te skep waar kinders speel-speel, maar ook geleidelik deur werkies en aktiwiteite in en om die huishouding, leer en ongestres deur assessering gereed kom vir skoolopleiding. Dit moet in elk geval beklemtoon word dat jong kinders baie moet speel: daar is nog baie tyd na 8 jaar oud of so of toetse en eksamens te moet doen. Baie van die probleme wat in die artikel beskryf word oor die algemeen, skree eintlik dat ‘n terugkeer na ‘n christelike samelewing met gesinslewe nodig is. Disselboom ploeg dalk met kallers wat êrens gelees is, maar ondersteun die gedagte dat daar ten eerste ‘n christelike gemeenskap moet wees, dan kan ons ons verder oor christelike skole bekommer – of so iets.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.